Daai X-faktor waaroor in die laaste ruk geskryf is wat die meisies se knieë laat knik - ek soek hom my lewe lank. Nog nie gekry nie, en sal ook seker nie. Maar ek had die voorreg om vir Chief Petty Officer Vom Hafen te ken - nie lat ek toe so gedink het nie.
Met die oproep Kimberley toe was ek, soos die meeste van die Jannewarie-inname nog nat agter die ore, maar met meer hormone binne my as wat vir 'n jong mens gesond kon wees. My enigste doelwit vir die jaar (behalwe om die army te wil oorleef) was om so gou moontlik 'n bokkie plat te trek.
Die probleem was daardie flippen X. Ek had gou 'n paar vriendinne gemaak, onderwyseresse meesal, maar dié wou net soen en koffie drink. So tussen die kursusse deur kom die groot breek toe - een van hulle nooi my vir 'n naweek na die familie se strandhuis by Groot Brak. Met 'n eensame swembroek in 'n tas vol kondome was ek so opgewonde soos 'n troep op naweekpas. Dit was ver, en baie lekker, Tanya Tucker het "Delta Dawn" gesing en gesing, en ons het baie gesoen en koffie gedrink ...
Toe gryp die noodlot in. 'n Krisis op Katima Mulilo het my halsoorkop op die grens laat beland. Met die genade het dinge vlot verloop, en ek is gou weer terug Kimberley toe om 'n bokkie te loop soek. Skielik met 'n reputasie, nie vir dapperheid nie, maar na 'n tweede besoek aan die Grens was ek skielik gereken as 'n spesialis op my gebied - alles het 'n bietjie vinnig en onverwags gekom.
Die probleem vir 'n nat-agter-die-ore lat wat skielik gereken word, is juis die nat-agter-die-ore deel. Dra oornag 'n volwasse se deel, maar nog piepjonk in die kop. 'n Kursus is gereël en ek is kursusleier gemaak, met uitnodiging aan alle eenhede in die Weermag om lede te stuur. Dit was 'n bietjie rof. Ek kon my portuur hanteer, maar die senior staandemagonderoffisiere was 'n probleem. Staf Mitchel Innes was net slapgat, maar Chief Petty Officer (CPO) Vom Hafen van Saldanha had daai X. En het hy dit nie gehad nie!
Ek't 'n drywer gestuur om die CPO op die stasie te loop haal. Bruingebrand, met blou oë in die blouselblouvloothemp was hy nogal 'n prentjie vir ons wat gewoond was aan die see van bruin elke dag. Dit was die Sondagmiddag voor die kursus - ek het hom al die dokumentasie gegee en onderoffisiermenasie toe gestuur.
Die volgende oggend storm my sersant in die kantoor in: Daar's groot kak, die matroos het sersant Bulldog se vrou gespyker! So, sy's 'n nympho? Nee, hy't haar op Sersant Bulldog se Vollie se neus op Diskobolos se draai gespyker, en toe Bulldog en 'n pêl dronk van Kimberley af terugkom, het die pêl se ligte reg op die spulletjie geskyn. Dié keer kon ek die RMS kry om die situasie te ontlont, maar ongelukkig moes ek die volgende moeilikheid self oplos.
Die getroude matroos het 'n vrou se telefoonnommer van agterop 'n Bedford se bak bekom, met gebaretaal (arme ek was hormoondesperaat voorin die flippen Bedford). Toe ons stilhou, vra hy of hy haar gou kan bel van my kantoorfoon af, en die CPO had 'n lêplek. Nogal 'n veearts.
'n Week of so later kom hy by my met 'n telegram. Sy vrou was met sy horse box op pad na 'n springkompetisie in Milnerton toe sy die horse-box gerol het. Sy's in 'n toestand, horse-box afgeskryf, die perd moet uitgesit word; kan hy die gemors gaan uitsort?
Ja, sê ek bekommerd, wat kan ek doen? Treinbespreking?
Nee, sê hy, hy vlieg sommer, sal Dinsdag terug wees.
Bekommerd kyk ek sy breë blou rug agterna. Hy was Dinsdag terug, maar eers die volgende een. En Kiepie moes hom deur die kursus kry.
'n Jaar later ontmoet ek mev Vom Hafen by 'n funksie - lieflike middeljarige vrou met mooi tienerkinders. Jammer oor die ongeluk met die horse-box, sê ek naïef. Watse ongeluk? Ek ry glad nie perd nie! Toe moes ek my uit daardie een lieg - frieken Vom Hafen en die veearts was al die tyd op honeymoon.
Met my babagevreet word ek gereken onder die manne, maar kon nog nie verby die soen en frieken koffie vorder nie. Dis toe dat 'n pêl my vertel van die ongevalle-suster. 'n Wonderlike vrou, sê hy, net reg vir jou.
Saterdagaand kom sy opgetof die wagplekkie by die verpleegsterstehuis in - nie 'n skoonheidskoningin nie, maar baie aantreklik en vol persoonlikheid. Trouvrou! My hormone is op hol en ek is sommer halsoorkop verlief. By die buitedeur loop ons in 'n breë onderoffisiersbors in 'n bloeiselblou hemp vas wat op pad in is. 'n Breë wit glimlag krul oor sy bruin gesig: Naand, luitenant! Naai sy?
Die angswekkende gil en trane het lank by my gespook terwyl ek droëbek terug is Jack Hindon toe. Baie alleen besluit ek toe daar en dan om my standaarde te drop, dit help nie om ordentlike girls te date nie.
'n Paar weke later sluit ek by die Vryvalklub aan. Die Vrydag daarna is daar 'n vreeslike gefuif na die inoefening vir die volgende dag se spring - so asof almal bang was dat die valskerms foutiewelik opgevou kon gewees het. Laataand word die motorsleutels in 'n hoed gegooi. Ek stribbel nog halfhartig teë omdat ek nie met 'n date daar aangekom het nie - toe haal een van die getroude vrouens dit uit my broeksak, en dis nie al was sy probeer uithaal het nie. Hel, ek was bang!
Kaptein Jorrie se date het my Variant se sleutel getrek. Ek wou nog wonder hoekom hy nie sy eie vrou saamgebring het nie, maar ek het nie kans gekry nie. Ek het die volgende môre in Charmaine se vaal flêtjie wakker geword - die heel gelukkigste man in die wye wêreld. En toe sy wakker raak, word ek nog gelukkiger. Later moes ek vlug om betyds vir die aerie te wees, maar met 'n lied in die hart. Selfde aand was ek met mening terug in die vaal flêtjie.
Met die tot verhaal kom heelwat later in die week, onthou ek so half en half teen my sin in van 'n Charmaine was so gewild onder my seniors is. Daar is sekerlik meer as een Charmaine in hierdie Engelse stad.
My probleem vir die groot formele funksie met generaal Malan se besoek is toe ook opgelos. Met die vra is sy amper oorgretig - was glo nog nooit by een nie, moes altyd net hoor hoe lekker dit is. Snaaks, dag ek, maar ek het weer nie veel tyd gekry om verder te dink nie.
Ons kom die pragtig gerestoureerde en deftige eetsaal binne, borrelend van opgewondenheid. Sy met 'n crimplene mini wat tot die kerse se vlammetjies kiertsregop maak staan, gitsswart boudlengte hare en 'n cleavage wat my oë vasnael en my hart aan die bons het. En met 'n moerse rooi smile. Net myne was groter.
En wat rêrig nice was, is dat sy byna elkeen van my seniors entoesiasties op die naam gegroet het. Amazing girl. Agterna het ek onthou hoe eienaardig was dat die offisiere so verdwyn het, soos mis voor die son, en dat hulle vrouens my so onheilspellend ongeskik aangegluur het.
Toe ek weer sien is dit net ek en die kolonel. Hy vra my om die dametjie dadelik huis toe te vat. Onmiddelik. Ek wou nog verdwaas vra hoekom, maar sy het my voorgespring:
"Sukkel die tannie nog so om ons ou Jacob Regoppie gelukkig te hou, Kolonel?"
Groetnis
Kees Bottersma


