Bokomo-brekfisbrief; 07/02/2010: Stinkie in Madrid

  • 0

My laaste dag in Madrid het aangebreek en ons is al vroegoggend deur die hotelontvangs geskakel en aangejaag om uit te check. Aangesien my vlug eers 1:30am (Maandagoggend) na Suid-Afrika vertrek, het ek en my kollege besluit om maar die hele Sondag te gebruik om Madrid te verken. Ons pak toe maar die koue aan en besoek die talle asemrowende besienswaardighede wat die stad bied. Ons eet ontbyt by die Plaza Mayor, besoek die katedraal en verkyk ons aan die mense by puerta de sol.

Die Spanjaarde is besondere vriendelike mense, tot hulle met Engels gekonfronteer word. Dan is hulle geneig om paniekerig "No" te skreeu en weg te hardloop. Natuurlik verdwaal ons maar so in die vreemde stegies en daar is nie veel hulp beskikbaar nie. In die kafees groet jy gewoonlik met 'n baie vriendelike "Buenos días" en word dan vir die res van die tyd, gebombardeer met vriendelike frases in Spaans. Die Spanjaarde se lyftaal is manjifiek en jy kan verstaan wat hulle bedoel, al is die taal swaar op die oor en al klink dit meer soos 'n outomatiese masjiengeweer wat misgevuur het.

Ons eet 'n laat middagete by 'n deli-agtige plekkie en ek kry amper 'n oorval oor die onhigiëniese toestand. In Spanje is daar kastig rookwette, maar alle klein ondernemings kan blykbaar besluit of hulle 'n rook, of nie-rook-besigheid wil besit. Die deli was inderdaad 'n rokers-restaurant, maar uiters klein en bedompig, met jong aantreklike Spaanse meisies wat oor die toonbank leun en rook in alle rigtings blaas. Daar is nog boonop 'n hele paar baie jong kinders in die deli, wat my dadelik laat wonder het oor die effektiwiteit van hulle kamstige rookverbod. Die finale strooi was toe ek vir 'n ham (Jamon) toebroodjie vra, en ontdek dat 'n enorme stuk ham teen die dak hang, reg waar die spul meisies sit en rook! Dit is nou seker wat hulle gerookte ham noem! Ek besluit toe om maar eerder net 'n pakkie chips en 'n koffie te geniet.

So kom ons tydjie tot 'n einde en ons moet terugkeer na die hotel om ons bagasie te gaan haal. Ek sweet verskriklik, en smag na 'n warm stort. My kollega, wat reeds tien uur die aand na Londen vertrek is egter so haastig, aangesien sy (tipies vrou) vir ure lank by 'n straatmark vasgehaak het.

Die taxibestuurder praat natuurlik geen Engels nie, en laai ons by die hotel af. Ons vra hom om asseblief te wag sodat hy ons sommer lughawe toe kan neem. Ons klim uit en hy skreeu histeries. Natuurlik het hy gedink ons wil net gaan sonder om te betaal! Gelukkig kon die portier hom kalmeer.

My kollega moet afklim by 'n ander terminaal en ons groet. Die taxi drywer gesels dik stukke met my tot ons by my terminaal kom. Ek wens ek weet wat hy kwytgeraak het! Ek tip hom en gaan binne. Ongelukkig is die check in counters vir Johannesburg nog nie oop nie. Nou moet ek maar ronddrentel. Ek besef hoe ek seker moet ruik na die dag se sweet en soek deur my tas vir spuitgoed. Ek besef met 'n skok dat ek my hele toilet sakkie in die hotel agtergelaat het. Tipies!

Gelukkig is daar 'n apteek en ek begin om toiletware te soek. Ongelukkig is alles in Spaans. Die kassier is ook heeltemal uit die veld geslaan en ek probeer demonstreer wat ek wil hê. Dit slaag nie. Ek loop in die apteek rond en sien blikkies wat soos deodorant lyk. Ek haal maar die doppies af en spuit om seker te maak ek koop mansgoed. Eindelik kry ek iets wat nie te sleg ruik nie, koop dit en drentel badkamer toe om myself betaamlik te laat ruik. Ek spuit amper die hele ou botteltjie uit, en moet erken dat dit nogal lekker geruik het op daardie stadium. Ongelukkig kan ek nie die botteltjie in my handbagasie neem nie, so ek spuit toe sommer nog aan en pak dit weg in my tas.

Uiteindelik check ek in en beweeg na die sekuriteitsarea. 'n Knaap net voor my word voorgekeer. Die sekuriteitsmense pak sy hele handtas uit en ontdek 'n bottel haargel. Die hele ry staan stil en almal sug oor die oponthoud. Ek sug ook saam (in Spaans). Die idioot. Die sekuriteitsmense skel hom uit en smyt sy gel in die asblik.

Ek is volgende aan die beurt en skielik gee die man wat die scanner beman 'n histeriese gil in Spaans. Ander wagte kom aangehardloop en hy beduie opgewonde na my sak! Ek dui met handgebare aan dat dit wel my sak is. Hy wys na die skerm. Ek kyk op en sien iets wat presies soos 'n massiewe bom lyk. Gekoekte elektroniese drade (baie van hulle) wat om 'n swarterige metaalagtige boks gedraai is. Ek skrik my ook sommer lam, voor ek besef dat dit my IPOD, kamera en laptop kabels is wat op die een of ander vreemde wyse om my eksterne hardeskyf gedraai het. Die bom scare word gou uitgeklaar en ek is vort na die vertreksaal.

Op die vliegtuig begin ek myself te ruik. Die lekker reuk van die deodorant het effens suur begin raak. Ek slaap gou en vas, en land sonder verdere insidente by OR Tambo. Ek ruik myself egter. Dit is 'n suur-reuk wat ek nie sommer kan beskryf nie. By die huis gekom bad ek en slaap so rukkie.

Die aand kom vriende oor en ek vertel my verhaal. Die bottel spuitgoed staan op my sitkamertafel en my een vriend ruik daaraan. Dit is toe dat hy my meedeel dat die goed inderdaad gebruik word om op jou stink voete mee te sprei!

Groete,

FB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top