Ek het hom met bewondering en ontsag bejeën.
Jare terug, hier waar ek woon in die noordelike deel van die eens 'rustige kusdorpie' met net ons en so drie-vier ander huise, omring deur donkerbruin, amper swart vleidamme begroei met papkuilriet, varkore en waterblommetjies, het ek hom vir die eerste keer in sy volle glorie gesien. En nooit van hom vergeet nie.
Die paaie was nog van rooibruin gruis, net wyd genoeg vir twee karre om plek-plek by mekaar verby te skuur sonder dat die kantspieëls in die slag bly.
Hy het oor die pad en oor my pad gekom. Sy kop, so 'n voet bokant die gruis, het hierdie kant amper die rand van die pad gehaal terwyl die punt van sy stert aan die anderkant die ruigtetjies net-net verlaat het. Die lyf, 'n donker koper kleur, het geglinster in die sakkende son en waar dit in kontak met die gruis was, was dit so dik soos 'n man se voorarm.
Dit het sonder twyfel met hom voor die wind hier tussen die vleidamme en struike gegaan. Maar op daardie dag nie met my nie, want ek moes 'n moerse es met my dikwiel kap anders was dit seer sekerlik 'tickets'. Ek het nou nog letsels van daardie dag se gruisvretery.
Woensdag, so twee weke gelede, was dit een van daardie seldsame windstil warmer dae wat ons deesdae by uitsondering beleef. Ek het ge-'weed-eat' en die gras met die grassnyer netjies gemaak en was besig om die gereedskap in die Wendy-huisie onder in die hoek van die erf te bêre toe ek 'n luide geritsel, komende van die hoop droë akker-en melkhoutboomblare, so vier meter weg, hoor.
Daars hy toe weer ! 'n Jongeling so dik soos 'n man se twee duime langs mekaar en so 1,50m lank. Met sy kop so sesduim bokant die grond, met tongetjie en al beloer en betas hy my en seil ongestoord onder die omgedopte 'gutterpyp' in.
Nog net so mooi, glinsterende donkerkoperlyf. Maar nou is hier net huise. Daar is nie sprake van vleidamme en ruigtes nie. Huis op huis op huis. Honde en katte, mense en kinders. Motorkarre en grassnyers. Wat maak hy hier?
Die natuurreservaat is drie-vierhonderd meter met 'n blok huise en erwe tussen-in, weg. Dis fynbos en berg, dis mos sy plek, nie hier nie. Hy't laat blyk dat hy heel gemaklik daarmee is dat hy hier tussen ons woel. G'n senuweeagtigheid nie, g'n bakkop nie. Hy's nie 'n bosslaper nie, aikôna, hy bly hier in die beskawing.
Soos 'n volstruis is hy driekwart onder die stuk gutterpyp in met die agterkwart wat nog uitsteek. Ek het my bloedig vererg omdat ek geskrik het en hy geen teken van stress getoon het nie. Toe tref dit my ... hy is seker gewoond aan die buurtlewe!
Ek kyk rond en sien my oorle pa se stewige yster blaarhark
teen die huisie aanleun, strek my hand uit en toe hark ek hom met 'n draaibeweging. Die kwartlyf kom los en met sy winkelhaak gemoerde agterkwart is hy deur die spleet in die 'prefab-wall', na buurman wat al vir sesjaar lank aanbouings doen, nie klaar kry en nie daar bly nie, se kant toe. Hy bly natuurlik in die bourommelhope.
My skadelose bruin slak-etertjies het net verdwyn en ek verstaan nou. Ek't hom gegoogle. Kannibalisties, aggressief, vinnig, vinnige pik en natuurlik uiters gevaarlik, jy't nie veel tyd nie, op die meeste ses uur.
Ek vertel en word 'n telefoonnommer in die hand gestop- die van 'n "Slangvanger par excellence". Nee wat, ék skaf toe 'n lekker kragtige windbuks aan.
Nee, se moer. Ek sal hom self uitsorteer!
Groetnis,
Raed-na-Gael


