Bokomo-brekfisbrief; 09/09/09: Die geweld van woorde - vir Jelleke Wierenga

  • 0

 

 

In reaksie op my onlangse skrywe merk beide Oom Daan en Oester op dat woorde net so gewelddadig kan wees as enige daad. Hulle is reg: woorde laat soms letsels wat 'n hele leeftyd lank ongenees bly.

Soms is die woorde in 'n oomblik van woede gesê. Meermale is die woorde wat kwets, egter die produk van die selfsug en onbedagsaamheid wat ons moderne lewe kenmerk. Hierdie woorde maak seer, maar is na my mening "sticks and stones" - stomp wapens wat slegs kneusmerke laat. Hulle maak seer, maar het gewoon nie die krag om werklik deur ons skanse te
dring nie. Dit neem jare (soms dekades) van aanvalle met dié wapens om 'n mens te vernietig. Gelukkig hoef die meeste van ons nooit hierdie stadige dood van ons siel te beleef nie. Gelukkig leef die meeste van ons ver verwyder van hierdie soort marteling deur barbare.

Daar is egter ook woorde wat onmiddellik deurdring, onmiddellik wond. Hierdie woorde is soos 'n rapier, beitel, dolk of "fokken lugdrukboor" en kan gewoonlik slegs deur 'n meester beheer word. Hierdie woord-wapens is skerp en dodelik. Hulle slag en sny, steek diep en wond met presisie. Dit is nie die wapens van amateurs nie, dit is die wapens van die hardebaard-vegter. Hy/sy kan met een sin (sommige met net een woord) die siel oopkloof. Hierdie wonde kom meermale onverwags en ek het al baie gedink dat sommige digters (en romansiers) se werke, om hierdie rede, 'n gesondheidswaarskuwing behoort te dra: "Hierdie boek is gevaarlik. Die lees hiervan kan tot verslawing, verwonding en nare littekens lei. In uiterste gevalle kan die lees van hierdie manuskrip die totale vernietiging van die leser se mees gekoesterde idees en ideale tot gevolg hê. U lewe sal waarskynlik nooit weer dieselfde wees nie."

Nou is daar nog 'n naam om by die geledere van die elite te voeg: Jelleke Wierenga. Ek verskil op byna elke terrein van haar. Ek dink haar skrywes hier op SêNet toon 'n te eng lewensbeskouing. Sy is, wat my betref, so polities konserwatief dat ons niks sinvol vir mekaar te sê kan hê nie. Haar puristiese benadering tot Afrikaanse sintaksis grens vir my aan outisme.

Haar onlangs gepubliseerde bundel gedigte laat my egter van al hierdie verskille vergeet. Sy skryf gedigte wat tref. Haar ontbloting is nie net nog 'n goedkoop ontkleedans in Afrikaans nie, maar eerder 'n sluierdans. Sy verlei ons met haar weerloosheid en mesmeriseer met haar woorde tot dit die leser is wat naak staan. Haar ontbloting is die goëlkuns van 'n meesteres wat die aandag van haar slagoffer aflei voor sy daai lem diep indruk.

Jelleke, jy verdien elke prys en toekenning wat jy vir die bundel gaan kry.

Dankie daarvoor

"Koos Sas"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top