Hier by ons langs praat die mense mos nie van Suid-Afrika nie, nee, dis die Republiek. Die teerpaaie wat deesdae so reguit deurloop, het ook nie vir altyd bestaan nie. Daar was tye wat die mense van Suidwes eerder hulle karre op die trein gelaai het tot by Britstown en vandaar af die Republiek gekuier tot hulle dan weer by die terugkomslag weer die kar op die trein laai. Maar as ’n man dan nou meer in die Suide van ons land boer, dan is jy darem self ver weg van die spoorlyne af en al wat jy kan doen, is om grondpad te slaan doer na die Suide-grens toe. Met die karre uit doerie dae wat nie te vinnig was nie en jy in elk geval nie vinnig kon ry op die grondpaaie nie, was dit ’n hele trek gewees. Jou oorslaapplek moes jy versigtig kies en omdat almal maar baie arm was, was dit handig om familie en vriende op dorpe op die langpad af te hê waar jy kon gaan oog wys en ’n oorslaap maak.
Nou, Herman was ’n Suidwester in murg en been en het in die Kalahari se rooi duinsand grootgeword. Daar was nooit eers ’n kwessie nie, as hy klaar ge-“army” het, dan gaan hy plaas toe kom om vir Pa te kom help om ’n bestaan uit die plaas uit te veg. Eers het hy basies in Pretoria gedoen en toe verplaas hulle hom doer na Oudtshoorn se kant toe en daar, een aand met so ’n sokkiejol of ’n ding, daar ontmoet hy vir Annie en alles in die wêreld wat vir hom regop gestaan het en sin gemaak het, dié was nou omgekeer en deurmekaar. Daar was net een sekerte by hom, en dis dat hy dié meisie moet trou. Hy het na haar gevry soos g’n jonkman ook kan nie en eintlik was dit ook nie nodig nie, want Annie het dadelik gevrek oor die fris jong man doer vanuit die Kalahari uit. Al haar studies was vergete en toe hy vir haar vra om saam te gaan Kalahari toe, toe is sy soort van reg vir hom. Hulle is getroud en sy het saam met hom Kaliber toe getrek. Nie net vir hom nie, maar vir die hele ou kontrei het dié jonkvrou verstom met hoe vinnig sy by die plaas en sy mense aangepas het. Dit was maar warm en moeilik in die Kalahari met beste van tye, maar sy't nooit gekla nie.
Hier net voor Krismis die tweede jaar wat hulle al op die plaas is, toe besluit Herman om haar te beloon en hy stel haar in kennis dat hulle ry Kaap toe om vir haar familie te gaan kuier. Die groot blou oë het geblink en sy was baie opgewonde want dis die eerste keer wat sy haar mense weer sou sien na die troue. Hulle het die Chev. bakkie met sy houttralies gepak en gery met die duinepad tot net duskant Koes en toe daar volgegooi met petrol en sommer ’n kan agterop die bak ook volgemaak vir daar waar hulle dalk nie petrol kan kry nie. Hulle sit af met die pad doer na die hoofpad toe en toe draai hulle Keetmanshoop toe en kom daar by sy een niggie-hulle aan waar hulle die aand sou oorslaap. Dié is baie bly om hulle te sien en hulle sit daai aand so op die stoep en groet die son in die westekant en eet heerlik aan ’n potgebraaide hoender wat sy niggie vir hulle gemaak het. Wat dit so spesiaal gemaak het, is dat hulle mos maar heeldag en aldag bok- en karakoelvleis eet en hierdie is nou ’n groot verandering.
Daai volgende oggend vroeg in die donker is hulle uit Keetmans weg en hulle vorder fluks en is hulle redelik vroeg oor die grens by Vioolsdrif en doerie jare was daar mos nie die gedoe by die grense nie. Toe hulle daai bulte begin klim met die bakkie, toe gee Herman se maag so ’n grom en hy kry vir hulle stilhouplek sodat hulle die innerlike kan versterk. Hulle gasvrou van die vorige aand het, onder andere, vir hulle ’n heerlike gaar skaapnek ingesit vir padkos. Daar sit hulle en eet daai skaapnek tot sy beentjies kaal gesuig is en skiet die kaal bene so die vlaktes in, min wetende dat daai nekvleis die laaste stukkie boerevleis gaan wees wat hy vir ’n lang tyd in sy lyf gaan kry.
Doer by Klawer, daar stop hulle oor by een van Annie se kleinniggies. Die mense is vrééslik vriendelik en só bly dat Annie nog só goed kan lyk na twee jaar in die boendoes. Sy ’n Kaapse aster wat mos met ’n boer doer uit Suidwes gaan staan en trou het. Herman wonder wat dink hulle sou hy met haar wou maak? Hulle't sekerlik gedink hy't haar getrou om haar vir handearbeid te gebruik? Hy raak skurf vir die spul want hy's mos darem eintlik self ook net ooghare vir mense wat self Suidwesters is. Maar daar sit die vrou vir hulle ’n lekker hoenderpastei voor vir aandete. Daar is sulke groen blaartjies op die pastei en hy wonder nog vir wat, maar hy's honger, die kos is lekker en hulle eet, gesels en kuier.
Die annerdagmôre is hulle daar weg na Malmesbury se kant toe want hulle kan nie lank kuier nie, maar hulle maak ’n poging om ten minste vir almal te gaan groet. Nou was die paaie ook teerpaaie en die Chev. loop te lekker. In Malmesbury drink hulle koffie en eet beskuit en toe's dit met die groot pad Kaap toe. Met hulle mense van die Kalahari af in die grote Kaap met sy baie mense en verkeer, is dit mos maar ’n bleddie geneuk en dit smaak vir hom of elke hoeter wat iemand druk, vir hom persoonlik is, al hoet die ou van doer annerkant af. Dit voel vir Herman mos al of asof daai man ook bang is hy sal hom van hierdie kant af loop raakry! So het hulle darem aangekom by ’n suster van Annie en daar het hulle afgepak om te kuier. Dit was ongelooflik, maar vir die twee dae wat hulle daar gekuier het, al wat hulle te ete kry is hoender in die een of ander vorm en ook ’n ding wat ons daardie jare nog glad nie in Suidwes geken het nie. Hulle roep hom macaroni en dis sulke lang wit goedjies wat hulle met so ’n eiersous so half taai bak. Teen hierdie tyd het Herman al beginne voel of hy maagkrampe wil kry met die dat hy nie vleis inkry nie!
By Robertson se wêreld, daar kry hulle vir skoonma-hulle wat baie bly is om hulle dogter weer te sien. Hy soek en hy kyk, maar hy sien nie ’n enkele skaap op daai hele Kaapse plaas nie. Mens kan jou knuppeldik eet aan druiwe, appels en pere, maar dan verder voer hulle jou net vis. Dis vis van alle soorte. Een slag braai hulle die snoek en dan smoor hulle hom met rys. Vir die laaste aand nogal, toe haal skoonma uit en maak vir hulle lekker hoender en pak nogal ewe daai aand die boudjies in vir hulle vir padkos die volgende oggend. Hulle is toe daar weg rigting Bloemfontein waar nog ’n suster bly en doer by Colesberg, laat maak hy ’n band wat stadig lek sommer reg en toe hy by die dorp so wil uitry, sien hy ’n slaghuis en hy besluit daar en dan dat hy vir hom ’n lekker stuk boerewors gaan koop om langs die pad te braai.
Die man van die slaghuis sê toe hy het lekker wors en hy wys die wors vir hom en die lyk nie te sleg nie. Hy skoon lus om die wit stukke vet wat so deur die wors se derm skyn, sommer so rou te eet. Hy koop die wors en hulle vat die pad. Teen sononder stop hulle langs die pad by ’n lekker plek en hy slaat ’n vuur aan die gang en beginne die wors braai, maar hy kan sien dat die wors nie wil lyf kry soos wat hy gewoond is nie en sommer so deur die rooster se blokkies voel die wors ook nie vir hom te lekker nie. Annie sê naderhand vir hom om die wors af te haal en hy laat haar proe en sy is in ekstase en sê dis die lekkerste van lekker hoenderworse wat sy nog geproe het! Hier sit hy en knibbel aan daai hoenderwors en nou's hy darem baie ver weg van sy wêreld af en sy lyf pyn al behoorlik vir ’n stukkie karakoelvleis ...
In Bloemfontein braai die mense ook net hoender en koop nog so ’n paar dinge in die groot winkels in Bloemfontein, maar nou beginne die wêreld darem vir hom baie nou raak. Dis mos dan ook net ons land wat ’n man se verlange so kan trek, dan nie? Ons weet mos wat het ons aan ons land. Jou blyplek. Hy's al so bietjie moeg gekuier aan al die nuwe dinge rondom hom en die mense daar gesels ook mos oor anner dinge as onse eie mense. Daai nag toe hol hulle reguit deur Upington toe en vroegoggend seg hy vir Annie hulle moet maar ontbyt koop daar by ’n kafee. Die eienaar nooi hulle hartlik in om te kom sit en bestel en Herman bestel vir hom lekker steak en eiers, maar toe's die man baie apologeties en vra om verskoning vir hulle warm wêreld en sy yskasgoete wat gevrek het en sy vars vleis wat nou nie meer so vars is nie en hy kry eers weer die volgende dag sy nuwe aflewering vars vleis.
Daar sit en eet hy toe sommer vier gekookte eiers. Selfs die brood smaak lekkerder as enige ander bykos selfs al is dit hierdie bakkersbrood wat mos so dun is as jy hom so optel en teen die son kyk, kan jy dit sweerlik gebruik vir ’n sonbril! Maar hulle maak klaar, koop nog ’n brood en smeergoed en toe laat waai hy op die grondpad huis toe want hy's haastig en wil by die huis kom. Sommer net hier anderkant Karasburg loop hy hom mos in ’n papwiel vas en toe roei en stoei hy ook nog met die moere van daai wiel en draai hy die een moer nog af ook. Maar hy moes maar daarmee maak en hulle trek deur die nag en die volgende oggend so met sonsopkoms, loop hulle Koës binne. Daar doen hulle eers dorpsake voor hulle die pad uit plaas toe vat.
Op die plaas het hulle die werksmense almal gegroet en hy sê toe vir sy manne om vir hom ’n hamel te vang en te bring sodat hulle kan slag en dis so met die harslag in gedagte vir die aand se ete sodat hy net vir ’n slag weer ordentlike kos in sy lyf kan kry. So sny hulle die harslag uit en hy is nog besig om die niertjies daar reg te maak, die lewer en so aan sodat die vrou dit in die pot kan kry, toe roep sy doer van die kombuis se kant af en sê dat as hy nie nou kom eet nie, gaan die roereier wat sy gemaak het, koud en hard word! Man seg hy, ek het nog nooit skei in my gedagtes gehad nie, maar op daai oomblik was moord die eintlike gedagte gewees!
Namib


