Bokomo-brekfisbrief; 07/06/2010: 'n Vrou van NAAM

  • 0

Soveel kere vang die manne die oog met hulle doene en late. Maar al ooit gedink aan die vroue wat agter (en dikwels vóór) die manne staan? STAAN! Staan soos ‘n Frieskoei. En boetie, het jy al mooi gekyk na ‘n Frieskoei se staan? Sy staan vierkantig. Haaks. Dis ‘n staat van staan.

Jonk nog, en ek werk in ‘n fabriek daar doer ver weg in die agterbosveld. Groot plek. Arbeidsmagtig. So tweeduisend siele wat daar woel en werskaf. Dit is net manne wat daar werk. Die gewone, Ingenieurs, chemiese, instandhoudelike, prosesgewyse en dies meer. Dan is daar die manne wat met hulle se spiere werk. Hulle dra en pak en gooi en tel op. Swaar werk. Die soort van werk wat jou rugspiere skeur. Skofte is nege ure lank.

Ek het met my aankoms daar gedink ek moet bietjie van daai werk probeer. Net sodat niemand kan sê dat ek nie weet van swaarwerk nie. Herre. Ek het ‘n uur gehou. Na ‘n uur van optel vang en pak sien ek net swart voor my oë. Ek glip toe maar weg na my kantoor. Met nuwe respek vir die manne wat die ‘spierwerk’ doen.

Dit net ter agtergrond. My sekretaris klop aan die deur. (Ja, dis ‘n mannetjie en in daai dae was daar nog nie so iets soos ‘n “oopdeur”-beleid nie. Die ding was toe. So toe soos ‘n klei-os se gat.)

“Meneer …” (Ons het mekaar in daaise dae nie op die voornaam geken nie.)

“Ja. Wat wil jy.”

“Meneer, hier is ‘n vrou om meneer te sien.”

“’n Vroumens.”

“Ja meneer.”

“Is jy seker?”

“Um … Ja meneer dis ‘n vrou meneer. Ek dink so meneer.”

“Nou stuur haar in! En bring koffie of iets.”

Die deur gaan oop en die mens stap in.

Verstaan my mooi. Ek bedoel dit goed as ek sê dat die gedagte van ‘n Frieskoei my treffe. Dit is ‘n reuse mens. In Digterlike taal “breed en bonkig van stuk.” Natgesweet. Hulle het van die plaas gestap. So veertig kilometer vanaf.

Sy vertel my sy soek werk vir haar man. Haar man H. Dit is droog op die plaas en hy moet werk tot die reent kom.

Vertel ek haar dat ek net geskoolde arbeid en handearbeid het. En waar is H?

Nee, beduie sy hy sit hier buite. Hy wag. Hy is nie geskool in arbeid nie. Nooit nie. Maar hy kan glo werk. Hy sal enige werk doen. Hy is glo handig en nie lui nie. Sy hou hom dop.

Nou, ek ken die agterbosvelders. Hulle is soos die visters. Harde mense. Hard van gees en hard in die kop. Hulle ken van swaar en oorlewe. Van met minder as min  klaarkom. Om die lewe en sy dinge gelate te vat. Jy praat nie hier van ‘sout van die aarde’ nie. Dis veel meer as dit. Dit is mense wat naby aan die wesensaard van die lewe, lewe. Ek dink nie hulle besef werklik dat hulle verskriklik swaarkry nie. Die wêreld van kantore en motors en kleinluukse is ‘n mitiese wêreld wat van ‘n afstand, onbegrypend en met agterdog betrag word. Ek is baaie lief vir hulle.

“Mevrou, al werk wat ek het is in die packing plant. Maar dit is harde werk. Hoe oud is die oom?”

“So laat vyftig. Maar hy is sterk meneer. Hy sal kan. Ek sal seker maak.”

Ai tog.

Ek stap uit en groet vir H. Klein, skraal en sonverbrand. Hy sprak geen sprook.

“Mevrou, kom ons probeer. Maar ek weet nie.” (Die ‘higher ups’ in Johannesburg gaan my aan my knaters ophang as hulle hiervan uitvind.)

H begin werk. Ek loop so ‘n dag later deur die “plant” en sien hy wikkel. Die voorman beduie dat hy heel goed byhou. Die ding kan dalk werk.

‘n Week later stap een van die werkers van die “packing plant” verby. Ons groet en ek vra hoe dit met die “plant” gaan. ‘Nee goed’, beduie hy, “maar daai miesies, eish! Sy werk ons onder die trokke in!”

“Wat!?”

“Daai groot vrou.”

Herre.

Ek hol daarheen. Wragtag! Daar is sy besig om sakke van 50 kilos elk op trokke te gooi. H, beduie die voorman, is siek en sy staan in vir hom. Sy vat dubbelskofte. Hy is te bang om nee te sê.

Moet iemand nou nie vir my vertel dat ‘n vrou van NAAM nie ‘n man vir wie sy lief is, se werk kan doen nie! Respek boetie, RESPEK!

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top