Bokomo-brekfisbrief; 08/10/08: Die Bicycle

  • 0

 

 

Ou Jan het nie ʼn bicycle gehad nie. Jan het altyd so ʼn lang reguit kuif gehad, ene wat reguit en voor in sy oë gehang het. Sy hare is elke twee weke met ʼn handknipper opgeskeer, soms tot bo-op sy kop. Wanneer Jan se hare baie happe in gehad het, weet ons almal maar dat Jan se pa weer te veel gevat en sy hand was los, want Jan se pa het gedink lang hare is sonde.

Jan het so ʼn hangstappie gehad. As hy stap, wieg hy in sy heupe. Hy kon nooit vinnig hardloop nie. Hy was onbeholpe met als en as ons sokker op die rugbyveld gespeel het, is hy altyd laaste gekies vir enige span (ook net as daar niemand anders was nie of as ʼn ander span nie anders kon nie). As Jan gehol het, het hy soos ʼn stokman gehol met sy vuiste so toegeknyp, amper soos die mense wat hol as hulle driesprong spring - stadig en lomp.

Jan is elke môre "gelift" met die bicycle skool toe. Niemand het daai tyd omgegee as jy vir iemand iets doen nie. Almal het maar net onvoorwaardelik gehelp. Dit was net die een Engelsman, Henry Rubbernek Rademeyer, wat altyd omgegee het wat hy vir iemand doen. Ons ander was almal te arm, miskien behalwe Johan Beer. Hy het elke dag met gekoopte brood by die skool aangekom en ʼn appel of ʼn piesang en ʼn sweet soos ʼn Creamy Toffee of iets.

By ons, as iemand iets gekry het, het hy dit met ander gedeel. Johan Beer het ook. Jou hemp van meelsak, jou bruin broek met die groen lap, het niemand gepla nie; as dit skoon was, was jou ma gelukkig en heel tevrede met die verloop van sake.

Een môre het iets sommer net verander. Jan was nie die oggend soos gewoonlik voor skool op die hoek nie. Hy het, toe ons hom sien, met die pad langs afgestap en hy was al doer onder, seker drie blokke ver weg. Almal jaag soontoe en bekyk die man met verbasing toe ons stop. "Wat gaan met jou aan vandag?" vra ander Jan, Jan Rossouw.

"Niks," was Jan se kort antwoord.

Jan se gesig was blou geslaan. Hy was verskriklik oor sy lyf geslaan, dit was vol merke, sy lip was stukkend, sy kop was aan die kante blou. Jan het by die eerste "bicycle" van Koos Botha opgeklim, tussen die bok handles gaan sit en net verder niks gesê nie, voor op die "frame" sy tas net so gesit dat Koos kan bestuur.

Jan het later die dag tydens pouse weggeraak.

Hy was nie in die ry na pouse nie, sy tas was in die vierkant in die ry, maar Jan was weg. Klein pouse het die hele skool na Jan gesoek en niks gekry nie. Van die meisies in die klas het begin huil, want hulle het gesien Jan was geslaan. Hy het nie langs Estelle gaan sit soos wat hy in die klas opgedeel was nie. Toe juffrou Behrens met hom praat, het hy net in die hoek van die klas in die strafstoel gaan sit met sy kop onderstebo op die bank, sommer al klaar gereed vir wat wag, voordat sy hom veroordeel het of fout gevind het.

Aletta van Eeden, wat nooit niks gesê het nie, het stil en met beslistheid opgemerk: "Juffrou, Jan is verskriklik geslaan. Kyk hoe lyk sy kop, los hom uit," en so skuins oor haar brilletjie en ponytails geloer. Juffrou Behrens het Aletta geskok aangekyk, want Aletta sê nooit iets nie.

Jan het die wêreld sonder ʼn woord aangekyk en almal moeg geïgnoreer, almal doodstil gelos. Die juffrou het hom die dag niks van debiteure en krediteure gevra nie, niks van ʼn kasboek nie; trouens, sy het gesien die klas is op ʼn ander plek en het dié dag geen vraag verder gevra nie.

Van die meisies het brood na Jan se bankie aangestuur waar hy met sy kop op die bank gelê het, een het ʼn appel aangestuur. Marietjie, wat altyd Coke skool toe gebring het, het ʼn hele rooi blikkie vir hom gaan neersit. Lang Marina het vir Jan ʼn briefie geskrywe, in rooi potlood met ʼn hartjie bo-op die briefie geteken, en sy was sigbaar ontsteld.

Jan het nie opgekyk nie, hy het niks gevat nie, hy het niemand geantwoord nie. Juffrou Behrens het later besluit sy gaan die ding rapporteer. Sy is stil die klas uit, sonder ʼn woord, daar na die rigting van die kantoor toe. Die hele klas was doodstil, niemand het iets gesê nie en voor juffrou nog terug is, het die klok vir pouse gelui. Jan se tas was nie eens oopgemaak nie, hy het net geslaap.

Toe almal uit is, het hy al die kos net so gelos, sy tas gevat en in die ry in die vierkant gaan sit en badkamer toe geloop. Jan het pouse daar agter die fietsloods weggeraak.

Jan het my bicycle gevat, ʼn opgeboude dikwiel 28 met alle soorte van parte en kleure, een met ʼn "carrier" vooraan. Die bicycle het sy brieke in sy agterwiel gehad. As jy op jou trappe agtertoe trap, dan sleep jy jou wiel soos jy briek en kan jy broadies beter as enige iemand anders kap. Jy kon ook nie die ding soos ander bicycles agter toe trap nie, hy kon net vorentoe trap of briek.

My bicycle het ʼn dynamo ook aangehad, so ʼn blinke wat R1.70 gekos het saam met sy lig, en mens kon ʼn lig kon opwek as jy in die nag wou ry.

Die middag word ek "gelift" en ek het Jan se tas saam, want Jan het naby my gebly. Hy was nie daar nie. Die bicycle ook nie. My bicycle, wat ek so lank uit als uit opgebou het, het ek geweet is weg. Jan het nie die dag teruggekom nie.

Die volgende môre kom Jan se pa by die skool aan. Hy het ʼn ou safaripak en plakkies aangehad en Jan se kleinboetie het so spring-spring agter sy pa aan getrippel. Almal weet Jan het nie huis toe gekom nie ...

Dit was nie lank nie, of die dominee en die polisie stop by die skool. Die juffrou in die kantoor roep ons klas om almal om kantoor toe te kom. Jan se pa kyk my met sulke verwoestende oë aan, hy is ongeskeer en hy het nie sy tande in sy mond gehad nie ...

"Waar is Jan? Waar is my kind?" skreeu hy vir my. "Hoekom het hy jou bicycle gevat? Jy weet waar hy is."

Klein Aletta, die een wat nooit iets sê nie, sê onmiddellik: "Dis jy wat Jan geslaan het, oom. My tannie wat langs jou bly het gehoor hoe jy Jan eergisteraand geslaan het, in sy slaap."

Ou dominee Bezuidenhout kug en begin praat: "Broer, as voorsitter van die bestuurskomitee en ..."

Terwyl Dominee homself nog wou uitdruk, praat die hoof. "Almal, almal van julle, klas toe, klas toe! Ek sal later met julle praat."

Die storie het soos ʼn veldbrand versprei. Die polisie wou later by my weet wat gaan ek maak oor die "bicycle".

"Nee wat, oom," was my antwoord, "Jan sal nie die bicycle steel nie; hy het hom seker net nodig gehad. Ek worry nie oor die "bike" nie, oom. Ek worry oor Jan, hy moet maar net terugkom."

So het die soek na parte weer begin en dié keer het parte sommer ingekom - ʼn kok hier, ou trappe daar, resies-handles daar, ʼn pers Peugeot "frame" wat reguit gebuig moes word en, dié keer het Elna se ma vir my briekskoene gegee. Ek het nie ʼn saal gehad nie en het een probeer bou met tamatiekasplankies en bloudraad, een so met die kaskar se sitplekspons bo-op totdat ek een vir 26 sent by die fietswinkel kon koop later.

Jan het nie weer teruggekom skool toe nie. Jan se leë sitplek het in elke klas iets aan almal gedoen. Die antie van die kliniek het vir die hoof gesê die onderwysers moet die klasse en die kinders skuif, alles deurmekaar. Jan moet uit die klas uit geskuif word, als moet anders vir ons kinders wees.

Jan was egter nie vir ons weg nie. Die jare het verbygegaan. Een môre, op die voorblad van Rapport, lees die nuusberig:

Man skiet eers sy gesin en daarna homself

Op die foto is Jan, ons Jan. Jan het op die bote gaan werk in Durban en toe as stoker op die Spoorweë. Op die een foto van Rapport, so skuins teen die Spoorweghuis se muur, staan die "bicycle". In die carrier was ʼn kar-battery ...

Die skoonfamilie sê, die bicycle was Jan se belangrikste besitting.

Pierre van Niekerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top