Bokomo-brekfisbrief; 08/02/2011: Twee wêrelde

  • 0

Verlede Donderdag durf ek en manlief Gauteng se vroegoggend-verkeer aan. Die motors beweeg snoet-aan-stert teen ’n slakkepas en kom eindelik effens aan die beweeg op die snelweg. Ons beur deur die malende ystergedoentes (meestal net een of twee wesens per voertuig) en beland uiteindelik op die pad na ons naaste Gautrein-stasie. Ons slaan ten minste drie moewiese slaggate voordat ons by die wêreldklas, splinternuwe parkeerterrein indraai. Binne tien minute sink ons weg in die luukse treinstoele en skommel teen die spoed van lig voort na Sandton.

Die rit neem ons verby ’n lelike kragstasie, mooi landskap met damme en groot landelike huise en stop by Marlboro-stasie. (Hoe pikant en Ingels is dit tog nie!) Hier klim niemand op nie, want die stasie lê in die middel van Alexandra en tans is dit goedkoper vir die inwoners om hul lewens in skôrôkôrôs (my huishulp se woord vir krok taxis) te waag. Eensklaps word die trein deur ’n tonnel ingesluk en dan eindig die rit diep in die aarde se maag onder Sandton. Lang roltrappe voer ’n mens boontoe en daar staan ewe luukse busse reg om ons te neem na ons bestemming … ’n deftige handelsbank.

Binne is dit pure luuksheid, propperse skilderye teen die mure, dames met snyerspakkies, leerbanke waarin ons diep wegsak en teug aan ryk, lekker koffie en knibbel aan smullige “short bread”(definitief gebak met egte botter!). Die diens is flink en binne ’n ommesientjie is ons besigheid afgehandel en ons word op die hande weer by die blink gepoetste deure uitgedra.

Terug op die blitsige trein, besluit ons om sommer by ons plaaslike polisiestasie aan te doen vir klaringsertifikate wat ons al lankal benodig. Ons het soveel tyd bespaar met die treinrit, dat ons nóg ’n dag se werk kan inpas! Oeps! Te gou gepraat!

’n Treurige prentjie van verwaarlosing tref ons tussen die oë. Binne hang ongeurige walms en ons word na heelwat rondvraery (geen aanwysings iewers!) na ’n klein kamertjie in die agterplaas verwys. Die vertrekkie is plus-minus drie by twee meter en boem in die middel sit ’n allemintige groot mama (’n lid van die publiek) op die enigste stoel. Die arme amptenaar hol soos ’n kat op ’n warm plaat om haar rond en probeer sy bes om almal te help … maar die tante sít!

Goed, vort na ’n ander kantoor vir betaling, dan straataf vir fotostate van ons ID’s. Op die sypaadjie, met ’n lang elektriese koord ingeprop by ’n ou verwaarloosde huis, is die fotostaatmasjien netjies toegemaak onder ’n swart sak. Teen twee rand ’n afdruk kan jy nog jou dieet ook aanvul met grondboontjies en tjippies wat ook by die stalletjie verkoop word!

Terug in die agterkamertjie, word ons vingerafdrukke geneem. Met ’n handvol gwellerige goo uit ’n ou verfemmer, loop ons na ’n buitekraan om die ink af te was. Met pikswart pote, terug in die vertrekkie, deel die amptenaar twee stukkies papierhanddoeke(definitief nie “baby soft”nie) uit. Besmeerd en al giggelend, loop ons kar toe en verwonder ons aan die kontrasterende Suid-Afrika!

Sonder om ’n mens se humeur te verloor, maak dit eintlik die lewe baie interessant!

Groetnis

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top