Bokomo-brekfisbrief; 09/10/08: Juffrou, kan ek maar ...

  • 0

 

 

Net so 'n ent buite 'n plattelandse stad is (Was? Dis al so 'n goeie dertig jaar gelede.) daar 'n skooltjie vir kinders met leerprobleme of die een of ander gestremdheid. Net soos in enige ander skool is die kinders woelig en soms bliksems stout. Die hoof, 'n formidabele moeder van 'n vrou, en ek sit en gesels. Dis pouse.

As agtergrond, kleintyd, het ons ook maar ons "tye" gehad. Weet mos, daar is 'n seisoen vir alles. Hoe dit werk weet niemand nie, maar een dag speel ons kennetjie en 'n week of wat later is dit 'marbles', en dan weer iets anders vir 'n ruk. 'n Seisoen het miskien te doene met die ongelukke wat gebeur. Iemand tref iemand teen die kop met 'n kennetjiestok. Die onderwysers gryp in en dis die einde van daai ene. Vir 'n ruk altans. Die ding is ons SPEEL!

Net so by hierdie skooltjie. Terwyl ons gesels kan ek sien dat sy elke wan en dan so 'n wakende oog gooi in die rigting van die voebbolveld waar die spul kleintjies bondel-bondel, uitmekaarspat en weer saamkom. Nes 'n swerm vinke.

Was ook nie lank nie of een storm uitasem die kantoortjie binne: "Juffrou, Piet het vir Jan gespoeg!" Sy sug. Sukkel haar lyf uit die noue stoel en ons stap uit. Verduidelik sy soos ons naderstap na waar die spulletjie saambondel: "Die kjinners het elke nou en dan 'n 'mode'. Dan jaag hulle mekaar en soos nou jaag hulle en spoeg hulle. Vandag donner ek die ding uit hulle uit!"

Binne die kring staan die twee. Piet en Jan. Die 'spoeger en die bespoegde.'

"Wat het hier gebeur?"
Almal trek los.
"Hou julle se bekke!"
Sy soek een uit. "Vertel!"
"Juffrou, Piet het Jan raakgespoeg!"

Die 'evidence' is duidelik. Die gwel loop so 'n skoon streep af teen sy stowwerige wangetjie. Hy lyk verontreg. Hy is bespoeg.

Jan, die spoeger lyk verontwaardig skuldig. Spoeg het hy gespoeg.

Sy gryp elk aan 'n oor en beveel: "Gaan haal die plank!"

Die swerm vinke vlieg daar weg en so 'n paar sekondes later swerm hulle weer terug. Een oorhandig so 'n korterige met blommetjies versierde plankie aan haar. Soos 'n offer.

"Nou ja!" sê sy. "Jy! (Aan die bespoegde) Spoeg hom terug!"

Dit het die klein wetter nie verwag nie. Feit is sy mond is droog en hy is half uitasem. Hy probeer dapper spoeg bymekaarmaak.

"Juffrou, ek kannie, juffrou!"

"As jy nie spoeg nie, foeter ek altwee!" Jan die spoeger is reg om te koes, maar sy het hom aan die oor beet en wegkom gaan hy nie wegkom nie.

Piet die bespoegde probeer weer genoeg sop bymekaarmaak om die ding te doen, maar sy mond bly droog. Hy besef dis 'n verlore saak. Hy weet ook dat sy gat gaan brand as hy nie spoeg nie.

"Juffrou, ek kry nie spoeg nie! Kan ek maar op hom piepie?"

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top