Bokomo-brekfisbrief; 06/10/2010: Boelie (L, P ernstig)

  • 0

Het hom maar so leer ken: Ou Boelie. Altyd op sy dikwiel op pad iewers heen. Die staat het hom mal verklaar maar hy was so normaal soos enigeen van ons ... Ra Mavenster het beduie dat Boelie doerie jare al die stelsel een voor was. Lank voor die nuwe spul geleer het om korrup te wees het hy homself net effens kens gehou en toe pensioen loop trek by mev Britz.

Kort en klein mannetjie met so 'n falsetto toon in sy stem. Het altyd so skuins gekyk as hy met jou praat, asof hy jou uit die hoek van sy oog kyk. Sommige het gesê hy het 'n oog wat dwaal, maar dit was net 'n aanwendsel glo ek. Want ou Kate sou sy ribbes afgeslaan het as hy na 'n ander vrou durf waag kyk het. Baie kinders in die wêreld gebring, almal by een vrou. Suksesvolle mense, meeste van hulle behalwe ******* wat 'n streep weg gehad het en nou iewers in die Paarl of iewers bandiet.

Boelie was tog, soos meeste van ons, lief vir sy dop en as die dop getrek het was hy, soos ons almal mos maar, almal se vriend. Ek onthou die dag wat hy dik gedrink by die hek kom roep het en knaend was. En daai twee swart honde rasend voor hom tekere gegaan het. En Boelie die hek oopgemaak het en ek met hom hospitaal toe moes jaag om sy gesig te loop herstel. Want 'n dobermann hou om een of ander vreemde rede nie van mense wat wil kom vra vir iets nie. Nie as jy raas-raas en met 'n drankasem wil inkom nie.

Maar so loop die jare mos soos 'n gedagte verby en Mossgas kom en die spul uitlanders kom in. Inkommers. Wat kom met groot geld en lus.

Laatnag hoor ons die benoude gille. Jy weet, die soort gil wat jy nie mag ignoreer nie. Want dit is jou naaste en kon netsowel jy gewees het. So jy loop kyk want dit kon jy gewees het. En Boelie staan, bebloed. En hy gil nie meer nie maar, ek wetie, meer iets soos huil, maar ook nie. Jy weet, daai magtelose wurg-in-die-keel snik of kreet. Boelie is nie met 'n mes gesteek of aangerand nie. Hy bloei onder.

Boelie het herstel maar Boelie was nooit weer dieselfde mens nie. Ra Mavenster was maar die predikant en sielkundige en biegvader vir baie broses en so het Boelie een aand laat uitgekom met wat sy lewe verwoes het:

Hy het maar met sy ou dikwiel gekom om te kom staan en gesels en 'n pak suiker of iets op die boek te kom haal. En vir ure met Mavenster gestaan en praat. Want hulle het die ou dae en jongtyd in gemeen gehad. En so op pad terug na ou Kate en die kroos toe het die spul vir hom gewag ...

Mavenster kon nooit uitpraat oor wat Boelie vir hom vertel het daai aand nie, maar het genoeg details gegee hier kort voor sy dood om mens na wraak en moord te neig: Verskeie manne is deur Boelie daardie aand. Sinneloos, wreedaardig verkrag.

Ek onthou nou nog die aand wat Ra Mavenster vir my vertel het van die pyn wat Boelie deur is. Ek onthou dit nie soseer oor die daad nie. Ek onthou dit oor daardie kyk in die ou man se oë toe hy dit oorvertel het: Naakte haat. Hy het kort voor sy dood nog gepraat oor een van die min dinge waaroor hy spyt is: Dat hy nie Boelie se verkragters ooit in lewende lywe kon teëkom nie. Ek vir een wens hy kon ...

Mag mens haat? Ek glo dat mens wel verkragters moet haat. En die wat wel uitgevang word moet boet vir hulle wat vanaand dalk om 'n tafel sit en bier drink in 'n tavern en smaal oor daai aand toe hulle 'n ou man se lewe verwoes het. Mag die onderskeie gode nooit dat ons paadjies ooit kruis nie, want nie eens president Zuma sal hulle kan red nie.

Na Boelie se dood het John maar die huis platgestoot. Sewe Bloekombome en 'n spilpunt is al getuienis dat hy ooit hier was. Oorkant die pad is nou een van ons Wonderland se top restaurante, as stil getuienis van die tragedie wat nooit oorvertel moes word nie. En ons. Terwyl ons nog hier is om sy storie te vertel ... en dalk eendag die ou beginsel te laat geld: Never get mad. Get even.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top