Verlede jaar in April is die man en vrou vanaf Knysna via die Prins Alfredpas op pad na Uniondale.
Hulle het stilgehou en die vrou het pas vir oulaas 'n Podocarpus falcatus, beter bekend as 'n kalander, 'n drukkie gegee. Die boom is meer as 650 jaar oud. 'n Mens sou dink hy is alles gewoond, maar die vrou het tog sy wortels sien omkrul. Sy kon haar ook verbeel het.
Dis Dalene Matthee se wêreld: Kom-se-Pad, Velbroeksdraai en Dieprivier.
Die twee avonturiers ry rustig in hulle blou Subaru Forester en bemoei hulle met hul eie sake. Deur die Vallei van Varings reis die twee onverskrokke reisigers. Dis mistig; die bosse is ruig en wild.
Skielik breek pandemonium los! Uit 'n grondpaadjie tussen die bosse regs van hulle kom twee koeie oop en toe aangesuiker. Hulle draai in die grootpad voor die middeljarige avonturiers in sodat die waagmoedige man moet lê op die brieke om betyds te kan stilhou.
(Behalwe dat hulle nou en dan bo-oor drade klim na groener gras aan die anderkant, is beeste nie juis bekend as pioniers nie. Dis gou duidelik dat hulle ook nie in hierdie geval besig is met 'n ontdekkingstog oor die Prins Alfredpas nie.)
Want agter hulle bars drie of vier kinders uit die bosse uit. Skeermeslem stemmetjies sny die koel boslug aan flarde. Arms word gewuif, klere staan punt in die wind soos hulle ooplê agter die beeste aan.
Die koeie wen ver. Baie ver. Hulle word klein in die verte. Die wagters hou op hardloop. Hulle stemmetjies raak hees en wanhopig. Die skouers hang. Silwer trane pêrel op hul wange.
Dis tyd vir die twee onverskrokke oumense om tot aksie oor te gaan. Hulle sit nie en wag totdat hulle versoek word om te help nie. Nee, doodsveragtend trap die man die petrolpedaal diep in. Die blou, sagte vier-wiel snel vorentoe. Hulle ry so vinnig dat die vrou in die spieëltjie sien hoe die kinders in die verte agter hulle verdwyn.
Die vreesloses jaag tot by die beeste. Soos 'n cowboy met 'n vangriem omsingel die man die een bees met die motor. Die vrou hang by die venster uit en roep-vra in Xhosa vir die koei wat haar naam is. Nie dat dit belangrik is nie, maar dis al frase wat die vrou ken. Die koei antwoord nie. Sy steek vas. Haar oë raak wild onder haar mooi, lang wimpers. Dan bars sy weer verby en mik na die bosse.
Nou word dit 'n stryd tussen man, vrou, motor en bees. Die vrou skree vir die man instruksies en klap teen die motor se kant. Die man hou vol met sy omsingelingstaktiek. Dis 'n moerse rumoer. Dis moeilik om twee halsstarrige beeste met een motor te omsingel.
Om die waarheid te sê, dis onmoontlik.
Maar gelukkig het die kinders intussen opgelet dat daar iemand is wat aan hulle kant veg. Hulle kom met nuwe ywer die pad afgestorm. Eindelik is hulle ook op die toneel – 'n toneel waar inspanning, geweld en dapperheid hoogty vier.
Die kinders keer aan die een kant. Die blou Subaru druk met 'n laaste, moeë poging teen die beduiweldste koei se flank.
Dis verby! Die koeie besef dit. Die kinders glimlag wittand. Hulle wuif. Skril roep hulle “Thank you!” en begin die koeie terugjaag.
Die vrou draai die venster toe en sit haar hand op haar man se been. “My dapper held,” sê sy met 'n stem vol bewondering.
'n Glimlaggie speel om die sterk man se mond. Hy breek 'n wind op.
Annemarie


