My oorlede ou moeder (1910-2001) het ’n hele aantal sêgoed gehad wat sy soms gebruik het. Daar was ook ’n versie wat ek darem nog min of meer onthou, wat sy seker op skool in Sub A (graad 1) geleer het. Dit is in Hollands, want in daardie jare was dit nog Nederlands of Engels op skool en dit gaan, sover ek onthou, soos volg:
Er waren twintig kikkertjes
al in een watersloot,
ze moes ze lesje leren,
wat ze waren al te groot.
Nou ja, my Hollands is maar karig, ek kan nie instaan vir die korrektheid van die aanhaling nie. Maar dit gaan oor twintig paddatjies in ’n watersloot wat hul lessie moes leer, want hulle was darem al taamlik groot.
Die kwessie van “les opsê” is ook te berde gebring as sy ons gedreig het wanneer ons stout was: "Julle sal les opsê!" Asof dit nou ’n baie moeilike ding is om jou lessie op te sê. En dit was en is nogal, soos toe ek so nege jaar oud was en elke Sondag die Sondagskool moes bywoon. Die hele Saterdag speel jy wild en vergeet skoon van die versie wat jy moet leer. Sondagoggend probeer jy dit dan in jou kop kry en konsentreer jy om dit daar te hou en hoop die “juffrou” vra jou eerste, voor jy dit vergeet. Want dis tog ’n groot skande om nie jou les te ken nie! Die ander kinders lag jou uit! Dieselfde later jare op skool as jy ’n gedig moes voordra wat julle gekry het om te leer.
Nou ja, so gaan dit maar dwarsdeur die lewe, daar is gedurig een of ander les wat jy moet opsê, of ’n eksamen om te skryf. Soos ook die lewensles wat jy leer, al die stampe en stote wat die lewe mens gee, al die swaarkry, met net hier en daar ’n ligpunt van ’n bietjie vreugde. Soos die les wat jy leer as jou geliefdes een vir een wegval, dat die lewe maar kort is en vol hartseer, en die les wat jy leer as jy self oud word en vol kwale en pyne begin raak. Dat jou eie lewe ook maar kort was en einde se kant toe staan. Maar hierdie les verstaan jy nie ... want waarom moet dit dan so wees?
Groete,
Tiens


