Hierdie is 'n debat oor die doodstraf, maar ek wil nie sê hoekom ek daarteen is nie, maar eerder vertel van my dag by Old Sparky. Old Sparky, vir dié wat nie weet nie, is die bynaam van die elektriese stoel en die een waarop ek kon sit, as ek wou, was in die Florida State Prison in die Amerikaanse staat Florida.
Dit het so gebeur. Ek was in 1996 'n lid van 'n GSE (Group Study Exchange)-uitruilgroep wat deur die Rotariërs gereël word. Vir vyf weke het ek die noordooste van Florida saam met my spanmaats en spanleier verken. Ons was ondermeer vir 'n dag by Epcot, ons was in die aantrekkamer van die Jacksonville Jaguars, ons was op 'n begeleide toer van die wêreldbekende Daytona-renbaan en ons was by die Florida State Prison.
Saam met my in die span was André le Grange (deesdae 'n regter in Kaapstad), Hilton Nyirenda (voormalige MK-soldaat en toe werksaam by Ou Mutual) en Christie du Plessis (ouditeur van Ceres). Ons spanleier was Etienne Malan, 'n voormalige president van die Rotariërklub van Pinelands. Ek was die enigste vrou in die span en toe op die redaksie van Sarie.
Die Florida State Prison is in Starke, 'n kleinerige dorpie noord van Gainesville wat weer op sy beurt die tuisdorp van die University of Florida is. Ons is die oggend by 'n McDonald's afgelaai deur ons gashere (jy woon by Rotariërs aan huis) en is vandaar met 'n bussie na die tronk. Alles is voor die tyd gereël en daar aangekom, het die tweede in bevel van die tronk ons verwelkom. Hy het een kyk na ons groepie gegee en gesê: "There might be a problem with your clothing." Ek het dadelik gedink dit is omdat ek 'n vrou is en nie tot die tronk toegelaat gaan word nie. Maar nee, dit was Etienne en André wat kortbroeke aangehad het. 'n Paar oproepe is gemaak en spesiale toestemming is gekry dat hulle mag ingaan. "Just don't get upset if you get a couple of whistles," het die man vir hulle gesê.
Die tronk is bekend as 'n "point of no return", met ander woorde, as jy daar is, is jy daar vir lank. Nie net is die gevangenes daar wat op die doodstraf wag nie, daar is ook 'n deel van die tronk vir gevaarlike gevangenes wat geen kontak met niemand het nie. Die res van hulle was voorheen in ander tronke, maar het bewys hulle is nie rehabiliteerbaar nie.
Die eerste vertrek waarna ons geneem is, was die hof by die tronk. Omdat die gevangenes so gevaarlik is, kan hulle nie na 'n hof vervoer word nie. Hofsake word dus daar op die perseel gehou. In 'n aangrensende vertrek het die bevelvoerder ons 'n bord gewys met wapens wat al by die gevangenes afgeneem is – van skerpgemaakte tandeborsels tot die filters van sigarette wat gesmelt word en dan in 'n skerp naald omskep word. Om die minste te sê: My bek het oopgehang!
Toe is ons deur die tronk. Ek het lanklaas soveel mans-oë op my gevoel. Dit was nogals creepy en ek het gesorg dat ek die hele tyd tussen die mans stap. Toe is ons geneem na die gevangenes wat op death row was. Die besoek was duidelik nie aangekondig nie. Ek sal nooit vergeet hoe groot een gevangene geskrik het toe die bevelvoerder skielik by sy seldeur opgedaag het nie. Die gevangene het twee lemoene in sy sel gehad wat oop en bloot gelê het. Hy het hom bleek geskrik. "You know that you are not supposed to have that here, don't you?" het die bevelvoerder gesê. Ek het die man baie jammer gekry. Om te dink jy kan in die moeilikheid kom net omdat jy 'n lemoen in jou sel het.
Toe is ons na 'n volgende ry en daar is ons aangesê om asseblief nie verder as die eerste sel te gaan nie. (Ek weet tot vandag toe nie wat in die ander selle was nie.) In die eerste sel was 'n ou oom wat soos iemand se oupa gelyk het. Hy was in 'n rolstoel en daar het 'n sakkie (urine?) langs hom gehang. Hy het nader gerol en vriendelik gegroet. "He was a very naughty man," het die bevelvoerder gesê. "Oh, don't listen to him. It wasn't that bad," het die oom vriendelik gesê. Hy het gevra waar ons vandaan kom, hoe ons Florida ervaar – gesels soos 'n oupa. Ons sou later hoor die man was in 'n ander tronk vir moord. Hy het een aand TV gekyk toe 'n jong medegevangene die kanaal verander het. Die ou man, wat toe reeds in 'n rolstoel was, was ontsteld en het gevra hy moet dit terug verander. Die jong man wou nie. Die ou man het toe vir hom 'n wapen gereël en die volgende dag die jong man nadergeroep. Die ou man het gesê hy kan nie hoor nie en dat die jong man nader moet kom. Toe die jong man oor hom buk, het die ou man in die rolstoel hom deur die hart gesteek.
Ons is toe na Old Sparky. Jy loop af met trappe en daar is 'n sel waar die gevangene gehou word die dag voor sy teregstelling. En ja, hulle kry regtig 'n "last meal" van hul keuse. Die bevelvoerder het vertel die vreemdste versoek wat hulle gekry het was 'n man wat gevra het sy bewaarders moet die aand voor die tyd saam met hom "ribs and chips" eet. Almal behalwe een bewaarder het ingestem. Meeste van die veroordeeldes vra steak, kreef of krap. Hulle mag ook iets drink en baie drink hul laaste bier en sommige vra selfs vir sjampanje.
Oorkant die sel is 'n vertrek waar 'n dokter die gevangene voor die tyd ondersoek en die gevangene geskeer word. (Die elektriese impulse, op die kop en lyf, moet op vel gesit word waar daar nie hare is nie, anders kan dié skroei.) Dit is ook waar die lyk na die tyd geneem word en weer deur 'n dokter ondersoek word om seker te maak hulle is dood.
Toe is ons in die vertrek waar Old Sparky gestaan het. Dit is 'n groot houtstoel met leerbande wat die veroordeelde se arms, lyf en bene vasmaak. Teen die muur van die sel is twee telefone waarvan een rooi is. Dit is die foon wat direk tot die goewerneur van Florida se kantoor lei en net hy kan bel om die teregstelling te stop. Aan die een kant van die vertrek is 'n venster waaragter die media en lede van die veroordeelde se familie kan sit. Die bevelvoerder het genoem dat min van die veroordeeldes se families die teregstellings bywoon, nie omdat dit te onstellend is nie, maar omdat die families hulle teen daardie tyd lankal afgeskryf het. Teen die muur by die stoel is 'n groot metaalhefboom wat die elektriese strome deur die veroordeelde stuur. Die bevelvoerder het die hefboom onverwags getrek en jy het nog nooit vyf Suid-Afrikaners so groot sien skrik nie. Ons spanleier het ná die tyd gesê hy het gedink dit was sadisties van die man ...
Ons is genooi om op die stoel te sit. Nie een van ons het die aanbod aanvaar nie.
Hierdie klink soos 'n fliek, maar dit is hoe dit is. Dis dalk langer as tien jaar gelede, maar ek onthou dit asof dit gister was. En nee, niemand het vir Etienne en André gefluit nie. Ook nie vir my nie.
Ilza Roggeband


