Bokomo-brekfisbrief; 08/09/09: Swys, om op te hou rook

  • 0

 

 

Hallo, Swys

Een van my vriende is ʼn toegewyde en baie toeganglike dominee. Net een kyk in sy oë en mens sien ʼn ondeundheid daarin raak wat jou dwing om eers ʼn bietjie met hom te wil gesels. Jy wil gesels net omdat gesels met iemand wat na jou luister, lekker is. Jy weet sommer as jy hom sien, hy gaan na jou luister.

Ons kon nooit uitpluis wie van ons twee die stoutste was toe ons kinders was nie. Behalwe vir nou en dan se ordentlike drag slae, het ons streke niemand seergemaak nie. Só was dit tot die petalje met die bakstene.

Destyds se "local cafe" was ʼn omskepte hoekhuis en die Griek het met sy gesin agter in die "huis" gebly. George (sê maar so) het soms oor die agterplaasheining gespring en van die leë Coke-bottels wat daar gebêre was, gegaps. Dis dan voor omgeruil vir ʼn pakkie tjips of een of ander lekkerny.

Eendag stap George triomfantlik die kafee binne, plak ses Coke-bottels op die toonbank neer en vra vir "cash". Hierdie was sy eie bottels, sy pa het dit vir hom gegee. Die Griek het die bottels in ʼn krat gepak en George uit sy kafee gejaag: "I don't pay for my own bottles", het hy gesê.

George was erg omgekrap maar té klein om die Griek aan te vat. ʼn Ander plan moes beraam word. Eendag klim hy op die kafee se dak met ʼn paar bakstene. Toe daai kenmerklike vis-en-tjips reuk uiteindelik opstyg in die "extractor"-pyp, laat waai hy met daardie bakstene.

Die gille van die Griek was gou vergete. Waar die draadmandjie met vis en tjips geland het toe die Griek dit skreeuend wegskiet toe daardie kokende olie oor sy boep en hande spat, het niemand eintlik ooit oor ge-"worry" nie. Maar die gevolge van daardie vallende stene, dis dié ding wat nie maklik vergete geraak het nie.

"Weet jy, ou tjommie, watter hartseer die Kinderhof jou ouers kan besorg?" het George my gevra toe ons eendag oor hierdie insident gesels.

George se gewroeg oor sy ouers is dié ding wat my later laat ophou rook het. Ek wou nie die mense, wat lief is vir my, te na kom met iets wat maklik voorkom kan word nie. Het egter gou agtergekom, om op te hou rook, is nié maklik nie. Al wat ek werklik reggekry het is om oorgewig, beneuk en insomnies te word.

Een nag toe ek weer nie kon slaap nie, gaan ek vir ʼn nagtelike wandeling. Bly in ʼn eenrigtingstraat met sulke lekker lang blokke. Die robot is drie blokke en meer as ʼn kilometer ver. Het gestap tot by die robot, die dwarsstaat af en met die teenoorgestelde eenrigting terug huis toe. Gou het ek met die stok waarmee ek geloop het, teen die manne se heinings begin krap. Die reaksie was onmiddellik. Toe ek die middel van die tweede blok tref, was die lawaai op sy ergste. Die vorige blok se honde het nog nie opgehou nie, hierdie een sin was erg besig en die volgende een se brakke het reeds begin blaf. Het baie goed gevoel. As ek nie kan slaap nie, dan slaap niemand nie.

My ophou rook was maar van korte duur. Later het ek besef ek het om die verkeerde redes opgehou rook. Eenkeer sê iemand hy wil graag ophou rook maar het nie die wilskrag om dit reg te kry nie. Toe doen ek die verkeerste ding en breek ʼn saamgestelde woord op in sy dele. Krag om op te hou rook, dié het ek nie. Het dit reeds probeer. Maar om te "wil" is iets anders. Eers toe ek besluit ek wíl nie meer rook nie, was dit maklik.

As jy wil ophou rook' Swys, dis makliker as wat mens dink. Vergeet net van nagevolge, pleisters, pille en ander goed. Doen dit vir jouself omdat jy wil. Jy weet mos, as mens iets baie graag wil doen, kry jy dit gewoonlik reg.

ʼn Mooi dag verder

Schnauz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top