As ek sou sê dat ek en my ma 'n wonderlike vehouding gehad het, sou ek jok. Ma het my in elk geval geleer om nooit te jok nie. Daar was meer hoendertande en ingemaakte haankamme in ons koskaste as wat daar wonderlike oomblikke tussen my en my ma was. Boesemvriende was ons nooit.
Ons tweetjies was so ver van mekaar verwyderd soos die soom van 'n miniromp en die soom van 'n maksieromp. My ma het self my klere gemaak. Rokke met pofmoutjies en frilletjies. Die vonke het begin spat as die rokke aangepas moes word. Vuur en vlam.
Ek het op 'n stoel gestaan. Ongewapen. My ma het op haar knieë voor my gestaan. Sy was gewapen met 'n hele speldekussing vol spelde. Sy het die helfte van die spelde in die een hoek van haar mond gebêre, sy wou hê die soomlyn van my rok moes net bo die enkels sit. Ek wou gehad het die soomlyn moes net bo my polse sit. Sy was die enigste mens wat uit die een oop mondhoek 'n beter preek as ons pastoor kon afsteek. Dit terwyl sy tydelik my rok se soom vol spelde steek.
Soms het sy my heel toevallig raak gesteek ... Dit was heeltyd 'n kwessie van hier te lank en daar te kort. Nooit heeltemal reg nie. My ma het nie eers my naam geken nie. My sommer klein Merrie genoem.
Een middag het ek van die skool afgekom. Ek het botstil in my kamerdeur bly staan. My poppe was nie meer op my bed nie. My bed was omskep in een of ander Egiptiese landskap. Twee reuse bust-bodice het soos vier piramides op my bed getroon. Enorme goeters. Ek het op my bed afgestorm en die goed gegryp en dit in die gang gegooi. Ek het my deur hard toegeklap. Ek het nog frokkies gedra. Ek het gehoor hoe my broer in die gang giggel. Hy het later die moed met 'n tang wasgoedmandjie toe gedra. As ma haar sin gekry het, sou sy tot vir my onderrokke by my tennisrokke laat dra het. Sy wou my so graag in 'n boksie sit. Nes sywurms.
Na so 'n paar jaar was my rokke weer te lank. "Jy vee strate skoon, sonder betaling," het sy gesê. Sy het haar vetkryt-dik lippe so dun soos potloodlyne getrek.
Baie jare later het ek en my twee kleuters by my ma gaan kuier. Ma was al meer as tagtig jaar oud. Sy het pas haar seun verloor. Sommer skielik. Buttercup het vir my ma in die huis kom help. Ma't vertel dat haar seun twee weke tevore in die township vermoor is. Sommer net. Buttrercup het daar voor my gestaan. Haar oë was dof en sonder hoop. Sy het die trane van haar wange afgevee met haar voorskoot.
Ek is gou winkel toe. Toe ek terugkom het Buttercup en my ma langs die groengeverfde tafeltjie in ons kombuis gesit. Hulle het in stilte hulle pap geëet. Hulle seuns was nou net herinneringe. Kiekies op die sideboards. Dis al. Ma het opgekyk en gesê: "My kind, Buttercup kan nie werk as sy nie geëet het nie." Sy't met haar krom lyfie opgestaan en vir Buttercup wors en eiers in 'n wit bord geskep. Die prentjie van haar en Buttercup sal altyd in my hart wees.
Ek het omgedraai en uitgeloop. My romp se soom het net onder my knie gehang. Ma het skielik gesê: "My kind, nou lyk jy mooi. Nou's die soom reg. Ek het niks gesê nie. Ek het die varings in die tuin gesien. Onthou hoe my ma elke keer as ek verjaar het, fyn ruikertjies gemaak het en aan my skoolbaadjie se lapel vasgesteek het ...
Vir die eerste keer het ek regtig van my ma gehou. Dit was die heel laaste keer dat ek by haar in haar huis gekuier het.
Nou sien ek haar oë as ek in die spieël kyk. Ek hoor haar stem as ek praat. Sy is in my. Sal altyd deel van my wees. Ander sal haar in my sien. Sy sal altyd deel van my wees, al het ons some net een keer ontmoet ...
Wini Esterhuizen


