Bokomo-brekfisbrief; 06/10/09: Terug die verlede in

  • 0

Ek wou so 'n maand gelede my ervaring met jul deel en jul ook oorval het met foto's wat ek geneem het van my oorle Oupa se plaas daar tussen Cathcart en Queenstown wat ek nou na byna 38 jaar vir die eerste keer weer besoek het. Ek was laas daar in 1972, in 1973 toe hy oorlede is, was ons net vir die begrafnis op Queenstown. Gedurende dieselfde tydperk het die destydse regering die plase in daardie omgewing uitgekoop en dit het deel geword van die voormalige Ciskei gebied, en afgesien daarvan dat ek as Transvaler geografies ver weg was, het dit van toe af heeltemal buite perke gevoel.

En ek besluit anderdag daarteen om die foto's te plaas, dit sou te veel ruimte in beslag neem en wie wil nou my foto's sien, dis soos om die familievakansie-album ongevraagd in almal wie kom kuier se kele af te druk. So hier is nou darem net een foto.

Die pad vanuit Cathcart na die plaas loop naby die spoorwegstasie op die dorp verby, en die stasie doem voor my op toe ek die pad vanuit die dorp plaas toe soek. Ek het herinneringe daaraan waar ek saam met my Oupa inry dorp toe en hy die roomkanne op die stasie afgee waar dit in 'n koelkamer gestoor word alvorens dit per trein na Queenstown geneem word. Ek stop op die stasie, die perron is stil en verlate, die spoorweggebou leeg en vervalle. Dis hoe dit langs ons hoofpaaie lyk maar het ek het dit nie in 'n dorp verwag nie. Die vervallenheid gee my die eerste gevoel vir wat seker op my wag as ek op die plaas gaan aankom. Ek het opgesien om die bykans 40 kilometer grondpad vanaf Cathcart plaas toe te ry, my herinneringe daaraan is hoe ek dikwels karsiek geword het toe ek jonk was en die tog oor van die bergpasse was stresvol in die ou motors waarmee my Pa destyds gery het. Ek is verbaas oor hoe kort en maklik dieselfde roete nou is om te ry. Bekende bakens langs die pad is nog sigbaar, maar die passe is nie meer vreesaanjaend soos destyds nie, dis het nou bulte geword wat jy vinniger uitry as destyds.

By die een buurplaas is net die ruïnes oor van wat voorheen 'n spoghuis was, die plaashek staan nog maar die grensdrade is weg. Ek was dus aangenaam verras en baie verbaas toe ek by die plaas aankom, die naambord op die plaashek pryk steeds, ek vind die plaashuis nog in een stuk alhoewel dit net 'n leë dop is, alle kaste en toebehore in die spens, kombuis en badkamer is uitgebreek. Die 4 groot wateropgaartenks wat elk op 'n hoek van die plaashuis gestaan het is vanaf hul oorspronklike posisies verwyder, hul lê daar op die werf.

Ek het omtrent al my skoolvakansies hier deurgebring, die plaas deurkruis met kettie, .22 en later .303 geweer namate ek ouer geword het, saans in kerslig die boeke gelees wat bo-op die solder gelê het wat uit my oorle Ma en haar broers en suster se skooldae afkomstig was: PJ Schoeman - Fanie se veldskooldae, Mikro, Sangiro - Uit oerwoud en vlaktes, en vele romans storieboeke uit daardie jare.

Om daar in die huis in te loop waar mense geleef het en die groot voorhuis met sy swartgebrande kaggel te aanskou waar ons in die wintermaande voor gesit het, terwyl ons na Afrikaanse radioverhale luister, was iets besonders, na al die jare voel dit onwerklik. Ek staan nou alleen in die groot leë vertrek, die lang eetkamertafel wat seker 20 mense kon akkommodeer en alles wat in die vertrek was, is weg. Aan een van die houtbalke van die houtplafon is die hak nog ingeskroef waaraan die gaslamp gehang het. Dit voel ongelooflik om na al die jare weer daar te staan, soveel het verander, maar soveel herinneringe en tekens van die verlede is nog sigbaar. Dit was omtrent 'n trip down memory lane. Met elke aspek wat ek sien, is dit asof dit 'n sigbare verligting en bevestiging is dat ek wel voorheen hier was, ek het nie gedroom nie. Emosioneel, depressing. Dit voel soos 'n regte Sondagmiddag op die plaas wanneer almal vir 'n uur na middagete gaan slaap, dis grafstil.

Buite loop ek vir Samuel raak, een van die oorspronklike arbeiders van destyds se seun. Hy staan op een van die ou foto's langs my staan. Ons het mekaar nie herken nie. Hy bly, soos andere wie ek nie ken nie, nog op die plaas. Ons ruil stories en herinneringe uit, omtrent al die name wat oor ons lippe rol, is reeds oorlede.

Die dam is leeg, die toevoervoor wat van onderkant die berge af, bokant die huis verbyloop dam toe, het deur die jare toegewaai, die vrugteboord en lusernland onderkant die dam bestaan nie meer nie, die windpomp is 'n geraamte wat alleen daar in die tuin staan, al teken wat oor is van die buitegeboue en sommige waenhuise is hul fondasies, die landerye lê leeg en onbewerk na al die jare. Daar is nie bulkende beeste wat soggens kraal toe loop om gemelk te word nie, die klipkraalmuur is gedeeltelik afgebreek. Een foto van destyds toon my en my susters en van die plaasarbeiders by die ossewa by die waenhuis, nou staan ek en Samuel alleen op die nuwe foto voor die murasie van die waenhuis. 'n Paar skape en bokke wei op die werf rond.

Ek het familie- en ander foto's wat van voor my tyd af, geneem is op verskeie plekke om die plaashuis en van die plaas, en ek het tydens hierdie besoek foto's uit dieselfde hoeke afgeneem. Dit voel vreemd, bykans al die mense op die ou foto's is oorlede, die wat jonk was, is nou middeljarig. Op een foto sit ek as 'n een-jarige voor op die kombuisstoep en strek my hand uit na 'n kat, op vandag se foto sit ek alleen daar. Op 'n ander foto het my oorle Ma vir my en my neef afgeneem waar ons in sinkbaddens op die plaasdam geroei het, nou sit ek hurkende op die droë modderkoeke op die bodem van die dam.

Ek sou ook graag by die plaashuis verby die pad wou volg wat lei na die mielielande om die berg, na die waterval in die Sophiarivier, waar familiename van voor my geboorte reeds in die rotse uitgekerf is, dit was 'n lekker piekniekplek. Maar die tyd het uitgehardloop.

Toe ek ry, kyk ek vanaf die berg terug na die plaashuis, waar my Ouma met haar sakdoek altyd voor die deur gestaan en waai het en my Ma hier voor in die kar gesit en huil en teruggewaai het, totdat ons in die stofwolk oor die rant verdwyn het. Nou is die plaaswerf stil en verlate.

En noudat die emosies van hierdie besoek effe vervaag het en ek die rooi stof van die plaaspad van die motor afgewas het, dink ek aan wat ek daar gevind het. Waar my Oupa-hulle daardie jare met destyds se oudmodiese tegnologie die plaas opgebou en instandgehou het, landerye bewerk het, hang daar nou 'n stilte oor alles. Daar bly nou 'n klomp hutbewoners vir wie die Staat, nes vir die res van hulle in die omgewing, drinkwater vanaf Queenstown se omgewing aanry. Niemand skraap die toevoervoor na die dam skoon nie, niemand bewerk die lande nie, en hul ontvang pensioene van die Staat en sit maar daar rond om hul pappotte en vure. Dis wat oor is van die familieplaas, waar daar lewe en selfversorging was.

Pieter

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top