Bokomo-brekfisbrief; 08/10/2010: Die lang pad Kaap toe

  • 0

En so saal ek toe uiteindelik die wilde (yster)perd op!  Ek en manlief, geïnspireer deur Charly (Boorman) en Ewan (McGregor), pak een tour door Afrika aan. Die feit dat ek hier skryf is wel genoeg bewyse dat ek dit oorleef het, maar ek sal darem bietjie detail moet gee sodat almal nie dink dis sommer net vir klim en ry nie.  Ek koop vir my 'n mooi geel BMW 650 GS .. .maar hy word helemaal verdwerg deur die 1200 GS Adventure van my metgesel. Ek voel egter in totaliteit geïntimideer deur die brute krag en gewig van my nuwe speelding. Ons maak versigtig kennis en ek land meer as net 'n paar keer heel onseremonieel in die stof, my moed en ego redelik gehawend.  Geen tyd om egter van plan te verander nie!  Ons laai die panniers tot barstens toe met kampvoorrade, gadgets (Outdoor Warehouse se omset is verdubbel na ons inkopietog) en gizmos wat mens moontlik mag benodig in die wilde Afrika met default uiters primitief.  Die beste manier om te leer is seker maar diepkant en SWEM!! 

Glo my, as jy wil oordeel oor die stand van die paaie in die land hoef jy maar net half bewerig met jou nuwe bike die smalle en breë weë te gaan verken. Om met daai groot motorfiets deur en oor al die potholes en heininglose Afrikastatjies te navigeer maak jou grys en oud lank voor jou tyd!!  Ek het my baie veelkleurige woordeskat nog verder uitgebrei as gevolg van al die moederlose skapies en bokkies, donkies en hondjies wat net uit die niet uit besluit om voor jou in te hardloop.  Dan was daar die stormsterk winde, die lorries van voor en agter, die taxis wat geen reëls ken nie, die terroriste wat mens wil besteel as jy iewers stop en dan natuurlik al daai sinkplaat off-road paaie vir 100e kilometers om draaie, deur sand en water en klippe ... die ergste was egter die bergpasse wat so toegemis was, mens kon nie jou hand voor jou oge sien nie, die pad is nat en snotglad en vol haarnaalddraaie en die reën stort neer op jou visor wat sig bykans helemaal onmoontlik maak, dan is jou lyf boonop styf gevries en nog stywer gespan soos 'n snaar van die stres ... o, magtag!  Ek het vele kere in my helmet gehuil ... Die aande om die kampvuur het dinge tog die moeite werd gemaak - lekker gestort met 'n wyntjie in die hand kan mens mos maklik van jou sorge vergeet - en na aand drie het ek vir my nog 'n ekstra Pep-kombersie gekoop om myself in toe te rol, want die tentjie kon nie die bittere koue juis uithou nie. Rhodes en Lady Grey, twee beautiful klein dorpies, is wel ook gereken onder die koudstes wat tentbestaan aanbetref!

Dag 5 het my bike se radiator opgepak van al die kere wat ek geval het en deur gate gejaag het en toe moes ons 'n local boer vra om ons met fiets en al terug te vat dorp toe met 'n bakkie, ek agterop wat klou aan my bike vir 'n vale sodat die ding nie omval nie en die boer wat 100 myl 'n uur op die stamppad jaag asof sy lewe daarvan afhang!! Bliksem!! Kon toe darem die radiator met “'n boer maak 'n plan”-plan regtoor ... en daar gaat ons weer ... Cathcart, Grahamstad, PE, Humansdorp, Joubertina, Uniondale ... De Rust ... 2000 km ... en mettertyd word die adrenalien deel van my bloed, en die wilde hartklop word stiller, ek smelt met die yster saam en voel die selfvertroue stukkie vir stukkie terugklim in my lyf. 

Dis angswekkend en verslawend, dis hel en hemel, ek is stil verlig dat dit verby is, maar ek kan nie wag om dit weer te doen nie!! 

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top