Verlede Sondagoggend vlieg ons so half-een se kant uit Johannesburg na Nairobi. Vier ure later is ons daar en ek kom tot my skok agter dat die hele lughawe nou 'n nie-rook-area is. 'n Kollega rook erger as ek en ek is seker daarvan sy gaan vir ons 'n plan maak.
Ook nie links nie, of sy tree 'n ou daar aan en vra hom of hy 'n plan sal maak. Ja, dis glad nie 'n probleem nie, maar dit gaan ons 'n paar dollar kos. Hy vat ons na so 'n "dingy" plek waar ons die eerste sigaret rook. Hy soek vyf dollar en ons sê dis reg, maar dan wil ons nog 'n sigaret rook. Almal is tevrede en die drie ure wag raak darem nie so lank nie.
Ons volgende vlug is so sewe ure na Bamako, die hoofstad van Mali. Ons is sonder insident deur doeane. Terwyl ons wag vir ons bagasie, besluit die een of ander akademiese reus om twee herdershonde saam met ons op die vlug te sit. Een kollega is heel opgewerk en rus nie voor sy seker gemaak het die honde is versorg nie.
Van Bamako ry 'n mens nog so amper vier uur lank voordat jy in Morila uitkom. Die hoofpad tot waar ons na Morila afdraai, is baie goed. Geen slaggate, ens nie. 'n Mens ry deur 'n aantal "villages" en dis nogal 'n belewenis om te sien hoe die mense leef.

Die padgebruikers is meestal mense op motorfietse en ouens wat goed in karre aanry wat nie eintlik daarvoor bedoel is nie. As 'n mens mooi kyk na hierdie foto van die familie wat oppad is iewers heen, kan mens die baba op die vrou se rug sien. Dit het my bietjie uitgefreak, want dit is regtig nie baie veilig nie.

As ek egter gedink het die gesin is onveilig, kom ons 'n paar kilometer verder 'n man teë wat bo-op 'n bewegende kar, bo-op 'n klomp hout staan.

So net voor ses die middag kom ons op Morila. Na ons deur sekuriteit is, word ons geneem na die gastehuis waar ons vir die volgende twee weke gaan bly. Genadiglik is daar 'n paar yskoue biere in die yskas en kan ons onsself lekker verfris.
Die restaurant bedien kos uit die boonste rakke. As jy egter nie vleis en hoender eet nie, is die keuse redelik beperk.
Die temperature wissel van so 25 tot 45 grade en dit is seker die lekkerste daarvan om hier te werk. Die koue die afgelope tyd in Johannesburg maak dit regtig nie 'n baie aangename plek nie. Hier is ook redelik baie reën en daar is dus baie veld en die plek is goed groen.
Ons interaksie met die "locals" is meestal op 'n werksbasis, en 'n mens vind dat die taal nogal 'n probleem is. Sommige van die ouens probeer 'n mens 'n paar Franse woorde leer, maar siende dat ek hopeloos is met tale, help dit my nie baie nie.
Ons "gasheer" is, sover ons weet, 'n Suid-Afrikaner. Hy is glad nie trots om dit te erken nie, en verkies om homself uiters Frans te hou. Hou nie van braai (oukei, barbeque) nie, wil net Franse wyne drink, verduidelik vir ons almal dat die sop byvoorbeeld wat ons eet, nie net uiesop is nie, dis Franse uiesop. Ons wou al vra wat die verskil is, maar dis op daai stadium dat daar dalk net 'n Franse woord van ons eie in die vraag sal wees, en dit sal uiters onbedagsaam wees om onbeskof te wees.
Ons eerste week het verbygevlieg, en ek kan nie glo ons is nog net 'n paar dae hier nie. Dan weer terug na die koue in Johannesburg, maar ek kom darem die einde van die maand terug.
Groete
Andries Wolmarans


