Mammie se testament was eenvoudig. Sy het gesê dat Dad alles moet kry. Dat ons hom moet help omdat hy maar gaan sukkel sonder haar, omdat sy alles vir hom gedoen het. Sy’t ook gesê dat sy nie begrawe wil word nie omdat sy nie kans sien daarvoor om onder 'n klip te loop lê wat niemand vir ewig kan oppas nie. Die opdrag was eenvoudig: Veras my en strooi my as saam met 'n rooi blom in die see by Victoriabaai.
Die oggend na Mammie se dood het ek George toe gevlieg. Daar geland, sien ek vir die eerste keer in my lewe hoe Dad huil. Ongelooflik!! Dertig jaar het ek geglo dat hy ongevoelig was, want hy het meesal gelag of gegiggel. Nooit gehuil nie. Dit was hoe seuntjies daai tyd grootgemaak is – as jy huil is jy 'n sissie! Op die oggend na Mammie se dood word Dad toe 'n sissie en daarna het hy een gebly, want hy het ineengestort en kon nooit werklik weer opstaan nie. Hy het vir 26 jaar nog gelewe, maar hy was emosioneel totaal afhanklik, want die pilaar van sy hart was weg.
Ek het die moeilike taak gehad om hom te gaan help om die meubels en goeters in die huis uit te sorteer en van die goed ontslae te raak. Soos die familie maar is, het hulle flink gebel en emosionele kleims afgesteek op die nuwe sitkamerstel en die yskas en die eetkamerstel. Tannie Lou het vir Dad goed geken en het geweet dat hy maklik is om emosioneel af te pers. So was dit dan ook dat ons – ek en hy – uiteindelik met al die emosionele stront gesit het wat niemand enige waarde aan geheg het nie. Die bank waarop Mammie so lank gelê en bid het vir verligting van die pyn het ons uiteindelik verniet weggegee saam met baie ander goed. Daar was 'n magdom goetertjies wat niemand wou hê nie, soos die koekblik met die draad en die tangetjie en die sy-lappies wat Mammie in die hospitaal gebruik het om blommetjies te maak vir die ander pasiënte. Hierdie klein goedjies het ons in 'n klein blikhuisie in die agterplaas gestoor sodat dit uit die pad van die nuwe huurders kon wees.
Toe die huis klaar opgepak is, het nog net een takie oorgebly. Ons moes die as gaan strooi. Ons het gewag en uitgestel, want dit moet 'n mooi dag wees. 'n Helder sonskyndag, soos die dae waarvan Mammie altyd in haar briefies vertel het. 'n Hemelblou dag met baie wit, vér wolke oor die diepblou see. So 'n dag sou die perfekte dag wees. So het ons uitgestel en uitgestel terwyl ons uiteindelik ferm verneem het: George laat jou nie die weer bestel nie. Die dae was grou en die berg het vir goed drie weke onder die mis en reën weggekruip. Die laaste dag was presies dieselfde, maar daar was geen keer nie. Ons moes die ding doen, want ons moes terug Transvaal toe. Om die kersie op die koek te sit, was dit nog my verjaarsdag ook.
Ons het Mammie se as by AVBOB loop haal, en toe begin ons blomme soek. 'n Rooi blom, 'n roos as dit kan. Ontnugter verneem ons dat daar nêrens in George 'n enkele rooi roos te koop is nie, want alles is in ruikers gesit oor daar troukoors in die dorp was. Die dorp het ons platgery, gesmeek, gebedel. Niks.
Toe onthou ek skielik Mammie se koekblik, saam met die goetertjies in die blikhuisie in die agterplaas van die leë huis. Ons ry daarheen en soek en kry een rooi blom wat mammie self gemaak het. Teen dié tyd het ou Dad niks meer kon praat sonder om te huil nie. Ek was ook maar stil oor die donkerte van die wolke wat oor die Suid-Kaap gehang het. Erg bedruk ry ons na die donkerste Victoriabaai wat ek nog ooit gesien het. Ons klim uit, trek ons jasse aan en loop na die punt toe waar Mammie en Dad altyd gaan sit het en waar sy altyd briefies vandaan geskryf het.
Ek begin om die kartonboksie, waarin die as was, oop te maak en 'n universe van gedagtes flits deur my kop.
Ek wonder oor die ou man wat langs my staan
en ek wonder hoekom
en ek wonder hoe lank nog
en ek wonder of ek die as ooit onder my naels gaan uitkry
en ek wonder oor die geluid wat ek gehoor het toe die as en die blom die water tref
en ek wonder hoekom ek skielik so warm kry ...
Ek kyk op en sien 'n groot opening in die wolke. Die son skyn helder en warm daardeur en verlig die see en die rotse – net op Victoriabaai alleen. Die res is steeds in donkerte gehul. Van die res kan ek nie veel onthou nie. Ek weet ek het 'n warmte van binne ook gevoel. Vrede soos nooit tevore. Ek weet ook dat, toe ek in die truspieëltjie kyk met die wegry, toe was alles weer donker. Dalk moet mens liewer nie terugkyk, soos Lot se vrou gemaak het nie.
Dad se as is ook al daar. Amper 'n jaar al.
Dié dag was dit ek en my sus Rien en haar dogter Nadia wat dit gaan strooi het. Dit was 'n wonderlike dag. Helder en oop. Ons het regte blomme gekry. Rose. Vroegtydig. Oranje vir Dad en rooi vir Mammie. Ons het die as gestrooi en die blomme agterna diep agter die rotse ingegooi. Almal behalwe twee rose is oop see toe. 'n Rooie en 'n oranje roos se blare het aanmekaar vasgehaak en saam-saam teruggedryf tussen die rotse in.

Ai ai ai ai ai ai ai ... Ai, ek wens ek was nou daar.
Lucas Maree


