Vir die wat alreeds weet en die wat nog moet uitvind:
Toe breek die tyd aan dat ons die 2 kleinkinners vir die eerste keer moet oppas by Oups se huis. Sussie is 6 en Boetie amper 3.
Die spanning het opgebou oor die afskeid, maar teen alle vrese in is die twee met ‘n gejubel en gejuig saam in Oupa se Corollatjie – volgelaai met twee moederse koffers klere en sakke vol speelgoed en ‘n formidabele boks medisyne.
Nie ‘n oog toegemaak nie, die hele 160km - al singende in ‘n gewyde atmosfeer die vreemde verte in. Alles deurmekaar – Happy birthday vir spys en drank Jesus min my bobbejaan klim so haastig en so lastig Vader Jacob gooi die lappop weg op die berg ek is 'n loslappie ... Maar stroopsoet vol broederlike en susterlike liefde: “Sussie gee vir my ‘n kryt aan asseblief. Dankie Boetie virrie kryt”.
Ag, en dis so koud en triesterig sodat ek darem daai aand die wonderlikste ou drukkie gekry het met: “Dankie Oupa virrie vuurtjie!!”
Na Ouma se uitputtende Maandag oggendskof van inkleur en stories en puzzles en koekies bak en trekker stoot en wegkruipertjie – toe haar hele arsenaal omtrent uitgeput is - vermaan Sussie haar Ouma so by twaalfuur dat Ouma moet weet dat hulle spesiaal kom kuier het sodat ons hulle moet besig hou!!!
En die week lê nog voor.
Die baddery is ‘n groot fees maar OUPA mag glad nie kyk nie totdat party mense haar Tinkerbelle aan het. Boeta het nie ‘n saak nie totdat hy gekroek word met wie eerste moet uitklim: Ienkie - pienkie - ponkie - ouma - het -‘n don-kie!! Toe gooi hy sussie se hare met ‘n beker water nat.
As die telefoon lui gryp die naaste een dit met “Ons tuier letter hie by Oupa en Ouma!!!”
Daarna die aantrek voor die vuur in hul Cheetah-jamies, terwyl ek vir hulle klassieke musiek speel. Met verbasend kalmerende effek op die kinners, net soveel as vir Oupa terwyl Ouma afvat vir haar stories op die TV.
Boetie is dan omtrent uit op sy voete en na ‘n vinnige Bybelstorietjie en gebedjie blaas hy die aftog na kammaland op sy matras voor ons bed.
Sussie doen dan eers haar tolletjie-brei totdat sy haar konsentrasie verloor en ook dan die weg van alle kinners volg – op die matras by die voetenent van ons bed.
Môre-oggend maak ek koffie volgens instruksies vir almal in een kooi bymekaar, met boetie se alomteenwoordige stink doek wat hy nie wil uittrek nie.
Ouma skop af met twee Panados en na ‘n hewige stoeiery is ek al weer laat vir werk.
Outoppie


