Ek lees dat die meerderheid kindertjies in hierdie land van ons nie eintlik kan lees nie.
Daar is ’n skreiende tekort aan leesstof beskikbaar veral vir die plattelandse kinders.
Ek behoort aan ’n boekklub en ons dames het besluit "one person can make a difference" en ons het woord by daad gevoeg.
Ons het gebedel, gedreig, mooi gepraat en ’n hele R2000 ingesamel vir boeke. Probleem nommer een: die prys van gedrukte leesstof. Ons kan net soveel boeke bekostig en dit gaan nie eers naastenby genoeg wees nie.
Probleem nommer twee: wie gaan die boeke kry? Die plaaslike "model C"-skool bedien ’n laer middelklas-gebied en toe ons gaan kyk sien ons dat die meerderheid kinders swart is en dat die biblioteek as ’n mens dit so kan noem, net nie voldoende is nie.
Die skoonmaker by die werk noem ’n skool in die platteland wat glad nie boeke of ’n bib het nie en dié een word toe ons ander projek.
Maar soos genoem, geld gaan nie baie ver nie. Ons besoek toe al wat ’n tweedehandse boekwinkel, ons gaan na elke kermis, en weereens bedel ons, beding pryse en die voorraad groei vinnig aan.
Die plaaslike skool is verheug en bedank ons met koek en tee. Die plattelandse skool is 'n probleem. Maar boer maak ’n plan en iemand se neef, se oom, se tante, se familielid besit ’n taxi, en daar gaan ons vrag boeke.
Ek kry ’n briefie terug wat lui: "we are unable to thank you for your kindness and your generosity. our children are blest".
Nie net die kindertjies is 'blest' – ons ook! Ek het nou lanklaas so hard gewerk en myself so geniet. Volgende jaar doen ons dit weer.
Anon


