Bokomo-brekfisbrief; 07/07/08: Willempie en stoei

  • 0

So aan my oorvertel en nie gesien. Hoorsê-getuienis.

Daar doer op Garies het oom Groot Willem net duskant die hoenderstellasie, wat Garies genoem word, geboer. Hy was Groot Willem genoem vanweë sy klein figuur, maar leeuhart. ’n Skrikbewind van elke kroeg, naby en ver. Groot Willem had ’n seun, Willempie, groot van figuur maar flou van hart. Baie mense het saggies, wanneer Groot Willem ver, baaaie ver, weg was, sag gefluister dat die kjênd darem alte veel na Rondloop Koos op die buurplaas trek.

As kind wou oom Groot Willem geldgraag sy held van daardie dae, Jan Wilkens, na-aap en stoeier word. Klaarblyklik het die afrigter by die stoeiklub hom net één kyk gegee en vergelyk met ’n poep teen donderweer tussen die ander manne. Nodeloos om te sê, die afrigter se seun het die volgende dag met dik geswelde oë by die huis aangekom, en die dag daarna, en die dag daarna. Totdat die afrigter op dag vyf genoeg gehad het en sak en pak met sy gesin na Springbok verhuis het. Glo iets te doen gehad met ’n doodsdreigement een oggend in sy posbus gevind.

In Willempie het oom Groot Willem die verwesenliking van sy droom gesien. Vanaf 4-jarige ouderdom moes die mannetjie stoei. Nooit watwonders gewees nie en baie maklik gehuil. Tot die dag in standerd agt.

Rondloop Koos se eie seun, drie jaar ouer as Willempie, het een pouse in Willempie se oor die dorp se skinderstorie gefluister en hande gevou vir Willempie uitgelag en halfbroer genoem. Die longdrop was behoorlik vol toe Willempie dit vir sy pa na skool vertel. Die tyd van afrekening sou die aand by die stoeiklub plaasvind. Soos met elke klein dorpie het die storie vinniger as ’n tsunami deur die plek gespoel en daardie aand moes selfs dominee veg vir ’n sitplek langs die kryt.

Willempie het wit om die kiewe in sy hoek gesit terwyl Klein Rondloop Koos rondgedartel het soos ’n nuwe haan in die hennehok. Toe die klok vir die eerste rondte lui, het Willempie soos blits onder Klein Rondloper Koos ingevaar, net om dubbel gevou te word. Klein Rondloper Koos was ’n stoeier van formaat en elke keer as Willempie met malende arms instorm, is hy dubbel gevou en speels op die boude gewiks.

In rondte drie het die ding gebeur. Willempie, ver agter op punte, het weer verwoed ingestorm en was weer dubbel gevou. Hierdie keer het Klein Rondloop Koos egter verder gegaan en homself om Willempie in ’n dubbele Nelson gevou. Almal het geweet hy gaan vir die ‘kill’. ’n Kattemaai skreeu, wilde arms wat oral uitpeul en ’n dubbelhaakhou later lê Klein Rondloop Koos uit soos ’n kers op die stoeimat. Die stilte was oorverdowend tussen die verbaasde toeskouers. En toe ’n helse applous vir Willempie.

Laat die aand op die stoep, terwyl Willempie steeds pynlik rondskuif en soms kreun, vra Groot Willem vir Willempie wat daar in rondte nommer drie gebeur het.

Nee, vertel Willempie, die ding staan so. Toe Klein Rondloop Koos hom weer dubbel vou en homself om Willempie vleg, sien hy wat Willempie is ’n paar kroonjuwele in ’n sakkie hier voor sy gesig hang. Nie te skoon nie maar naby genoeg. Blykbaar het hy daar en dan besef sy hoop vir lewe hang in hierdie sakkie, en hy’t gehap. Gehap uit desperaatheid en met wrede kake.

“Pa”, het hy Groot Willem in die oë gekyk. “Weet pa hoe dit voel dit om jou eie knaters te byt?”

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top