Lalibela is sonder twyfel die groot hoogtepunt van Ethiopië. Lalibela is ’n klein geïsoleerde dorpie bo in die Lasta berge en is veral bekend vir die kerke wat uit soliede rots gekap is. Die kerke is onder grondvlak uitgekap, wat die hele proses asook die dreinering van reënwater, ’n besondere prestasie gemaak het. Dis ’n absolute ongelooflike gesig.

Axum was eweneens ’n wonderlike ervaring en kon ons die kerk sien waar die verbondsark bewaar word. Ja, julle het reg gelees – die verbondsark (van Ou-Testamentiese faam) word glo in die Tsion Maryam Kerk bewaar! Axum was millennia terug ’n baie belangrike stad in Ethiopië en volgens oorlewering het Menelik 1 in ’n droom die opdrag ontvang om die verbondsark in Jerusalem te gaan haal en na Axum te bring. As seun van Salomo was hy geregtig om die tempel in Jerusalem te besoek en het hy klaarblyklik toegang tot die allerheiligste gedeelte gehad. Nadat hy die verbondsark verwyder het, het Salomo dit glo agtergekom maar is daar weer in ’n droom aan hom geopenbaar dat dit so moet gebeur om die voortbestaan van die verbondsark te verseker. Dit is blykbaar ’n feit dat toe die tempel in Jerusalem in 587 vC deur die Babiloniërs vernietig is, die verbondsark al lankal nie meer daar was nie. Die feit dat Axum eers lank na die afsterwe van Salomo tot stand gekom het doen egter geen afbreek aan die Ethiopiërs se geloof in hierdie legende nie. ’n Alternatiewe legende is dat die ark deur ’n klomp toegewyde priesters in die tydperk 687-642 vC verwyder is en na ’n eiland by Aswan in Egipte geneem is. Nadat die situasie daar weer te gevaarlik geword het, het hulle glo die ark per boot met die Nyl langs tot by die Tana-meer vervoer waar dit in een van die kloosters op die eilande (dalk een van dié wat ons besoek het!) versteek is vir 800 jaar voordat dit na Axum verskuif is. Daar is egter net een lewende persoon wat die ark op ’n slag mag sien en dit is die amptelike opsigter. Hy is die enigste persoon wat die magtiging het om die vertrek waar die ark aangehou word, binne te gaan. Selfs nie eers die aanbod van ’n stewige baksheesh kon vir ons toegang tot hierdie geheimsinnige vertrek laat kry nie en sal ons maar vir altyd wonder hoe waar dié legende is! Die ark word glo in die geboutjie in die foto hieronder aangehou.

Ons het ook die obelisk-tuin en museum besoek en die obelisk gesien wat Mussolini buitgemaak en na Italië toe verskuif het. Die obelisk is weer in 2008 aan die Ethiopiërs terug besorg en pryk nou weer in die obelisk-tuin.
Ethiopië is werklik ’n wonderlike land vol gasvrye en vriendelike mense en die beeld wat ons altyd gehad het van ’n agterlike landjie vol ondervoede mense is finaal die nek in geslaan. Die Ethiopiërs het selfs hulle eie taal en alfabet wat hulle met trots gebruik. Alhoewel die mense oor die algemeen arm is, het hulle sedert die vroeë negentigerjare ’n demokraties-verkose regering wat ’n vrye mark voorstaan (na meer as 20 jaar se kommunistiese regering). Die natuurskoon is werklik mooi en na die onlangse goeie reëns is alles mooi groen. Dis beslis ’n land wat besoek móét word en is een van Afrika se juwele.
Van Addis Abeba het ons na Kenia gery en na die grenskruising tussen Ethiopië en Kenia by Mayole het ons die allerverskriklikste pad tussen Mayole en Marsebit beleef. Alles aan die voertuie het begin losskud en ons langafstandtenk het weereens losgeskud. Ons het die tenk leeggetap en die tenk met bande aan die onderstel vasgebind en toe verder gery. In Marsebit aangekom moes ons eers ons skokbrekers (wat nie in Addis Abeba vervang kon word nie) weer ’n bietjie regtimmer en met die hulp van vriendelike mense by die plaaslike Shell-motorhawe kon ons die skokbrekers weer sodanig herstel dat ons Suid-Afrika daarmee sal haal.
Met die voertuie weer min of meer op die pad het ons na die Bogoria meer gery waar ons kokende water onder die aarde sien uitborrel het asook die mees ongelooflike gesig van ’n stuk of 2 miljoen flaminke bymekaar. Terwyl ons die kookwater wat uitborrel beskou het, het ’n groep skoolkinders daar aangekom en begin om eiers (wat hulle in plastiese sakkies sit en in die water hou in die water hou met ’n stok) te kook. Dit het soos ’n bom gewerk en dit het ongeveer 8 minute geduur om ’n eier te kook.
Van die Bogoria meer het ons tot in Uganda gery. Ons eerste stop was by Jinja aan die noordpunt van die Victoriameer wat die grootste varswatermeer in Afrika is en die tweede grootste varswatermeer in die wêreld. Dis werklik ’n indrukwekkende meer en is ook die beginpunt van die langste rivier in die wêreld - die Nyl.
Die Wit Nyl ontspring by Jinja aan die noordpunt van die Victoriameer en die Blou Nyl ontstaan weer by die Tanameer in Ethiopië. Die Wit en Blou Nyle se samevloei is by Khartoum in Soedan vanwaar dit na Alexandrië in Egipte vloei om in die Middellandse See uit te mond – ’n vloeilengte van meer as 6 700 km. Die interessante deel van ons reis is dat ons by al die plekke aangedoen het wat hierbo genoem is.
Die punt waar die Wit Nyl ontstaan is natuurlik in ’n toeriste-trekpleister ontwikkel en het ons by die standbeeld gestaan waar Mahatma Ghandi se as uitgestrooi is - hy het na sy swak behandeling in Suid-Afrika ’n eed afgelê om nooit weer na Afrika terug te keer nie maar versoek dat sy as by die beginpunt van die Nyl gestrooi moes word. Hier het ons ook die heerlike storie van die wedloop om die beginpunt van die Nyl deur die Engelse ontdekkingsreisigers te bepaal, gelees en geniet. John Speke het blykbaar eerste bepaal dat die Victoriameer die beginpunt is maar Richard Burton het dit later betwis en die Tanganjikameer as die beginpunt aangewys. Die middag voor die Royal Geographic Society moes uitspraak gee oor wie reg is, het John Speke in ’n skietongeluk gesterf. Baie mense beweer dat dit selfmoord was omdat hy nie die vernedering wou beleef om deur die RGS as verkeerd uitgewys te word nie. Die uiteinde van die saak is dat die RGS voorlopig Burton se verklaring aanvaar maar Henry Morton Stanley het ’n paar jaar later ondubbelsinnig bepaal dat John Speke inderdaad reg was. Daar is dan ook op die plek waar Stanley gesit het en sy waarnemings bestudeer het en die Nyl bekyk het ’n gedenknaald opgerig.
Van Jinja het ons effens noord gery na die Murchison Falls Nasionale park waar ons na die watervalle (wat ons baie aan Augrabies herinner het) gaan kyk het. Die water van die Nyl wat uit die Victoriameer vloei gaan hier deur ’n 8 meter wye skeur voor dit 45 m na benede tuimel en is werklik ’n indrukwekkende gesig. Na ’n wonderlike oornag by die luukse Paraa Lodge op die oewers van die Nyl het ons die volgende dag by ons nefies en niggies in die park gaan kuier. Homo Sapiens se naaste familie onder die aapspesies is die sjimpansee. Alhoewel die gidse ons nie kon waarborg dat ons die sjimpansees sou sien nie het hulle aanhou soek en toe dit al sterk skemer begin word, het ons uiteindelik op die groep sjimpansees afgekom. Ons het letterlik tussen hulle gestaan waar hulle bo in die bome baljaar. Dit was egter te donker om sinvolle foto’s te neem omdat ’n mens nie van ’n blits gebruik mag maak nie. Dit was werklik ’n ongekende hoogtepunt en ons het besluit dat ons volgende Afrika-avontuur ’n gededikeerde sjimpansee- en-gorilla-ekskursie gaan wees waartydens ons na hartelus kan foto’s neem en ons familie beter kan leer ken.
Vervolg ...
Thomas


