Bokomo-brekfisbrief; 08/11/08: Stemme uit die graf

  • 0

 

 

Dit is vroegoggend, steeds skemer. Die kampvuur smeul nog van die oggendtakkies wat weer lewe daarin geblaas het. Koffievuur. Die manne staan in 'n kring en Botes lees uit sy sakbybel. Sy stem dra helder in die oggendlug.

"Al gaan ek deur 'n dal van doodskaduwee, geen onheil sal ek vrees nie."

Die hoofde buig en boshoede word styf in hande vasgedruk of opgefrommel agter die rug vasgehou. Daar word met God gepraat, en swart en wit luister.

Na oggendgodsdiens bring elke spanleier sy manne op hoogte van die dag se beplanning. Daar word strepe in die stof getrek. Dan begin die karre (Casspirs) een na die ander tot lewe gewring. Dieselwolke koek saam vir ʼn oomblik van vergetelheid voor dit deur die digte boomdak van die tydelike TB uitmekaar geruk word.

"Komesho!" roep iemand. (Vorentoe)

Die spoorsnyers loop vir oulaas 'n kring voor hulle rigting aandui. Gister se vars spoor is vanoggend 12 ure oud en Hospa en Stolla se karre sal voorsny in die algemene rigting van die spore. Saam met hulle ry Petrus, ons knapste spoorsnyer.

Vyf dae tevore het hulle Petrus se enigste suster, net buite Oshakati, onderstebo en vasgemaak aan 'n stopteken gekry. Naak, wydsbeen en met ʼn gebreekte bierbottel in haar privaatdeel opgedruk. Sy het nog geleef, na 'n nag van uiterste hel. Twee ure later het sy beswyk aan erge inwendige bloeding. Sy was van binne opgekerf. Omdat haar broer deel van die shirumbu (witman) se entourage was.

Petrus is as 12-jarige saam met sewe ander kinders uit sy Ovambo-stadjie in die middel van nêrens ontvoer. Saam met 'n ouer broer, wat 'n paar ure later deur een van die ontvoerders voor die ander kinders tereggestel is, as voorbeeld, oor hy gekla het van 'n doring in sy voet. Petrus is na Lubango gestuur voor hy homself as 16-jarige in 'n dorpie buite Moskou bevind het. Daar het hy opleiding ontvang in gevorderde wapentuig, onder andere AK47, RPG-7, B10 en POM-Z's. As 18-jarige is hy vir die eerste keer vanuit Angola oor die grens gestuur waar hy homself onmiddellik aan die SA magte oorgegee het. Na 'n suksesvolle heropleidingskursus is hy na ons afdeling oorgeplaas as spoorsnyer. Met 'n brandende haat vir al wat Swapo was.

Die eerste van die drie wat by sy suster se dood betrokke was, skiet ons die middag, en die tweede 20 minute later. Die laaste een, wat volgens die spore op die moordtoneel die leier blyk te wees, jaag ons op Petrus se aandrang etlike kilometers deur die bos en los sand. Elke keer as hy gaan stilstaan, vuur een van die snyers 'n sarsie na hom, doelbewus mis.

Uiteindelik sak hy in 'n hopie op die grond neer. Sy vel bykans van sy lyf geskeur deur die ondeurdringbare bos.

"Genade," smeek hy.

Petrus neem sy R5 en skiet hom een skoot deur elke knie. Hy word gestroop van alle klere en persoonlike besittings.

"Hier is jou genade," antwoord Petrus en plaas 'n bajonet net buite sy bereik op die grond, "sny jou polse voor die jakkalse en hiënas vanaand verbykom."

"Hoekom los jy hom, Petrus?" wou Marius weet.

"Hy is my neef, een van die kinders wat saam met my ontvoer was. Ek ken sy pa en ma."

'n Week later vind 'n ander patrollie Petrus se neef se lyk. Die hiënas het sy liggaam in stukke geskeur, die bajonet steeds waar Petrus dit buite sy bereik neergelê het.

Petrus oorleef die oorlog en is vandag 'n gesiene boer en hoofman in die Oshakati-distrik. Sy suster is herbegrawe duskant sy huis met slegs een sin op gebeitel - Gesterf vir vryheid - 1984.

'n Óú man

NS - name doelbewus verander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top