Bokomo-brekfisbrief; 09/01/09: Die see is nie jou speelmaat nie

  • 0

 

Mens kan nie anders as om trane in jou oë te kry as jy dink aan die manne van die Kingfisher nie. Dankie, HJ. Die Blou Dam is nie ’n Meisie wat nonsense vat van kabouters nie. As sy die dag vat, dan vat sy jou sommer weg.

Tog, as ek terugdink aan hoeveel kere ek gesien het waar skippers lelike kanse waag, dan kan ek nie anders as om verstom te staan dat daar inderdaad nie meer lewens die Blou Dam in is nie. Soms lag mens daaroor na die tyd, veral manne soos A wat gereeld in Witsand met Nat uitgegaan het. Ek kan letterlik nie een enkele dag onthou wat A nugter was toe hy die stuur gevat het nie. Die manne het later amper geweier om saam deur die Bar te gaan as A nie lelik warm was nie. Die enigste keer wat daar wel ’n "ongeval" was, was toe "iemand" (ons weet almal wie daai "iemand" was) Nat se proppe uitgetrek het en dit lang en ernstige duikwerk gekos het om haar weer te laat Float. Die skade was nie te groot nie, want die motors was nog van die ou Johnsons wat sommer net ’n spoel nodig gehad het.

Tog, ek eis vandag as ek terugdink aan die dae toe ons snags deur Witsand se Bar is sonder GPS en al die nuwerwetse veiligheidsmaatreëls. A was nog mak in vergelyking met Oom Kerneels. Jy as crewman het mos nie daardie jare veel van ’n sê gehad nie. As Skipper sê ons gaan uit, dan gaan ons uit en basta. Hy het nie geglo aan al die veiligheidsgoete nie, en die enigste tyd wat daar flares en werkbare lifejackets en radargoete op was, was die dag as ou Rabolini kom survey het. Die goed is mos sommer so by ’n ander skuit geleen vir die dag. Ek sê nie die goete om dit goed te praat nie, ek vertel dit bloot om te wys hoe dinge inderdaad was. En skaars as ou Rabolini se bakkie die hoogte uit is, is die goed terugbesorg aan sy wettige eienaar en is die bevel geblaf: "Kry julle oilskins aan, ons gaan uit!" "Ja, Skipper" (want jy’t nie durf teëpraat nie, anders het jy ’n dwarshou gekry.

En tog, ek moet sê dat die Groot Dam ons nog altyd genadig was. In Haar oorvloed nog altyd gesorg het. Want nie alleen was Windekind legendaries wat betref vangste nie, nie een crewman is ooit oorboord nie (wat eintlik bloot genade was). Annerdag, nie so lank terug nie, berig Die Burger hoeka oor ’n skuit wat verdwyn het annerkant winvogel. En in sy wysheid voorspel Mavenster hoeka: "Ek is seker dis Kerneels wat weer in hierdie weer see toe is". Hy was reg. Drie dae later kry Kobus hulle met die helikopter. Myle ver. Gapend dors, maar om een of ander duistere rede lewend. Hulle sê hoeka dat die ou met ’n stomp in die kies rondloop. Ek bekyk nie sy mond nie en kan nie getuig daarvan nie.

Die surfsone is natuurlik gans ’n ander saak, want hier geld heeltemal ander reëls. Hier is jy nie bo-op die water nie, maar binne-in. Hier is ’n stroom nie bloot ’n ding wat die vis bring of wegvat nie, hier is ’n stroom ’n ding wat jou kan doodmaak. Dis nou as die Valljasse jou nie beetkry nie. Soos ou Eddie:

Altyd ’n geel baadjie aangehad. Altyd meer waaghalsig as die ander manne. Glentana se klippe en se see is nie ’n see waarmee jy speel nie. Mavenster het altyd gepraat van "dwarsstrome" daar. Ek is seker die geleerdes het ’n mooier en meer wetenskaplike woord daarvoor. En dan kan jy boonop altyd verseker wees dat daar iewers langs daardie stukkie strand erg "drawback" sal wees. Soos die dag by die "docks". Ou Eddie het kans gesien vir die waters en die manne het gewaarsku. Snaaks hoe vinnig water met ’n mens kan werk, want die een oomblik is jy nog hier in die vlak, en sommer net ’n gedagte later is jy doer agter die brekers en baie diep in die moeilikheid. Ek onthou hoe die van ons wat goed kon swem nog probeer het om vir Eddie te gaan haal, en hoe ons later mekaar moes help. Die laaste wat ek van Eddie gesien het, is sy geel oilskin baadjie op en af in die deinings. Hy’t nie eens geskree nie. Ek vermoed hy’t geweet dit is sy dag hierdie.

En tot vandag glo die Oestermanne, snaaks genoeg, dat die Docks ’n gelukkige plek is, want Ou Eddie sorg altyd dat die water reg is daar. Soms, as die water dit toelaat, dan vat die manne wat nog kan onthou (want ook hulle raak min) ’n slukkie ou bruines of trek ’n skyf op Eddie voor hulle die water invaar. Ek weet nie of dit werk nie, en of ou Eddie ’n invloed het nie, maar ek moet sê, mens stap nie by die Docks weg sonder ’n vol sak nie. Vra maar die manne met die handlyne (want die nuwerwetse poly-nasa nagevorsde goete dien geen doel daar nie): Hulle potte se deksels bly roer met die oorvloed wat die Blou Dam daarso gee.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top