Bokomo-brekfisbrief; 07/07/09: Verwerp, sê jy? Neem net 'n ou pilletjie!

  • 0

 

 

Julle moet hoor wat my dokter my nou die dag vertel het. Daar's glo twee splinternuwe antidepressante oppad! Van Europa af. Die een, sê hy, affekteer nie jou gewig óf jou libido nie; ʼn newe-effek wat maar algemeen voorkom by baie van die happy-drugs. Depressielyers hou maar uit: Hulle voel hulle sal veel eerder vet en vrolik wees, as maer en moerig. Maar dit is die ander antidepressant waarvan die dokter praat wat my meer opgewonde het: 'n Pil vir verwerping! My dokter vertel hierdie pil is glo wonderlik vir mense wat moeilik verwerping hanteer.

Hy vertel dat hy op die oomblik niks verdere inligting het nie, net dat die pille glo einde van die jaar in SA op die mark sal wees. Aha, sê ek toe vir myself, net betyds vir die Desember-vakansie! Ma kan dan vir Sarel Sweterige-Handjies gou 'n pilletjie injaag net voor die einde-van-die-jaar werksfunksie. Dan voel Boeta darem nie so verwerp as die meisies nie met haar seun wil langarm nie.

My agent, Tarryn, is in haar noppies toe ek haar vertel van hierdie nuwe antidepressant. Sy sê sy wil sommer 'n boks bestel van die goed: "Dan, wanneer 'n akteur nie 'n rol kry nie, laat ek hom kom na ons kantoor toe, gee vir hom 'n glas water en 'n pilletjie op 'n piering en sê vir hom slúk, ek het núús", skerts sy.

So 'n pil sal mos fantasties wees, glo ek! Wanneer jou kêrel jou los, is dit nie meer naweke van huil tot jy opgooi nie. Jy lag net uitgelate vir hom en huppel dan vrolik weg na die volgende ou.

Maar nou op 'n ernstiger noot: Almal weet hoe erg pynlik die gevoel is van om nie goed genoeg geag te word nie. Maak nie saak deur wie nie. En as jy nog boonop 'n depressie-lyer is, is die gevoel van verwerping véél erger. Ek is nie seker of die pragtige Amerikaanse aktrise Morgan Brittany (wat destyds Cliff se blouoog-vriendin in Dallas gespeel het) aan depressie ly nie, maar sy sê sy kan dit nie help om dit nie persoonlik te neem wanneer sy afgekeur word vir 'n rol nie: "Everything is a rejection of you, not your product, or your script, or a cosmetic. It's you." En dit was mos die sportster Lance Armstrong wat gesê het: "A boo is a lot louder than a cheer."

Verwerping is in een woord aaklig. Dit is moeilik om weer op te staan nadat jy gefire is van jou werk, glo my. Ek was al drie keer in my lewe gevra om te gaan. Hoe laer jy oor jouself voel, hoe erger is dit. Selfs net 'n bietjie goed bedoelde kritiek kan jou laat afspiraal tot in die duisternis in. Dit is nie lekker nie. Veral nie as jou brood en botter van andere se goedkeuring moet afhang nie, soos kunstenaars. Die "sensitiewe tipes". Ironies genoeg is dit hierdie mense wat die meeste aan verwerping onderwerp word. Jou kuns is mos wie jy is. Dit kom uit jou gut. Kritiseer jy my produk, kritiseer jy my. Ek het 'n kunstenaar geken wat die pragtigste skilderye kon maak. Dan het hy vir elkeen ook 'n raam gemaak wat daarby pas. En dan dit in 'n kamertjie gaan wegsit, waar niemand dit kon sien en moontlik kritiseer nie. In daardie donker kamertjie het ek honderde skilderye vol stof en spinnerakke gesien. Toe onder doeke.

Maar nou wonder ek, sal hierdie pil dan nou werk vir álle tipes van verwerping? Soos byvoorbeeld rassisme, verwerping van jou geloof, van jou geslag, 'n kind deur ʼn ouer verwerp ...

Die sielkundiges sê verwerping deur 'n ouer is seker een van die mees traumatiese ervarings wat 'n kind moontlik kan hê. Die kinders kom glo nooit daaroor nie. Siestog, 'n ou fling van my, Charles van Rooyen, het my eendag vertel dat sy ouers gewoonlik vergeet het om hom afnaweke by die skoolkoshuis te kom haal. Sy ouers was geskei en dan het die pa gedink die ma gaan hom haal, en die ma het gedink die pa gaan hom haal ... en dan het niemand gekom nie. Na 'n paar kere het Charles maar ook ophou bel. Hy het toe later in Standerd 8 'n usher geword by die movie-huis op die dorp, en toe sy eie woonstel gekry. Dan kon sy maats ten minste nie sien wanneer sy ouers van hom vergeet het nie.

Ja, dit moet vreeslik wees om deur jou ouers vergeet te word. Ek is seker dit tas jou gevoel van menswaardigheid lelik aan.

Jare gelede in die laat 80's het ek 'n klein rolletjie in 'n televisiereeks gehad waar ek die matrone in 'n hospitaal moes speel. Die verfilming het in 'n ou hospitaal van die Salvation Army geskied, diep onder in Johannesburg se middestad waar baie arm mense woon. My 15-minute toneel sou in die babasaal plaasvind, het die assistent-regisseur vir my kom sê terwyl die stilleerder my hare in 'n stywe bolla knoop. Oppad na die saal toe loop ek in volle matrone-mondering, kompleet met maroen kappie, en fluister vir myself weer die paar sinnetjies wat ek moes onthou. Ek was so bang ek vergeet dit, want ek was maar pas uit dramaskool, en netnou word ek gefire.

In die babasaal was omtrent 25 bababedjies, elkeen met 'n kind in van jonger as twee. Elkeen van hierdie babas was deur hulle ma's weggegooi. Hulle is opgetel op die trappe van kerke, vuil met nog 'n naelstring aan uit vullisblikke, half verdrink en vol slik uit damme uit, in die kraamsaal net so gelos.

Ag, maar hierdie kinders was stroopsoet. Gedurende die shoot het daar nie een piepgeluidjie vanuit enige van die bedjies gekom nie. Net daar met groot oë gelê.

Nadat ek klaar geskiet het, die te klein verpleegsterskoene afgeruk het en die laag op laag grimering afgeskrop het, stap ek toe na my motor toe. En daar sien ek die mooiste prentjie! Julle moet onthou dit was in die laat 80's. Al langs die muur van die hospitaalgang net buite die babasaal het omtrent 20 vroue in 'n netjiese ry gesit op donker rooi plastiekstoele. Die vroue, almal wit. En elke een het gesit en speel met 'n babatjie op haar skoot. Weggooibabas. Dogtertjies en seuntjies wie se ma's hulle nie wil of kan hê nie. En ek onthou die weerkaatsing van die wintersonnetjie wat deur die hoë, stowwerige vensters geskyn het, was goud. Die rooi van die stoele het dieper geword; die son het die ligte kleur van die vroue se velle afgeëts teen die sjokolade-bruin van die babatjies in hulle skote. Dit het wragtig gelyk soos 'n prentjie uit die Kinderbybel uit! Ek het gewens ek het 'n kamera gehad.

Oppad uit na die parkeerarea vertel die een verpleegster dat die vroue volunteers is. Dit is gewoonlik kinderlose vroue of oumas wat na hulle kleinkinders verlang. "Hulle's nie hier om doeke om te ruil of babas te voed nie. Net hier vir die speel", het sy nadruklik gesê. Sy sê dat wanneer babas nie genoeg vasgehou word nie, hulle sommer sal doodgaan.

Sal die pille vir dié kinders ook werk eendag, wonder ek nou. Sal dit hulle help om die pyn, skande en skade te kan oorkom?

Maar om verwerp te word of gekritiseer te word lei nie altyd tot pyn en skade nie. Ons almal weet mens het so nou 'n skop in die agterent nodig. Jy leer om sterker en slimmer te wees volgende keer. In ons Westerse samelewing kan mens in elk geval nie bekostig om te gaan lê na elke mislukking nie. Jy moet maar jou trane afvee, jou neus snuit en maar weer probeer. Aanstap, Rooies ...

Ek wonder tog of hierdie pil so goed sal wees soos wat ek hoop. Wat sal gebeur as niemand meer geaffekteer word deur verwerping nie? Om net laggend en huppelend deur die lewe te gaan sal mos te veel wees vir ons gestelle. Ons Afrikaners is immers die nasate van die stoere, dapper Voortrekkers wat swaar getrek het oor die Drakensberge. Ons weet van sukkel. Nee, om té gelukkig te wees kan nie goed wees nie.

Ek laat weet toe vir my dokter ek dink daai pil gaan nie goed wees vir ons nie. Die dokters moet maar die order stop. Want dit is juis die pyn van kritiek en verwerping wat mense uiteindelik beter mense maak. Charles van Rooyen is vandag gelukkig getroud en 'n suksesvolle sakeman, het ek laas gehoor. Maar my dokter sê die pille is net vir mense wat totaal buite beheer raak wanneer hulle verwerp word. So, ek neem nou maar aan hy praat van iemand wat die bankbestuurder voor 'n trein sal ingooi as haar lening nie goedgekeur word nie; wat 'n meisie in die duine sal gaan begrawe as sy nie terug lief is vir hom nie.

Hierdie tabletjie is dus nie vir normale mense soos ek en jy nie. Ons huil, maar nie té hard nie.

Ingrid Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top