Liewe almal wat lees en goeiedag ook vir die wat wil bypass na die volgende brief toe, (hopelik KdK, he-heh, hy sal julle heidense koppe uitsort …) Bypass nou dat ons kan aangaan. Okay, julle nog hier? Fyn.
Hoë IK is ’n volslae pyn in die gat. As baba is jy hiper-gefrustreerd oor alles want jy kyk na mense se Third Eye, die sentrum van kommunikasie tussen heldersiende volwassenes en heldersiende babas, en die dom (lees normale) grootmense kyk in jou oë en sê “Koetsjie koe, hoe pragtig tog … en verstaan niks van wat jy so desperaat wil oordra nie. Dan los jy ’n wind en plotz in jou Pampers, uit pure spite, sodat die dom (lees normale) vrou wat jou ma is, wat jy gekies het om jou ma te wees om een of ander obskure Karma af te werk, jou gousblomgeel boude moet gaan skoonmaak, want dis nou weer haar karma omdat sy ’n Middeleeuse landheer was en mense se honger kinders op die velde laat werk het en in onsinnige oorloë ingestuur het.
In jou kop weet jy jy kan baie dinge al doen, maar jy kan nie loop of praat nie! Daarom wikkel jy rond en gooi jou toys uit jou cot en slaap, want wat anders kan jy doen? O, jy kan grootword, en dan gaan dit so: My dogter Yvette het op vierjarige ouderdom totaal uitgehaak en ’n monsterkind vanuit die poorte van die hel geword. Sielkundige toe, en hy lag. “Mevrou, die NSAIS kan nie haar IK meet nie, ek vermoed dit is bokant 160, sê hy.
Nou wat?” vra ek en die Pater. “Nou leer julle haar lees, want sy het ’n verstandsouderdom van 9 jaar en 7 maande vasgevang in ’n vierjarige liggaam.” So leer ons haar lees, met Glenn Doman se metode, en dae en nagte verander in letters en woorde. Twee weke later ploeg die klein rooikop krulkop doelgerig deur al die leesstof, Afrikaans en Engels, in die huis, en skree vir nog. Ons tref die Bloemfonteinse biblioteek. Toe ’n bibliotekaresse huiwerig vra of sy nie liewers in die kinderbib wil gaan sit op die mooi matjie nie, blits die bruin oë en elke sproet wip op en af. “Daar, ek is op pad soontoe,” sê sy en kyk die vrou aan asof sy in formalien gebottel behoort te word. Waar? Naslaanbib toe.
Vandag is sy ’n pragtige mens, in ’n uitstekende beroep, maar as ons haar gelos het destyds, was sy ’n aarts-krimineel. Haar skrikwekkende hoë IK kom handig te pas in haar kunstenaars- en vermaaklikheids- / media-beroep, en ek is dankbaar dat sy dit kon kry – en hanteer.
Maar nader aan die huis – ’n hoë IK is ’n erge pyn in die gat. En ek brag nie, verstaan goed, ek het al te veel gely. Ek weet dit. Veral as jy ’n vroumens is. Moenie dink jy kan ’n normale gesprek met iemand voer oor ’n interessante onderwerp nie. Ander vrouens beskou jou onmiddellik as ’n bedreiging, al lyk jy soos die agterkant van ’n bus, want jy weet waarvan mense praat en kan saampraat oor enige onderwerp, enige plek, met gesag, en soms humor ook. Jy word uitgekryt deur pikdom vroulike luitenante met pienk eyeshadow bokant bleekblou oë dat jy maak asof jy alles weet, en as ’n bekkige majoor dan sê “maar sy weet alles,” word jy kanonvoer vir altyd. Dit grief my onmenslik om my bek te hou as ek in ’n gemengde geselskap is en ’n vroumens maak ’n sotlike stelling wat ek weet verkeerd is, om oulik te lyk, maar ek mag niks sê nie, want dan skop die ou “beterweterige” ding weer in. Hoekom swaai die dingetjie maar nie net haar boude en kry so die jongeling se aandag nie, hoekom probeer sy ademlose stellings maak oor iets wat sy gehoor het, maar niks van af weet nie, of oor algemene kennis, sy kan mos maar net haar boezems wat al klaar uithang, bietjie meer laat Brrrrr … en as hy val daarvoor, is hy in elk geval nie die moeite werd om ’n sinvolle gesprek mee aan te knoop nie.
Wel, tot hier toe en nie verder nie. Goddank dat ek in my lewe ’n man het wat al 40 jaar lank met gesag saampraat oor alles. Mense kan hulleself nou maar wip. Soos nou die dag. Bright spark, leer iets. Seal se vrou se naam is Heidi. Heidi Klum. Sy is wit. En hy het lupus, hy het nie so gebrand nie. Nou weet jy ook.
Weet tog, almal wat ’n hoë IK het, is nie altyd besig om dit te probeer wys nie. Hoekom moet mens dit wegsteek sodat die onderbedeeldes nie hulle kollektiewe guavas wip nie? Ons weet. Ons lees. Ons luister stilweg en leer. Ons het edeitiese geheues, (gaan Google dit) ons suig inligting op soos ’n spons, en dit bly daar vir altyd. Ons wil nie altyd jou thunder steel nie, pop, jy kan met groot liefde jou personal space en jou horde aanhangers geniet, maar as die een met breins wat jy soek, weg-gravitate na ’n groep mense met ’n gryskop ou antie in omdat hy iets gehoor het wat interessanter klink as jou bibberende bazookas en onnooslike opmerkings, kry vir jou. Ek wou altyd nog net weet wat in ’n mens se cerebellum aangaan, ongeag sy of haar ouderdom. Jy kan maar sy epidydimus soos ’n halssnoer om jou nek draai!
Julle weet, dis so helse bevrydend om skielik sestig te wees. Weg is mediocrity. Weg is konvensies, weg is beredeneerde beleefdheid om andere se gevoelens te spaar terwyl hulle fokol vir jou voel. Been there, done that, got the scars to prove it. Die lewe is ’n lied, elke dag ’n bonus, (moenie my oordeel nie, my hoogheilige vriend, iewers is daar ’n goeie cause waaraan jy kan gaan werk, tsamaya hantle, gijima!) en as die desibels te hoog is, druk pluisies in jou ore of gaan weg van my stoep af. Maak julle klaar vir ’n Sê-ride wat jou uit jou Blahnik-skoene gaan blaas. Slaat wyd ope die tentdoeke, suster Anna, ek voel dis die dood wat kom … maar voor daardie tyd gaan julle julle uit julle bootse uit lag en soms so hewiglik vererg dat julle soos guppies gaan lyk soos julle oë uitpop … so wees maar versigtig wat jy skryf, skat, ek sny jou immer skerp tongetjie in repe en vleg dit soos ’n Orania-koeksister!
Dans die Danse Macabre saam, al julle mooi mense!
Leandré xxx


