Dis stil ... Daardie vakansietyd-is-verby-stilte wat neerdaal wanneer die laaste tranerige koebaai gesê is, die laaste gas gery het, en die laaste koppie gewas en weggepak is. Weliswaar het ons hierdie jaar meer van die kuierwerk gedoen. Nietemin. Die gevoel is dieselfde.
Dis ’n stilte waarin ’n mens die voëls hoor. Elke verskillende roep. En die enkele brommer wat sy pad deur die oop venster gekry het.
Die son bak genadeloos neer op ons Karoodorpie. Ek sug dankbaar omdat ons bo in die berge sit. ’n Uittog Graaff-Reinet toe is ’n marteling in hierdie hitte. Daar is dit meestal 6 grade warmer as hier by ons.
Ons het gistermiddag afskeid geneem van vriende. Hulle trek elders heen vir twee jaar. Hulle huis sal bedryf word as ’n gastehuis in die twee jaar. Wie weet of hulle pad weer hierheen sal terugdraai? Ek dink aan die gediggie “The Road Not Taken.”
Die jaar lê voor ons soos ’n groot blanko bladsy. Wat gaan ek hierop skryf? Soos mens ouer word, besef jy al hoe meer die mate waarin jy beheer het oor wat op die blaai geskryf word en jou verantwoordelikheid vir jou eie blaai, en ook jou onvermoë om oor alles beheer uit te oefen.
Dis soos ’n drama wat neergeskryf gaan word, waarvan jy die hoofkarakters ken, maar soos elke storie, het dit ’n loop van sy eie wat jy nog moet uitvind. Jy het die riglyne neergelê, maar soms kan ’n halstarrige karakter in jou storie die hele storielyn beduiwel.
Watter storie gaan jy hierdie jaar skryf?
Joanna


