Stout wees kom as tweede natuur by onse mense. Ek het ‘n vuil vermoede dit is geneties. Soos erfsonde. Met die genade word dit jou darem nie gereken nie. (Ek hoop nie so nie.)
Duik ek en my broers aan die Willekus. Jarre der jare gelede. Nou nie duik soos vandag se duikery nie. Tussen die drie van ons het ons twee paddavoete of dan vinne of wat mens dit nou vandag sou noem. Ons het een bril wat redelik goed werk en ‘n ander een wat al ‘n bietjie ‘geperriesh’ is. Onse snorkels is al effens gelap en mens moet behoorlik suig om lug in te kry. Ken ook nie van gewigte om die duikslag ‘n bietjie makliker te maak nie. Ons duik vir kreef. En speel.
‘n Kreef is ‘n pes van ‘n kreef. Sy dop is skurf en stekelrig. Mens moet eintlik handskoene gebruik maar ons het nie van nie. Die ding is ook nie so maklik om in die oopte te vang nie. En dan hol die ding nog gatoorkop agteruit ook. As mens hom vaskeer raak hy heel aggressief en beduie met sy voelers wat hy van jou dink. As jy hom verkeerd vat, gryp hy met al sy pote aan jou hand vas.
En boetie, hy
So duik ons op en af. Naby rotse en die waters so drie, vier meter diep. My jonger broer J, het die beurt met een van die vinne aan sy voet. Ek dryf eenkant met die ander vin en met die goeie bril.
Die werkery is heel vrugbaar en ons maak ‘n goeie klompie groot krewe bymekaar. Met die duikery in redelike vlak water en die golwe en dinge wat soos die see maar is, deurmekaarspoel, kry mens baie sand in jouse kozzie. Dit skaaf. Skaaf aan die lieste en dinge. Dis nie lank nie of ons trek die goed uit. Daar is mos nie mense naby nie.
Ons duik altwee af en J keer ‘n frisse knaap vas. In ‘n skeur. Ek gryp ‘n kleintjie wat ek weet ek moet los.
Maak nou ‘n prentjie in jou kop.
‘n Naakte J se arm is tot by sy skouer in die skeur. Die menslike liggaam wil natuurlikerwys dryf. Sy bas wil al boontoe. So. Hy moet spartel om onder te bly. Ek kyk hom van agter. Ek kyk hom van hol. Wat ‘n gesig!
Die wille satang kom in my op en ek vat die kleiner kreef en druk die ding van agter teen J se newwermaaind vas. Die krefie gryp. Vas! Dis net borrels by J!
Ek lag so ek wil versuip!
Hy skiet soos ‘n prop uit die water. Soos ek huiwerig my kop bo die water uitsteek staan hy al klaar op die rots. My ander broer T, kruip eenkant rond en lag, dit lyk of hy huil.
Sien J my en gil; “Boetaaa! K-K-Klim uit! Die krewe gaan vir mens se b-b-balle!”
HJ


