Die paar briewe wat handel oor gedagtes aan oumense het my gedagtes laat teruggaan na so 3 jaar gelede se gebeure. Ek voel effens verdrietig terwyl my gedagtes so dwaal. Die gevoelens van skuld het my weerhou om hierdie stukkie geskiedenis voor vandag neer te pen.
AF Visser, vandag skryf ek oor jou! Hierdie merkwaardige man, was my Pa. Beroemd - nee! Bekend - nee! Bemind - ja! Honderd-maal, ja! Iewers vroeg in die jaar 2007 vertel hy vir my dat die Here met hom gepraat het. Dat sy tyd min is. Dat die Here vir hom nog ‘n bietjie tyd gegee het om te lewe, tot kort na sy volgende verjaardag (7 Augustus 2007). Hy is uitbundig oor die vooruitsig dat hy sy 83ste verjaardag nog saam met ons
Die laaste week in Julie 2007 kry Pa ‘n bloedklont in sy regterbeen. Die weefsel sterf af binne 2 dae en die been moet afgesit word. Die keuses is nie baie nie. Minder as 5% van mense op die gevorderde ouderdom, oorleef lank na so ‘n amputasie. Word die operasie nie uitgevoer nie, is gangreen en ‘n moeilike (pynlike) einde sy voorland. Die been word afgesit. Pa is te swak om huis toe te gaan en ons vier sy verjaardag saam met hom in die hospitaal.
Nooit kla hy oor enigiets, behalwe die pyn nie. Maar hy wil huis toe gaan. Hy wil tuis wees wanneer hy sterf. Die dokter weier dat hy huis toe gaan solank hy nog so swak is. Ek voel lus en steel hom uit die hospitaal uit, om sy wens te respekteer. Die familie dink ek is van lotjie getik, om dit eers te oorweeg! Ek los dit maar.
’n Week later sterf AF Visser stilweg in sy slaap.
Groetnis,
Neels (Husky) Visser


