Bokomo-brekfisbrief; 07/01/09: Kingfisher. ’n Tjokkaboot. (Sink op 22 Desember 2008 tydens storm naby Oesterbaai)

  • 0

12 uit ’n bemanning van 19 nog vermis. Ons hoor die nuus vroegoggend. Heel oggend draai die helikopters oor die strand. Die wat nie weet nie, speel en baai op die strand. Ander sit op die duine en wag. ’n Paar, so hoor ons, het uitgeswem. Die ander ... Orals langs die strand, soos die storie loop, haal oewervissers hulle lyne uit die see.

Soos met meeste tragedies is daar vrae. Hoekom het die skipper nie gatskoon gemaak hawe toe nie. Dit terwyl hy moes geweet het daar’s ’n moerse storm op pad. Nog meer so waar hy ’n rou en onervare bemanning gehad het. ’n Paar dae opleiding en dan kyk so ’n storm jou in die oog! ’n Stormwaarskuwing het, sover ek weet, al vroeg uitgegaan. Ek het die ding sien kom van my stoep af. Dit broei toe al van die oggend af. Toe daai storm tref, dag ek die dak lig. Ander skuite wat ook in die omgewing gevang het, het uitgekom. Sy bemanning het nie eens kans gehad om hulle seebaadjies aan te trek nie. Ek het nog aan my seun oor een wat voor ons verby vaar, gesê: “Kyk daar boetie, daai skipper het al wat ’n perd in sy enjins is, ingespan. Hy het besluit seewater is nie teewater nie.”

siewate' issie tiewate' nie

(Kingfisher: 22 Desember 2008)

Ai my ma ek hoor jou as jy teen die wind
met jou dun stemmetjie myse naam roep
en jy snik en jy huil
want hierdie krismis mis jy jou kind

siewate' issie tiewate' nie

ek weet dis nat my ma, dis koud in hierdie donke'
wat in jouse hart in brand dis die wind my ma, die wind wat gil
en die mis en die wate's wat drýf my ma dit drýf
en dit bulder as dit vertel die sie het jou kind staat vat

siewate' issie tiewate' nie

die wind het vroegmiddag al begin-te huil en
begin-te ruk en begin-te pluk aan die boot
maar die skipper het gedink sy beduie van tjokka
en van krismisbonus en nog wat

siewate' issie tiewate' nie

wie sou ko' dink dat die skierlike plat bekruipwind
’n tjokkaboot so kon breek
sy het dan mos soveel waters al gevat en die see geterg, en getart
ennog altyd haar boeg bo die branders uitgevat

siewate' issie tiewate' nie

troos jou ma ons het nie ga staat en opgee nie
maar die mis het afgeval, af tot op die water
en ons toegevou in ’n waaiskuim snoeskombers
sodat niemand kon sien hoe ons om die lewe faait'ie

siewate' issie tiewate' nie

haai skuus toe vloek ons eers na die skipper toe
en dan na die watergod wat jou kind kom haal my ma
en gee ons terug dit wat ons wou vat
en ek stik aan daai eerste doodsluk in myse longe in

siewate' issie tiewate' nie

en as julle later vanweek oppie hawe staan
en onse name noem so een vir een
troos jou darrem myma, die drenke-linge van die wereld
is nooit een alleen op krismis nie

siewate' issie tiewate' nie

maar as iemand dan iewers hierso lees
en uitvra oor onse storie my ma, vertel hulle net
ons was van ’n vêr land net vissermanne
op die Kingfisher gewees

siewate' issie tiewate' nie

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top