Jy sal bly wees oor Advent. Aikona! Daarom het ek uitgesien na jou brief.
Ai, hoe beny ek jou nie die geur van dennenaalde nie? Miskien gaan ek nog eendag "egte" dennenaalde ruik. Tot dan sal ek droom. Die mees algemene ding hier by ons is daardie goed met die 6" lange naalde. Geen mens kan só iets gebruik vir ʼn "Christmas decoration" nie.
ʼn Ultra konserwatiewe Duitse antie, so word algemeen gedink, was die eerste bekende wat elektriese liggies op ʼn Kersboom gebruik het. Omdat sy ʼn ‘‘celeb" was, het dit soos ʼn veldbrand versprei en is dit vandag die norm. Maar Kraut, ek is meer verkramp as oorle' Queen Vic. ʼn Kersboom is vir my steeds iets vol brandende kerse. Liggies is vir die werf bedoel.
My eerste Kersfees as getroude het anders uitgedraai as wat beplan was. Ons het in ʼn woonstel in Pretoria se middestad gebly. ʼn Kersboom moes uiteraard ons nessie verfraai. Geld was skaars. Niks kon gekoop word nie en plan moes gemaak word.
Het lankal agtergekom, as jy belangstel in den, is die naaste kerkhof nét die plek en het in Pretoria-Wes se begraafplaas begin soek. Uiteindelik het ek by die krematorium se Tuin van herinneringe die perfekte boom gesien.
Lekker stil, so het ek gedink, is ek op 16 Desember soontoe. Maar skaars het ek die boompie bygekom toe daar ʼn munisipale bakkie stop, iemand uitspring en op my gil:
"Wat de fok doen jy?"
"Niks nie, oom", het ek vreesbevange geantwoord, "net ʼn Kersboompie kom kry."
"Nou wat de fok," het hy gevra, "gaan oorbly as elke poephol wat ʼn Kersboom soek een hier kom afkap?"
"Het nooit só daaroor nagedink nie", het ek geantwoord. "As almal doen wat ek gedoen het, gaan hier niks meer wees nie. Jammer, oom."
Hy het my lank in die oë gekyk. Dit was baie spanningsvol, en toe gesê:
"Vat daai boom en fokkof."
Daardie Oukersaand, terwyl ek my nog verwonder oor hoe mooi die kersies op daardie boom flikker, het een kersie die hele spul aan die brand gesteek. Niks, glo my, vat so vinnig vlam soos ʼn uitgedroogde denneboom nie.
Hierdie storietjie bring my by dit wat jy gesê het. Ons is in ʼn wonderlike tyd. Het lank gewonder hoekom dit so is. En of dit nou die enigste rede is weet ek nie, maar vir my is dit baie eenvoudig. Dis wonderlik omdat dit nie ánders kan wees nie. Dis al. Markte wat in duie stort kan nie die vreugde daarvan bederf nie. Bekommernisse nóg minder, want daar is nie meer sulke goed nie.
Dit, my liewe vriend, is hoekom Advent só wonderlik is. Advent, nes Pase en ons alledaagse lewe, is ʼn paradoks. Gister se verdriet is vandag se vreugde en vandag se vrolikheid miskien môre se hartseer. Hiersonder is ons lewens nét ʼn of-of en nié ʼn en-en nie. As ons dit nie só uitleef nie, is ons maar soos ʼn jo-jo. ʼn Toutjie word gepluk en ons doen óf dit óf dat. Hoe tragies is dit nie!
Paradoksaal was ook die woorde van daardie opsigter. Sy kru "Vat daai boom en fokkof" het vir my dieselfde betekenis gehad as die Benedictus aan die einde van ʼn diens. Die geskrik was weg en ek het geweet - ʼn lekker Oukersaand wag op ons.
Die boom het wel in vlamme opgegaan maar dit was steeds ʼn wonderlike aand. Dit bring my weer by wat jy gesê het. Advent is ʼn wonderlike tyd. Flokapies kan dit nie bederf nie. En dit is my Kersfeeswens - mag dit só vir almal wees.
Mooi loop
Schnauz


