Bokomo-brekfisbrief; 08/11/2010: Van Ethiopië tot in Zambië - deel 3

  • 0

 

Ons volgende stop was Entebbe wat aan die oewers van die Victoriameer geleë is. Entebbe is so 35 km vanaf Kampala en ons het telkens ’n vliegtuig hoor opstyg vanaf die bekende lughawe waar die Israeli’s die spul skakers se tjank destyds afgetrap het. Hier moes Stanley inderhaas die Cruiser se voorste skyfremkussings vervang omdat ons toe alreeds geruime tyd die geluid van staal op staal moes aanhoor elke keer as ons rem trap. Met die hulp van ons resident werktuigkundige, Coen, is die takie gou afgehandel. Die grootste probleem was die 70 km Kampala toe en terug om die onderdele te koop. Kampala se verkeer is uiters druk en die gedrag van die taxi bestuurders lyk my is universeel dieselfde.

Van Entebbe af het ons weer oor die ewenaar gery waar vroulief vir Thomas (Jr) gebel het omdat hy verjaar het.

 Lenie ekwator.jpg

Vandaar is ons verder suid en is ons by Mutukula oor die grens in Tanzanië in en het ons ’n paar boskampe gemaak terwyl ons al langs die lengte van die Tanganjikameer afgery het. Op ’n kol moes ons vir 100 km deur gewapende wagte begelei word omdat daar kwansuis gevaar bestaan van rampokkers uit Rwanda en Burundi wat die land binnekom en toeriste lastig val.  Ons moes egter betaal vir die taxi om die wagte te vervoer omdat ons nie plek in ons voertuie vir die wagte gehad het nie.

In die proses is ons naby Ujiji verby waar Stanley sy beroemde woorde “Doctor Livingstone I presume” teenoor David Livingstone in 1871 geuiter het. By Mbala is ons by ’n klein grenspossie oor die grens in Zambië in. Hier moes ons ’n halfuur lank wag sodat iemand die sleutel vir die hek kon gaan kry! Net anderkant die grens het ons ingery na die Kalambo waterval toe wat ’n baie mooi gesig was. Die pad was deurgaans maar ’n uitdaging en plek-plek byna onbegaanbaar. Terug op die pad waar die teerpad genadiglik uiteindelik begin ontdek ons toe dat die slegte pad weereens sy tol geëis het. Die stutte van die Cruiser se dakrak het op een na almal die gees gegee en ons moes weereens op Afrika-inisiatief staatmaak. Ons het ’n baie gewillige en bekwame sweiser met die hulp van ’n vriendelike man opgespoor. Die sweiser het tussen sy hoop skroot begin krap en siedaar – ou stukke kanaalyster word gou met behulp van ’n ystersaag omgetower in stutte. Die dele van die oorspronklike stutte wat oorgebly het is aan die kanaalysters vasgesweis. Die sweiser het ongelukkig nie ’n boor nie maar hy het sommer met sy sweistoerusting gate op die regte plekke gebrand. ’n Paar ure later en $ 80 armer is ons glimlaggend daar weg met ’n dakrak wat stewiger is as toe dit aanvanklik opgesit is!

Omdat dit laat begin word, het ons weer ’n boskamp gemaak maar omdat dit naby aan die dorp was, is ons gou deur ’n skare toeskouers omring. Nadat ons hulle betaal het om vir ons ’n lekker vuur te maak het ons hulle vriendelik meegedeel dat ons nou alleen wil wees - ’n versoek wat hulle teësinnig aan toegegee het. Die volgende môre toe ons opstaan was daar weer ’n nuwe span wat elke beweging van ons dopgehou het. Toe ons vertrek het een ons selfs bedank vir die “entertainment” wat ons verskaf het.

Van hier reis ons oor Chirundu na Zimbabwe en hoop ons om binnekort terug in Suid-Afrika te wees. Hierdie is dus ons laaste nuusbrief uit Afrika en is ons reis amper op ’n einde. Ons stuur ’n laaste briefie as ons terug is in Knysna om darem die ekspedisie formeel af te sluit.

Groetnis

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top