Bokomo-brekfisbrief; 06/12/08: Dorp toe gaan

  • 0

 

 

Die briewe oor dorp toe gaan het baie aangename herinneringe by my laat herleef. Ek kan nie met die Suidwesters (Namibiërs) saamgesels nie, want die afstande wat ons gery het was veel korter.

Wat die belangrikste was, was die idee om dorp toe te gaan. Ek kan onthou as ons na die groot dorp (Vryheid) toe gery het, wat gewoonlik so een maal in drie maande was, het my pa gewoonlik ʼn langbroek en langmouhemp aangetrek en ook ʼn das aangesit. Sy sportbaadjie is ook saamgeneem. My ma het haarself ook mooi toegedraai in een van haar eie skeppings. Ek is geskrop en is in my "sailor" pakkie ingewurg. Die een paar skoene wat ek besit het, is skoongemaak en ek moes met die bleddie goed loop totdat ons terug is by die huis. Ons het gewoonlik douvoordag gery, want in die middag is daar were (Donderstorms. My ma het geglo dit kan enige tyd reën).

Ons het nie ʼn kar gehad nie en het met ʼn Peogeut-bakkie gery. Een van die swartes is gewoonlik saamgeneem en hy moes vir die ander werkers goed gaan koop en hekke oopmaak. Dit is nou behalwe die lys wat my ma gekry het. Die groot dorp was so 120km van die plaas af.

Die belangrikste persone wat gespreek gaan word is die Volkskasbestuurder, die prokureur en die koöperasie se streekbestuurder. Middagete is by die Griek (Johnny Katskalis) se "lounge" genuttig. My ma het gewoonlik na die grootste Joodse winkel in die dorp, Kopmans toe gegaan en haar materiaal gaan koop vir klere wat gemaak moes word. Ek kan onthou dat Kopmans nooit in sy bestaan ʼn uitverkoping of spesiale aanbieding gehad het nie.

Daardie jare was daar nie ʼn Pick & Pay of Checkers nie. Alle luukses is by plaaslike kruidenierswinkels gekoop, die res is op die plaas gekweek, geplant of geteel. ʼn Luukse vir my was gaskoeldrank en roomys. Ek kan onthou die eerste fliek wat ek in my lewe gesien het, was Lord oom Piet. Die suikermeule by Pongola het die enigste "bioskoop" in die omgewing gehad. Ons het nog 5 sent betaal om die fliek te sien en moes die rolle ook dan elke keer omgeruil word wanneer die een klaar was. Daar was net een projektor. Soos elke dorp of omgewing maar sy eie karakters gehad het, het ons ook persone in die omgewing gehad wat kleur tot die lewe verleen het.

Daar was ʼn omie wat ʼn groen Volksie gery het. Hy het gereeld die hotel op die naaste "dorp", Magudu wat op die Maguduberg was, besoek. Magudu het daardie jare bestaan uit ʼn kerk, ʼn polisiestasie, boeresaal, hotel en gemeenskapsbegraafplaas.

Tydens die besoeke het hy gewoonlik ʼn swarte saamgeneem om die ratte van die Volksie te verander. Hy trap net koppelaar en die man moet "gears change". Een oggend het die Volksie op sy sy in een van die kontoerwalle gele. Volgens stories het die swartman bestuur en die omie die ratte "gechange".

Dieselfde omie het sy vrou ook by verskeie geleenthede op die dorp Pongola "vergeet", en dan sing daardie plaaslyne om uit te vind wie kom dorp toe, want die tannie soek ʼn "lift" terug plaas toe. Die polisiemanne se grootste taak was om wildstelers aan te keer en so nou en dan veediefstalsake te ondersoek. Moorde en aanrandings was daar nie van sprake nie.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top