Op 'n kronkelpad vanaf Beaufort-Wes ry ek ingedagte, oppad na 'n welverdiende vakansie iewers aan die Tuinroete of waar die pad ookal heen lei. Omtrent 'n uur nadat ek die MegaWimpy koffie van Gert Vlok Nel se verlore liefde agterlaat, is daar 'n gevoel van rustigheid wat my oorrompel.
Ek ry stadiger, opeens nie meer haastig na die eindpunt nie, maar deeglik bewus van die reis. Is dit die magiese Swartberge wat groots en majestieus met millennia se wysheid geheimenisse fluister vir die wind? 'n Fetusdorpie lê opgekrul aan die voete van haar moederberge. Haar naam ... Klaarstroom.
Ek slaan my oë op na die berge. Waar sou haar naam vandaan kom? Ouwêreldse sjarme waar tyd aan geen mens behoort nie, waar verlede, hede en toekoms in harmonie voortbestaan. Die stilte eggo tot teenaan die stroom wat weliswaar nie hier eindig nie. Hier klop Afrika se hart warm en eindeloos.
Elke huisie is poësie en vertel sy lewensverhaal van klip en sink met liefde en bloedsweet gebou. Daar is niks wat jou voorberei op die hulpelose manier waarop jy jou hart verloor en agterlaat aan die verleidsterdorpie en haar inwoners nie. Lank nadat jy Meiring se poortdriwwe agtergelaat het, bly die beeld van die slapende skoonheid in haar ewige rusplek jou by.
Ek sal terugkom, weer en weer. Mag sy immer maagdelik mooi bly soos die bruid wat sy is.
Klaarstroom.
Reisiger


