Bokomo-brekfisbrief; 09/02/2010: Die dood van 'n boom

  • 0

Gisteroggend verlustig ek my in die pragtige blou dag, vol voëlgesang en vars lug na die afgelope tyd se heerlike reën. Skielik word die prentjie versteur deur die aaklige geluid van ‘n kettingsaag. Nee! Net nie dít nie, prewel ek. Ek storm buitentoe op die geluid af en sowaar in buurman se tuin hang die kettingsaagknaap aan die boonste takke van die mooiste boom!

Vir ‘n oomblik is ek totaal uit die veld geslaan en my hart sê vir my die boom word maar net ‘n bietjie gesnoei! Tien minute later besef ek dat die doodsklok vir my pragtige groen vriendin gelui het! Teen dié tyd stroom die trane teen my wange af en ek storm snikkend binnetoe om al die vensters toe te maak, sodat ek nie die slagting kan hoor nie. Dit help nie veel nie, want kort-kort skeur ‘n stuk van my siel uit met elke tak wat rammelend na benede plons.

My emosies is nou heeltemal rou en ek sak op my klavierstoel neer en donder die massiewe akkoorde van Rachmaninoff se Prelude in C-kruis mineur op die klawers uit. Ek het altyd gewonder wat Rachmaninoff gedryf het tot hiérdie sielsuitmergelende werk. Nou weet ek, dit kon net die uiterste smart gewees het, wat ek ook nou voel.

Beelde van die mooi ou boom skiet deur my gedagtes. Smiddae sit ek gereeld langs die swembad en verlustig my aan die ou reus se pragtige groenigheid. In haar takke skarrel baie soorte voëls rond. Ek het al meer as tien soorte op ‘n keer getel. Die ou kwê-voëls met hul parmantige kuiwe en lang sterte kô-ô en kwêêê luidrugtig. Soms wipplank kakelaars op en af terwyl hulle hard kekkel en mekaar die hof maak.

Bedags én snags koer die tortelduiwe gereeld van hul hoë veilige troon af. Dié geveerdes weet mos nie wanneer dit tyd is om stil te bly nie. Ou deurmekaarkuif houtkapper kirrrr somerdae tot vervelens toe, dat ek naderhand vir hom skree om stil te bly. Die plaaslike geelvink is gedurig besig om uitmekaargeskopte neste vir sy hele harem wyfies reg te maak. Dis ‘n hele aardigheid om te sien hoe die tjirpende kleingoed gevoer word.

Vir oulaas sit ek vanmiddag langs die swembad en staar na die oop kol op die horison. Die trane loop opnuut toe ek sien hoe verwarde geveerdes wil kom sit en dan vlerkklappend ‘n u-draai maak en verwese daar naby gaan sit.

Helaas, my geveerde vriende! Julle landingsplek is gereduseer tot ses bakkievragte vol bloeiende takke, wat sonder seremonie op ‘n ashoop gestort is. Veertig jaar se groei beteken niks vir die mens nie. Met sy moderne masjinerie, maak hy kort en mette van my groen vriendin ... om plek te maak ... seker weer vir ‘n nare Toskaanse b(r)ousel!

Hartseer groete,

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top