Bokomo-brekfisbrief; 09/06/08: Oom Gawie vertel 'n storie

  • 0

Oom Gawie was die storieverteller van die familie. Baie aande het ons in die gesinskamer gesit, die hele familie bymekaar, en geluister na sy fabels van slange, spinnekoppe en die Weermag. Oom Gawie was 'n RSM in die SAW, met 'n vertelsverbeelding ek nog nie weer teëgekom het nie.

Sak en pak het hy sy gehoor vasgehou, en wanneer jy wou wegbreek vir 'n pitstop het Oom Gawie gesê: "Sofia, ek wou jou nog hierdie storie vertel het." Dan het sy bokbaardjie soos 'n piston op en af gespring soos hy weer weggeval het in die volgende verhaal van slange, spinnekoppe en die Weermag.

Nie dat jy die stories wou mis nie, of dat jy wou wegkom nie, maar Oom Gawie het baie stories gehad. Hulle het uit hom gerol, onophoudelik, snaaks en gevat. Hy was 'n man se man. 'n Enigma en die jongste van 12 kinders. Hy het tussen stories net opgekom vir asem deur sy draaipuntsnor ('n belangriker kenteken as wat langs die skouer gesit het) so 'n draai te gee aan een van die kante. Ek het altyd gedink hy tune die volgende storie in.

Nou kyk hierdie man was nie bang vir 'n slang nie. Hy het met hulle gespeel, daar was koerantfoto’s waar hy met giftige slange speel, hulle sterte hap, hulle soos niekerbôls draai, maar o wee, die anderkant van die skaal was die spinnekoppe, o die spinnekoppe ...

Oom Gawie het hierdie ronde lyfie gehad so skuins na aftrede, hy het die vloek gehad van die Meyers: kort, geneig om bietjie te set, en hy was so lief vir die koeksisters. Hy was 'n meester met sy hande, sy houtwerk-forté was om bokhoringleeslampe en asbakkies te maak. Almal het hierdie Afrikana as presente gekry, elke Kersfees en as jy binne reikafstand was met 'n verjaarsdag. Hy het beter gehekel as sy vrou, Tant Lettie. Sy macramie was uitsonderlik en was die fondament van baie varings wat soos hare vanaf die plafon gehang het in menige familielid se huis. Ook het die man elke Saterdag sy kar gewas met 'n tandeborsel, skoon, netjies.

Oom Gawie het my die eerste ook voorgestel aan burgerband. 'n Maatjie vir 'n gaatjie. My roepsein was lepel in Pretoria, maar snotkop by die huis.

In elk was Oom Gawie banger as 'n duiwel vir 'n slypsteen vir 'n spinnekop, enigeen. Ek bedoel, hy was skytbang. Menige agtpoot het onder die besem, skoen, leeslamp, Tant Lettie se handsak en enige ding binne reikafstand gesneuwel. Hy het 'n paar sommer met die haelgeweer in die huis bygekom. Elke nou en dan was die polyfilla weer ingespan.

Hierdie was die man wat in Angola 'n terreurbewind gevoer het, en alles voor hom platgevee het.

Juis op die grens was hierdie een rooi roman. Die ding is mos nie 'n spinnekop nie, maar hy lyk soos een, 'n grote en het die geneigdheid om agter jou skaduwee aan te hardloop. Oom Gawie moes juis nou een van hierdie bos-pitstoppe maak een dag. Die moeilikheid van die oefening is die uittrek om redelik vinnig weer mobiel te kan kom. Natuurlik in Angola was die gawe om vinnig mobiel te kom van uiterste belang.

Soos ek gesê het: Oom Gawie het die Meyer-vloek gehad. Nou soos hy daar gesquad het, hoor hy die geritsel hier onder hom. Hy het so tussen sy bene deurgekyk en toe sien hy hier loer meneer vir hom. Oom Gawie het toe maar die eerste en beste ding gedoen wat in sy kop ingekom het. Hy het die roman toegepak, solied en vinnig. Hy was nog altyd 'n man van aksie.

Nou daar was nie tyd om te worry oor die broek en belt nie. Hy het sommer hier uit die squadposisie weggespring. Die eerste paar treë het hy die pikkewynloop gedoen met die broek hier om die enkels. So in die hardloop het hy die broek so met die linkerhand vasgehou en die onderbroek so met die regterhand probeer optrek. Hier by die dertigste tree was hy darem weer beskaaf. Soos die natuur van enige rooi roman hom voorspreek moes hy sy skaduwee agternasit. Oom Gawie het so in die weghardloop omgekyk na sy aartsvyand en gesien hoe die gedoente, so halfpad toegepak, hom agterna sit.

Die pad terug na die ratel toe was ver. Hoe vinniger Oom Gawie gehardloop het, hoe vinniger het die rooi roman sy skadu gevolg, met sy pote wat so kliek-kliek op die harde grond maak. Soos wat Oom Gawie spoed vang, begin die rooi roman agterkom sy skadu hardloop hom weg. Toe begin hy spring. Sulke lekker bokspringe hier al agter Oom Gawie aan. Nou Oom Gawie sien toe hierdie gedoente en tel sommer nog bietjie spoed op. So gaan hierdie bokspringstorie toe maar aan. Oom Gawie sien toe ratel hier voor hom, en hy sit 'n laaste effort in.

Hy maak toe die petrol heeltemal oop, en gee die laaste paar treë in rekordlengtes. So 'n paar meter voor die ratel hoor hy die valskote van die rooi roman hier agter hom, en besluit toe om maar vas te trap. Hy gee so 'n skoot iewers tussen 'n verspringer en 'n hoogspringer. Hy clear die agterklap van die ratel wat al toe was en land so op drie troepe wat ongelukkig was om agter te sit. Hulle het natuurlik hulle gatte afgelag vir die affêre, so dit was hulle verdiende loon. Met die opstaanaksie kyk Oom Gawie agter by die klap af en sien hoe bokspring die rooi roman hier agter, heel kwaad vir sy skadu wat verdwyn het.

Tamboer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top