Bokomo-brekfisbrief; 09/11/2010: Die weirdste troue waarop ek ooit was

  • 0

Troues en begrafnisse is mos maar vreemde goed wat mens probeer vermy. By die een moet jy geskenke aandra wat nie waardeer word nie en by die ander is die kluite op die kis baie finaal. As deel van mens se omstandighede en omdat ons die geslagtelange kennis en ervaring het om grafte te bou en toe te maak na die treurendes afskeid geneem het leer mens om met die einde saam te leef en dit te aanvaar as deel van die lewe.

Troues is 'n ander besigheid. Veral die troue van, mmmmm, ek kan regtig nie meer onthou wie die tweetjies was nie. Ou studentepelle wat vroeg die knoop wou deurhaak. Ek onthou ek en Saartjie en neef A en sy nuutste stuk het sente bymekaar geskraap en die Morris Minor halfvol gemaak. 'n Morris ry mos op dampe, so met 'n paar liter brandstof kon jy baie ver ry. Die brandstof vir die dors was twee dae vroeër reeds gereed gekry. En so sit ons en kuier-kuier op pad na die bruilof toe. A moes daar wees want hy is "best man". Halfpad daai plek waaroor Koos so sing van verlore fonteine toe was ek en A reeds erg blink en baie slim. Die dames, wat die bestuurwerk moes doen se monde was vroeg al dikkerig, maar jy weet mos hoe dit werk: As mammie klaar die duiwel in is vir jou kan jy maar netsowel aanhou, want daar is mossie trappe van vergelyking wat kwaad aan betref nie, of is daar? Wel, nie wat vrouens aan betref nie, want hulle "skip" sommer die eerste twee en gaan van rustig na moerig in enkele sekondes. Dit daargelaat.

Ek onthou A het voor die kansel gestaan, baie later die dag, maar konnie lekker staan nie. Want hy het al vier rigtings gewieg. Soms 'n tree vorentoe of agtertoe gegee om iets onhoorbaars as verskoning te mompel as hy homself korrigeer. Probleem was, hy het die ringe gehad en kon dus nie ontslae geraak word van nie. So met kyke van die nuut aanstaande mammie het hy op een of ander vreemde rede homself deur die seremonie regop gehou. Die preek het heeltemal by my verbygegaan (wel, ek was self lekker voor) want die lag was dik en vlak. So is ons deur die gewone konfetti-besigheid deur en die name is geteken en die tweetjies is getjap en gealles en trou is gesweer. Vir ewig en altyd.

Met die uitstap het A die bier nek omgedraai en ons is vort na die saal toe om te loop eet en te loop speech. Om 'n lang storie kort te maak: Na die redes en die heildronke en die dansbaan se opening kon A dit eenvoudig net nie meer hou nie: Hy moes gaan, want 'n bier huur mens mos net, want soos jy hom sluk moet hy weer uit.

En dis toe die popo letterlik die waaier tref. Ek wetie waaraan ek besig was om te peusel nie, maar die kos was vergete weens die gespook buite die markiestent.

Ons het lank gevat om agter te kom wat gebeur het, maar die waarheid (of weergawes daarvan) kom mos maar altyd uit: A het besluit om die gehuurde bier te loop skenk aan een of ander plant of bos of grassie. Hy beweer hy onthou niks maar ek’t 'n idee hy buig die waarheid so effe. Al wat hy weet is toe die houe hom getref het en sy neus en oë vol bloed was. Die bruidegom was op 'n moordtog, basies blind van woede. Want sien, hy het seker ook die natuur gevoel roep of dalk wou hy die vars stadslug inasem. En dis toe hy sy blosendnuwe bruid aantref. Op haar knieë. Voor A. In haar bruidsrok, I shit you not! Nie biddend nie, maar, wel, mmmmm, sensitiewe mense lees ook hier, so ons gaan nie verder detail gee nie.

A het die volgende dag, seerkop en met dik oë en seer mond beduie: "Hoe sou jy gemaak het? Die een oomblik voel ek verligting en die volgende oomblik voel ek iemand besig met my besigheid. Mens bekommer jou mossie as die persoon weet wat sy doen oor wie sy is nie? Mens kan mos later uitvind wat haar naam is? Hoe moes ek geweet het dis my pel se nuwe vrou? As mens 'n dop inhet worry mens mos nie regtig nie?"

Ek het lank na die tyd gehoor dat die huwelik die huweliksnag en die Sondag oorleef het maar die Maandag het die twee rondgeskarrel om die ewige trou nietig verklaar te  kry.

Die terugtog Pretoria toe was 'n triesterige besigheid, want nie net was die koppe dik en een van die gesigte erg geswel en die bier op nie, maar A was sy metgesel ook kwyt. Sy het tussen die gedoente en deurmekaarspul iewers op die dansbaan 'n ander liefde gevind en tot vandag toe het ek nooit weer van haar gehoor of gesien nie. Ek wetie of A haar ooit weer gesien het nie, maar ek't 'n idee hy het wel die bruid later opgesoek. Maar dis my spesmaas.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top