
Ons reis om Afrika verloop nog volgens plan en ons het tot by die grens tussen Angola en die DRK gevorder. Afrika en sy grille het ons hiér die eerste keer voluit getref. Nadat ons vir 2 dae op die mees onbegaanbare pad tot by Soyo op die noord-westelike grens van Angola met die DRK gevorder het, is ons meegedeel dat die veerbootdiens na Cabinda afgeskaf is. Die enigste keuse was toe om terug te gaan en met ’n ewe onbegaanbare pad na Matadi te ry waar ons ’n 24-uur transitovisum vir die DRK by die grens sou kry om net deur die DRK te ry na die Kongo waarvoor ons ’n visum het. Daar aangekom na 2 dae se slegte paaie arriveer ons uiteindelik by die Matadi grenspos. Nadat ons reeds deur die Angola grenspos is weier die DRK toe om vir ons ’n transitovisum te gee! Ons kan toe nie terug in Angola nie omdat ons slegs ’n enkel-binnekoms visum vir Angola het en bevind ons ons toe in die stukkie niemandsland tussen die twee lande.
Gelukkig was daar selfoonontvangs en het ons toe met die Suid-Afrikaanse ambassade in Kinshasa gekontak om die sakie te beredder. Na twee dae se bemiddeling deel die ambassade ons mee dat die enigste oplossing is om terug te gaan na Luanda en aansoek te doen vir ’n formele visum by die DRK se ambassade, aangesien die DRK besluit het om voortaan nie meer transitovisums by die grens uit te reik nie omdat dit te ’n groot sekuriteitsrisiko vir hulle geraak het. Ons is toe met dieselfde verskrikking van ’n pad terug na Luanda. Hier moes ons eers ’n brief by die Suid-Afrikaanse ambassade kry om te bevestig dat ons nie voortvlugtende kriminele is nie, voordat die DRK ons aansoek sou oorweeg. Uiteindelik na 900 km en 5 dae op die slegste paaie denkbaar en twee dae in kwarantyn by die Angola/DRK grenspos het ons om 18:15 op Vrydagaand 28 Mei triomfantelik met ons DRK visums uit die DRK se ambassade gestap.
Een van die voertuie het ’n skokbreker gebreek in die proses en ons het besluit om Saterdag 29 Mei te gebruik om dié probleem op te los en sommer ook na die Super 14-eindstryd op televisie te kyk. Ons “plak” by vriende van een van ons reisgenote in Luanda wat vir ’n groot raadgewende ingenieursfirma werk. Hulle hulp en kennis van die omgewing maak dinge heelwat makliker!
Tot dusvêr het ons reeds meer as 8 000 km afgelê vandat ons uit Knysna weg is. Die voertuie gedra hulle baie goed en behalwe klein meganiese probleempies (wat ons self kon hanteer) is alles onder beheer. Die gebreekte skokbreker was tot dusvêr die enigste groot probleem maar aangesien ons ons in Luanda bevind is dit maklik oplosbaar. Die voertuie bestaan uit 5 Toyotas en een Land Rover. Ons het twee boere in die groep en hulle vermoë om meganiese probleme raak te diagnoseer en op te los is van onskatbare waarde. Ek is van mening dat ’n mens nog sonder ’n dokter in jou groep deur Afrika kan reis maar beslis nie sonder ’n boer nie!
Angola was vir ons ’n verrassing aangesien die land besig is om die skade van die oorlog af te skud en in ’n welvarende land te ontwikkel. Luanda lyk soos Dubai aangesien daar letterlik honderde geboue opgaan en daar oral konstruksiewerk aan die gang is. Die verkeer in Luanda is afgryslik en ek sal nooit weer kla oor die verkeer in Suid-Afrika nie. Daar is somtyds tot 5 bane met voertuie op ’n gewone dubbelbaan pad en verkeersreëls bestaan omtrent glad nie. Tog word niemand opgewonde of kwaad vir mekaar nie!
Die foto hieronder is in Lubango geneem van die Lebo-pas wat werklik iets besonders is om te aanskou. Aan die onderkant van die pas is ’n mark waar ons heerlike bokribbetjies, kremetart-pitte en bier geniet het – bedien deur die vriendelikste mense denkbaar!

Terwyl ons tussen die twee grensposte vasgevang was, het ons tyd gekry vir ’n bietjie wasgoed was en algemene reorganisasie. Op die foto kan die Kongo-rivier in die agtergrond gesien word.

Ons vertrek op Sondag 30 Mei verder noord deur die DRK na Brazzaville in die Kongo. Vandaar reis ons deur Gaboen en Kameroen waar ons hopelik weer ’n geleentheid sal kry om van ons te laat hoor - dis nou te sê as ons ’n internetkafee kan raakloop wat goed funksioneer.
Groetnis,
Thomas
(Ek's jaloers Thomas! Webvoet)