Bokomo-brekfisbrief; 07/03/2011: Voete (weereens) (L)

  • 0

Ons sit en gesels oor Voete en soos ons gesels so kom die onthou weer terug. Want met die tyd saam vervaag dinge mos en sit mens soms, as jy na my Geliefde Blou Dam sit en kyk met ’n varse glimlag sonder om regtig te besef hoekom jy glimlag. Want niemand praat van ou Voete sonder ’n glimlag op sy gesig nie. Ek het al tot vervelens toe gepraat oor Voete, die legende van Witsand, en, soos dit mos met legendes gaan raak die stories nooit op nie, hulle raak net beter.

Hierdie het egter werklik gebeur. G’n "urban legend" soort van ding nie.

Ek gaan nie weer uitwei oor Voete se "vermoëns" nie. Hy was wel ’n "vermoënde" man, sonder om rykdom hier in te bring. En die verhale oor hom het dalk al reg rondom die wêreld gegaan.

Die aand wat ek van praat is vaag want daai gees wat in die bottel woon het ingevaar en meer as sy deel gedoen. Die aand wat Voete na baie jare se selibaat leef (dit was nie sy keuse nie) per ongeluk op ’n geluk afgekom het. Want jy weet mos maar hoe dit gaan as die gees vloei en dinge plesierig raak: Jy mis mos nie iemand wat wegraak nie want deesdae se dop huur mens mos in elk geval net. Dis skaars in en dan moet dit weer uit.

En so het Voete weggeraak en is nie gemis voor die volgende rondte nie. Want met die skinkslag was daar een glas kort. Voete s’n. En Voete sou nie ’n rondte mis tensy daar dood of, mmm, ’n baie goeie rede was nie. Buitendien, Voete was vir die donker banger as die duiwel vir Petrus. Veral na Piet Gif se storie. Want hy het geglo Piet Gif hou hom dop. Jy weet mos al van Piet Gif en die hele relaas, so ek gaan dit nie weer herhaal nie.

So verdwyn Voete. Weg van die bottel af. Baie laat die nag het ons die krete gehoor en nie veel daarvan gemaak nie. Mens reageer mos nie regtig op so iets hierdie tyd van die nag nie, want die wat beskaafd is slaap hoeka al en die wat nog nie slaap nie is nie beskaafd nie. Tog. soos hulle sê: Klank trek baie verder in die nag. En dalk klink dinge ook harder as in die dag, ek wetie.

Ons het vir Voete gekry, ’n blok van sy huis af. Moedeloos. Regop sittende soos ’n dooie. Die manne het eers gedink dat iemand vir Voete met ’n lange mes bygekom het want sy derms het uitgepeul, die pad vol. Probleem is, en as jy ooit met ’n messteek in die buik gewerk het sal jy weet: Hier is nie bloed nie. Iets is verkeerd. Kom toe uit Voete het bloot nie sy broek aan nie. Dit wassie sy derms oppie pad nie.

Die volgende dag het ons die waarheid gehoor: Voete het uiteindelik "gescore". Iewers by George se winkel die afspraak gereël en sy kans gevat toe hy sien dinge gaan lekker. Stilweg verdwyn. Maar al is die legende wyd versprei het die arme dame haarself nooit werklik voorberei nie. En dis hoekom sy die loop geneem het toe sy gewaar waarvoor sy getender het. Sy het die loop geneem en haar skoene net so gelos.

Voete het lank gesit en teem oor die een verlore liefde wat hy kon gehad het. En lank agterna uitgevra oor haar en probeer wyn koop om haar oor te haal, maar sy wou net nooit weer byt nie. Ek sou ook nie as ek sy was nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top