In die natuurwetenskappe word gespesialiseerde of vakterme dikwels gebruik om dubbel- of meersinnigheid te vermy. In die sosiale en geesteswetenskappe/humaniora word meesal van alledaagse terme gebruik gemaak. Dit is gevolglik nodig om sulke terme te definieer of duidelik te omskryf ten einde verwarring te voorkom of beperk. Kultuur en beskawing is sulke terme.
Die woord natuur verwys na die nie-mensgeskepte werklikheid. Kultuur, daarenteen, omvat in sy breedste sin al die veranderinge wat die mens aan die natuur aangebring het, asook alles wat hy dink en doen, bv om sy voortbestaan te verseker of te vergemaklik. Daar is dus materiële kultuurprodukte, bv tegnologiese middele, en geestelike kultuurprodukte, bv inligting in rekords soos boeke. Soms word die begrip kultuur vereng tot net sekere produkte van die mens se gees, soos kunsvoorwerpe, toneelopvoerings, letterkunde en musiek. Daar kan dus grade (bv massa- of elitisties) of trappe (bv laag of hoog) van kultuur wees.
Die teenpool van beskawing is wat as primitief, prehistories of barbaars beskou word. In hierdie konteks word van barbaarsheid gepraat en nie van barbarisme ('n taalkundeterm) nie. In sy breedste sin verwys beskawing dus na kultuur wat 'n sekere minimum ontwikkelingsvlak bereik het. Van deurslaggewende belang is dat die beskaafde mens in sy gedrag afdoende afstand tussen hom en 'n deel van die natuur, naamlik diere, skep. Byvoorbeeld, moord, kannibalisme, verkragting en bloedskande word as onbeskaaf beskou. Beskaafdheid is kenmerkend van sommige individue, terwyl 'n substansiële groep mense 'n beskawing genoem kan word, bv die antieke Griekse of die hedendaagse Westerse beskawing. Wat voorheen as beskaaf beskou is, kan mettertyd onbeskaaf geag word. Geweld, bv terrorisme, is myns insiens onbeskaaf.
Alle mense het kultuur in die breë sin. Groepgewys kom daar kultuurverskille (bv mono-en poligamie) voor. Groepe verskil ook in ontwikkelings- of beskawingsvlak, bv voetsoolvlakkers en elitiste. Tydens kolonisasie was die tydelike inkommers en die setlaars meesal meer ontwikkeld as die inheemses. Sedert dekolonisasie probeer inheemses om die ontwikkelingsvlak van die (oorspronklik) uitheemses verdag te maak en beskawing te stigmatiseer. Die politieke (eerder as ekonomiese) onafhanklikheid van eertydse kolonies word as bevryding voorgehou, terwyl dikwels nie net vryheid nie maar ook beskawing besig is om weg te lek. Kenmerkend is dat verandering dan gepropageer word terwyl dit eintlik om verbetering moet gaan.
Afrika word deur sommige wetenskaplikes as die wieg van die mensdom beskou omdat hulle meen die eerste mense het hier gewoon. Wat geen gesaghebbende deesdae beweer nie, is dat Afrika die bakermat van beskawing is. Daar word geredelik aanvaar dat daar iets soos Westerse en Oosterse beskawing is, maar daar kan (vergelykenderwys) kwalik sprake van Afrika-beskawing wees. In sovêrre daar sodanige beskawing is (of dalk veral was), is dit meesal aan uitheemses te danke wat hulle tydelik of (in 'n mate) permanent in Afrika gevestig het, bv veral in Suid-Afrika, voorheen in Algerië, in 'n mate ook in Namibië en Zimbabwe.
Botswana, Lesotho en Swaziland was voorheen protektorate, wat beteken het dat blanke inisiatief in hierdie lande doelbewus beperk is. Sprekende bewyse van die gevolge, dus van beperkte ontwikkeling, is steeds duidelik sigbaar. Van die vroegste tye af het mense uit Afrika beweeg en op ander kontinente verder ontwikkel, dus al hoe meer beskaaf geword. Die tragedie vir Afrika is dat die ontwikkeldes, wittes en swartes, steeds geneig is om liewer na elders uit te wyk. Die bietjie beskawing wat daar in Afrika is, lek weg. Dink bv aan Kenia, Mosambiek en Angola.
Dit geld ook Suid-Afrika. Dit is waarom ek na die nuwe Suid-Afrika as ons na-beskawingsera verwys. Dit is waarom ek graag wil hê dat die onbetwisbare ontwikkelingsrol wat wittes oor langer as drie eeue hier gespeel het, erken en gewaardeer moet word. Dit is waarom 6 April deur die nuwe bewindhebbers as 'n belangrike openbare vakansiedag erken behoort te word; nie as Van Riebeeckdag nie, maar as Beskawingsdag.
Pleks hiervan keer Afrika-politici hulle weg van die Weste (dus van die beskawing wat histories en geografies die naaste aan hulle is) en predik Afrikanisering, inheemse kultuur. Oosterse beskawing is blykbaar verfynd of soepel genoeg om vatbaar vir die positiewe invloed van Westerse beskawing te wees. Dink aan hulle aanvaarding en waardering van Westerse klassieke musiek en ballet. Afrika-kultuur, daarenteen, verkies veeleer 'n onverfynde getoyi-toyi en selfs brutaliteit, bv vuvuzelas. Op talle gebiede is die Ooste ontvanklik vir die voorbeeld wat die Weste stel, wat 'n hupstoot aan hulle ontwikkeling en voorspoed gegee het.
In Afrika, daarenteen, word bv Robert Mugabe se anti-blanke bewind en die gevolglike vernieting van landbouproduktiwiteit ondersteun, met die ANC-regering vooraan. Dit is 'n direkte gevolg van die doelbewus-eensydige wanvoorstelling van kolonialisme, asook van Westerse beskawing. Die destydse vergrype in die Belgiese Kongo word as alleen-verteenwoordigend van Afrika-kolonisasie voorgestel. 'n Teenpool is Abessinië waar Italië (geensins die voorste of talentvolste Westerse land nie) binne ses jaar (1935-1941) meer ontwikkeling gewerkstellig het as die inheemses gedurende die talle dekades, selfs eeue, wat die Italianers se koms voorafgegaan het. Weens anti-Westerse sentiment, anti-fascistiese ideologie en doodgewone moedswillige misleiding word dit verswyg. (Die waarde van die spoornetwerk kan erken word, al het 'n fascistiese regering dit geskenk.) Die Afrika-Unie behoort tydens iedere byeenkoms 'n onbestrede mosie van dank te aanvaar vir onverdiende Westerse geldelike en ander hulp. Pleks daarvan word daar gekla dat nie genoeg aalmoese in 'n bodemlose kultuur van ellende gestort word nie.
In die nuwe Suid-Afrika (en ook elders) is die wanvoorstelling van sy geskiedenis gewilder as ooit. Voor 1990 bestaan sy geskiedenis deesdae feitlik net uit vergrype deur wittes, dus slawerny, kolonialisme, segregasie en apartheid. Wat tot stand gebring is en veral watter bevolkingsgroep dit bewerkstellig het, word nie genoem nie. Daar word plaaslik eerder teen die vaandeldraers van die Westerse beskawing, die wittes en net die wittes, gediskrimineer. In die openbare belang behoort veeleer alles moontlik gedoen te word om die wittes se kundigheid en werkywer te behou. 'n Sterk saak kan uitgemaak word dat daar ten gunste van wittes diskrimineer behoort te word. Getrou aan sy geskiedenis (bv geweld) kies die ANC die voortgesette ondermyning van beskawing.
Johannes Comestor
('n Effe omstrede brekfisbrief vir julle. Laat waai met die kommentaar. Sien julle oor 'n week of wat! Webvoet)


