Verlede week het die Swakoprivier afgekom en sy sandgevulde mond skoon gewas en uitgespoeg in die koue Atlantiese Oseaan. Laatmiddag toe ons vanaf Johannesburg in ons tweede tuisdorp aankom, het elke bekende wat ons raakloop, opgewonde vertel dat ons ’n draai by die rivier moet maak. Moeg van ons reis, het ons nie vreeslik aandag gegee nie, maar tog teen sononder gou rivier toe gery.
Wat ’n lekkerte! Die oewer staan geparkeer met enige denkbare ding met wiele. Kameras flits en ’n geroesemoes van opgewonde stemme klink oral op. ’n Paar jong manne durf die vinnig lopende modderwater op buitebande aan en word blitssnel see se kant toe gesleur. Party mense sit op die walle met piekniekmandjies en “sundowners”. Enkele van Swakop se vele brakke, draf ook blaffend in die bruisende water rond. Dit klink en lyk alles vreeslik gevaarlik, maar toe een ou enkeldiep dwarsdeur die watermassa loop, besef ek, dis eintlik ’n baie vlak stroom!
Die atmosfeer wat daar geheers het, is onbeskryflik. Soveel vreugde oor water, is iets wat ’n mens selde teëkom, veral in ons stede waar ons onsself van die natuur gedistansieer het. Ons dink nie eers wanneer ons tien minute onder ’n stort staan of sommer die grasperk vir ure besproei nie. In hierdie woestynland, is water soos goud en die Namibiërs vier fees, wanneer daar water is.
Met dank aan die vrolike, plat-op-die-aarde Namibiërs, kyk ek nou met ander oë na water!
Groetnis
Perdebytjie


