Bokomo-brekfisbrief; 08/08/08: Straatteater onder die Eiffeltoring

  • 0

Helmine se insidente het my laat dink aan ons ekskursie in Parys twee jaar gelede. Ek en manlief het moeg geloop by die Eiffeltoring aangekom en toe ons die lang tou mense sien, besluit om nie die dag op te gaan in die Eiffel nie. Ons het skaars oor die plein onder die massiewe toring deurgeloop of ʼn gypsy(Roma)vrou kom jammerlik na ons toe met ʼn papiertjie in haar hand.

“You speak English? You speak English?”

Ek en my man het dadelik gesnap iets onderduims is aan die gang en met mekaar begin Afrikaans praat. Sy het aanhou probeer en toe naderhand moed opgegee. Ons vermoed sy wou op een of ander manier geld uit ons kry. Die volgende dag toe ons weer daar is, sien ons haar sowaar weer. Hierdie keer was dit bietjie meer ingewikkeld. Sy het op ʼn bankie gesit saam met ʼn jonger partner in crime. Voor hulle het ʼn man gestaan en hard probeer om dit te laat lyk of hy homself aan hulle opdring. Die vrou het opgestaan en kamtig pleitend by ons kom hulp vra. Ons het geweet hier is iets verdag aan die gang en maar gemaak of ons nie verstaan nie. Later die oggend het ons dieselfde groepie aan die ander kant van die plein sien staan in ʼn ander toneeltjie en ander niksvermoedende toeriste. Ek is seker dat hulle die mense besteel. Ek kon net nie verstaan dat hulle nie gevang word nie, dit was baie duidelik wat hulle besig was om te doen.

Oral in die wêreld vind desperate mense vindingryke maniere om geld of kos in die hande te kry. As hulle hulself aan mens opdring, laat dit jou ongemaklik voel en spreek tegelykertyd jou gewete aan. Hulle het ook ʼn goeie aanvoeling oor wie gullible genoeg is om daarvoor te val.

In Sjina was ek elke keer woedend as die straatsmouse hulle ware letterlik aan jou wil afsmeer. Hulle omsingel jou en as jy enigsins net lyk of jy belangstel, druk hulle dit letterlik in jou hande en bring hulle pryse af dat jy nie kan nee sê nie. Dan voel ek weer skuldig dat ek dit so spotgoedkoop by hierdie desperate mense gekoop het.

Ek wonder wat gaan die Sjinese regering met al daardie bedelaars en smouse maak tydens die Olimpiese spele?

Die ergste is Indië. Die weduwees met hulle babatjies in lappe toegedraai kom staan teen jou en bedel met pleitende stemme vir geld of kos. Of hulle druk teen die motorvensters met kermende stem en kyk jou in die oë. Dit is hartverskeurend; tot iemand vir jou verduidelik dat dit georganiseerde bedelaars is. Ek het al op baie plekke gesien hoe kinders gebruik word om simpatie te kry.

Ek het ʼn voorneme gemaak om nie meer skuldig te voel nie. Ek kan nie die hele wêreld se armoedeprobleme op my neem nie. Ek sorg dat ek eerder geld gee aan mense wat daadwerklik met armoedeverligting besig is. Ek koop eerder twee matrasse vir kinders wat ek weet op die vloer slaap of koop ʼn waentjie vol kos en laai dit af waar nodig.

Ek het ook in die verleentheid gekom ʼn rukkie gelede toe ek ʼn paartjie in ʼn supermark sien wat so staar na die rak met kookolie. Die prys van ʼn tweeliter-bottel is nou al in die veertig rand. Ek het hulle so jammer gekry en gee toe vir hulle R50 om olie te koop. Ek het nie gekyk wat hul reaksie was nie. Net die geld gegee en gesê koop vir julle olie. Later die middag toe ons gaan fliek, is die gesin toe ook daar, met springmieliekombo’s in hulle hande. Net omdat hulle nie baie deftig aangetrek was nie (en swart, tot my skaamte) het ek gedink hulle is arm!

Sal nou twee maal dink voor ek geld gee vir iemand wat nie gevra het nie!

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top