Bokomo-brekfisbrief; 07/04/09: Skoolhou

  • 0

 

 

Jy stap op so 21 of 22 in die skool in. Blink ogies en mooi gepoleerde drome. Die eerste dag in die personeelkamer vra 'n gryskoptannie jou om asseblief op 'n ander stoel te gaan sit want jy't op HARE durf sit. Stert tussen die bene sluip jy na 'n oop stoel.

Die hoof verwelkom jou, maar vergeet jou naam. In die klas gaan dit darem 'n bietjie lewendiger, té lewendig. Jou registerklas is Standerd 7 Laer Graad. Voor hulle nog in die klas kon instap, baklei twee meisies, gooi 'n paar seuns twee boeksakke oor die reling en spoeg 'n ander op die kop van 'n matriek wat onder hom, op die grondverdieping, staan. Jou klas is op die boonste vloer.

In die eerste periode begin jy uitsien na pouse, ná pouse kan jy nie wag dat die huistoe-klok moet lui nie. Die hele week sien jy reikhalsend uit na die naweek.

Dan begin dit weer van voor af.

Uiteindelik raak jy stadigaan tuis en begin dit geniet. Die kinders leer ken jou en jou manier van doen. Jy gee sport en hardloop saam met die kinders op die veld rond. Oueraand sien jy die ouers. Jy weet nie wat jy doen nie. Hulle weet dit en jy weet hulle weet.

Jy dink terug aan Opvoedkunde I, II en III wat jou niks geleer het nie en waar dit basies gaan om "Wat is die vak Opvoedkunde?" Jou enigste grashalms waarna jy desperaat in jou eie gedagtes gryp, is die feit dat jy net anderdag nog 'n tiener was, en jy weet hoe jou leerlinge dink en jy't Chemie, Fisika en Wiskunde geswot. In die klaskamer gaan dit al hoe beter, totdat jy een dag besef een van die seuns staar na jou.

Op daai manier. Jou nek word warm, dan stoot die rooi op na jou gesig.

Jy draai jou rug na die klas en begin vinnig 'n som verduidelik. Die volgende dag vermy jou oë daardie kant van die klas maar jy weet hy staar. Een dag, toe die klas jou moedeloos maak en jy in trane uitloop, is dit hy wat agternakom en troos. Jy jak hom af. Kan glad nie hierdie verwikkeling hanteer nie. Gelukkig gaan dit ook verby.

Jy kry jou eie gesin en hou op onderwys gee, totdat jy eendag besef jy't soek geselskap van mense wat ouer as vyf jaar is. Buitendien voel dit of jy nie meer 'n brein het nie. Skoolhou is ideaal, jy werk net halfdag en daar's ander voordele ook - jy kan net nie onthou wat nie. Dit hou drie jaar. Op manlief se aandrang en ook omdat daar 'n derde kleinding op pad is, bly jy maar weer tuis.

Die skool bel jou toe kleinding 'n jaar is. Net twee maande, geen buitemuurs nie. Die twee maande word twee jaar. Teen hierdie tyd weet jy wat jy doen - voorbereiding is die minimum, want jy het alles reeds gedoen en jy kry resultate.

Een aand by 'n oueraand tref dit jou. Jy kan saamgesels, jou kinders is ook tieners. Jy weet waarvan jy praat, jy weet dit en jy weet die ouers weet. Dis lekker.

Maar net 'n rukkie lank, totdat die hele onderwysstelsel verander en UGO ingestel word. En wie doen die werk? Ons woon werkswinkels by met aanbieders wat minder van ons vak weet as onsself. Ons leer die nuwe stelsel met Leeruitkomste en Assesseringstandaarde, ons maak die werkkaarte, skryf boeke vol notas, eintlik skryf ons nuwe handboeke en leer om positief te bly al stem ons glad nie saam oor die manier waarop dit geïmplementeer word nie.

Alles word oorgedoen. Die nuwe jong onnies kom in, hulle weet van UGO, ken nie eers die ou sisteem nie. Ongelukkig weet hulle nie van die dae toe respek en dissipline in skole nog 'n gegewe was nie.

Ek besef nou daar kom 'n draaipunt.

Dit gebeur wanneer jy ouer is as die kinders se ouers en as die nuwe onnie jou kind kon gewees het. Dis bevrydend. Jy weet regtig wat jy doen. Oueraande is nou interessant. Deesdae voed jy sommer die ouers op. Jy het jou eie kinders goed grootgemaak. Jy kan raad gee. Jy het empatie. Jy gee kinders 'n drukkie en worry nie oor hofsake nie. Jy's hulle ma, nie die poppie na wie hulle staar nie. Jy het nie jou eie sitplek in die personeelkamer nie, jy het daardie sisteem verander by elke skool waar jy skoolgehou het.

Nog 'n paar klasse het jou al tot trane gedryf, maar net een keer in amper dertig jaar dryf jy ʼn kind tot trane. Maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top