Bokomo-brekfisbrief; 06/11/08: Bom op Inhambane

  • 0

 

 

Na ʼn wonderlike vakansie in tropiese Mosambiek sit ons die middag op Inhambane se lughawe vir die enigste vliegtuig en wag. Dis warm en mens se asem bly so voor jou gesig hang en maak jou neus blink van die sweet.

Vir iemand wat nog nie die lughawe beleef het nie ... dis ʼn storie uit Afrika (met deernis gesê, sonder om neerhalend te wees). Die ou geboutjie bestaan uit een "saal" vir aankomste en vertrek ... plus minus so ses meter by ses. Vliegtuie wat daar land het gewoonlik nie meer as 20 passasiers nie, maar dit kan nogal opeenhoping veroorsaak as daar aangekom en vertrek moet word op dieselfde tyd. Wanneer jy nou klaar deur die doeane gevisenteer is (hulle grou deur mens se goed met wit handskoene aan op ʼn baie lendelam tafeltjie), dan is jy nou ingeboek en stap deur na die wagplek. Dis buitekant onder ʼn sinkdak wat kraak van die hitte en sulke lugspieëlings gooi wat enige "designer" donkerbril heeltemal buite aksie stel! Daar staan ʼn paar plastiekstoele en tafeltjies rond. Wee jou as jy bietjie swaar sit! Die stoelpote doen ʼn sywaartse split en jy sien jou g@t! ʼn Lae muurtjie met ʼn onbemande uitgang skei die passasiers van die vliegtuig, wat letterlik twee meter van die muur geparkeer is. ʼn Entjie verder is ʼn stoor met ʼn brandweerwa in. Hy lê duidelik op sy "rims" en sy voorruit lyk soos ʼn vroeë model Volla se agterruit - in die middel verdeel. Vir seker dateer hy uit die jare toet en ek wonder of hy eers aan die "brand" gestoot moet word, want daar is duidelik geen ander vorm van brandbestryding in sig nie!

Nietemin, ons sit so en wag en kyk hoe een ou al die tasse in die vliegtuig se romp laai. Skielik kom hy aangehardloop met ʼn tas, reguit na ons toe. Net die wit van sy oë is sigbaar en hy hyg na sy asem. Hoe hy geweet het dis ons tas, weet nugter alleen. Die tas vibreer soos ʼn Ferrari by ʼn Grand Prix-wegspringplek. By nadere ondersoek vind ons uit dit was manlief se elektriese tandeborsel wat op een of ander manier geaktiveer is. Ons het lekker gelag, maar die ou was min beïndruk. Ek dink hy het daardie aand seker vir sy familie vertel van die amperse bom op Inhambane!

Groetnis

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top