In hierdie dae loop die “swaar” soos ou riviere oor gesigte. Rivierbeddings van geloopte paaie en baie “regrets” maak ’n plooi van nou tot sewentig. Amper soos daardie winkel in Amerika waar alles kan gebeur - Bed, Bath & Beyond.
Om te vra “Hoe gaan dit” is soos om Bagdad se gevaarsone binne te gaan. Miskien moet jy en miskien moet jy nie, die risiko is te groot.
Pretoria-nuwe-naam-stad kry GROOT kennisgewings om te sê: “Suid-Afrika keer terug tot God.”
“Nogal ‘cool’,” sê my dogter.
“Ja?” met ’n vraag in my stem.
“Natuurlik is daar nie veel keuse nie, Ma. Mense moet onder hierdie kennisgewing deurry op pad na die malls toe, en as hulle ’n ander mall kies, is dit ook op daardie roete. So, van God gaan almal weet, of jy nou wil of nie.”
“En as jy oor jou kredietkaartlimiet koop, kan jy altyd die woorde onthou!” sê ek.
“Keer terug na jou sinne of jou bankbalans,” kom dit van die vriendin op die agterste sitplek.
Ek skuif myself gemaklik op die groot rusbank by Exclusive Books. So bekyk ek die “volk” deur die groot glasvensters van Seattle terwyl hulle op ’n drafstap Saterdagoggend-dinge doen. Daar is pyngesigte wat soos vergete appels in ’n bak inmekaar en opgetrek die oggenddinge doen. Ai, die woorde lê vlak in my gemoed: “Wat het gebeur?” Daar is dié wat dik om die middellyf verbykom. Jare se lekker leef, voor die TV sit. Woede van oujaar wat nooit laat gaan is nie. Daar is jong pa’s, ma’s, klein kinders, maer kinders, groot kinders, swaarkry mense en voorspoedige mense.
En die “couple” op die stoele langs my.
Hy is 60-plus, sy - so lyk dit - onder 60-plus. Dalk albei reeds op Sentrum-produkte en pensioen. Ek wil nie waag nie. Sy het Sarie, Rooi Rose, elke kostydskrif asook Huisgenoot (ja, daar is nog baie mense wat dit lees) op die skoot. Die plastiek word oopgemaak. Sy blaai sorgeloos verby alle artikels. Soek die resep. Skryf dit dan in so ’n swart boekie wat miskien jare en jare gelede as haar “little black book” diens gedoen het. (My verbeelding wil ver vlugte aanpak, maar die tyd is te min.) So pak sy elke tydskrif sorgvuldig weer in die plastiekomslag terug. Ek sukkel om te konsentreer. Sy stuur vir manlief Checkers toe met duidelike instruksies van die sponskoek wat hy moet koop.
My sensors beweeg teen duisend myl per uur. Sy gee my ’n “smile” van: “Ja, so moet jy met ’n man werk.” Bewerig “smile” ek terug en koop nog ’n latté.
By die toonbank draai ek stadig om. Hy soen haar voor hy loop. Sy gee die wang.
Checkers is wragtig net om die hoek, dink ek.
Hy kom terug. Sy yl haartjies staan in alle rigtings. In sy hand het hy ’n sponskoek.
Hy hou dit vir haar soos geskenk van God. Die oomblik van afwagting.
“Waar’s die sak?”
Hy vat die sponskoek, en loop terug Checkers toe. Vyf minute later is hy terug.
Sy vat die sak, beloer weer die inhoud. En daar doen sy dit. Haal dit uit. Druk haar vinger bo-op om te toets! Toe maak sy die omhulsel oop, en breek ’n stuk af en druk dit netso in haar mond.
“Tevrede?” vra hy.
Teen hierdie tyd het my asemhaling van normaal na vrees-angs oorgegaan.
Ek weet met die helderheid van daglig die “nou” van tyd is net dit. Nou. Hierdie oomblik. Die jare van gisters is prentjies van verlede dramas. Eckhart Tolle se wyse woorde in A New Earth: “You only ever experience the present moment, or rather what happens in it. If you go by direct evidence only, then there is no time, and the Now is all there ever is.”
“South Africa return to God” lees ek op pad terug huis toe.
God, laat asseblief die lig in hierdie liggaam helder skyn.
“Eternal youth, happiness, joy … en met ’n man met sponskoek en ’n Checkers om die hoek vir nou.”
Helena Botha


