Bokomo-brekfisbrief; 06/10/08: Waansin, egoïsme en mode

  • 0

 

Môre Melt

 

Ek wil nie graag 'n lang, vervelige monoloog oor waansin en bipolêre versteurings voer nie. Daar is nou reeds genoeg daaroor gesê. Ek dink wel dat verskeie uitlatings oor hierdie versteuring en die gemeenskap, die pot totaal missit.

Ek wil eerstens graag kommentaar lewer oor die stelling dat die bipolêre lyer meestal egoïsties optree. Hier moet ons baie versigtig trap ... ons loop op 'n baie dun stukkie glas. Daar is (en ek weet ek gaan oor die stelling gestenig word, but so be it) mense, veral would-be kunstenaars, would-love-to-be alternatives, would-love to be weird karakters, vir wie 'n versteuring soos dié amper 'n soort mode of statussimbool geword het. Is dit tog nie vleiend om jou eie kreatiwiteit met dié van Beethoven, Branson en Einstein te vergelyk nie? Om nie van die intellek te praat nie.

Die lyer van hierdie versteuring leef in maalkolke ... elke dag - selfs MET medikasie. Medikasie verhoed net die persoon om nie homself of die ander om hom leed aan te doen nie. Hy moet DAAGLIKS sy eie beheer oor sy versteuring hanteer. Met behulp van goeie psigoterapie kan die lewensvaardighede aangeleer word om redelik "normaal" in die samelewing aan te pas (kyk, ek lyk nou nes die trop - Amanda Strydom). Maar soos ek sê, dis 'n daaglikse stryd ... amper soos alkoholisme. Daarom die persepsie dat die bipolêre lyer selfsugtig voorkom. Hy leef meestal totaal alleen met sy innerlike self en kan met niemand praat oor die ewige dialoog tussen homself en hierdie bol waansinnige energie binne hom nie. Niemand verstaan RêRIG nie. Dis maklik om te oordeel. Staan self daar ... dis hel. Dan praat ons ook nie van mediese onkostes nie.

Die bipolêre lyer se persepsie van normaal is totaal anders as die norm - nie opsetlik of aangeleer nie! Vandaar die stelling dat hul meer kreatief is. Hul sien blatant net die wêreld anders, aanvaar dit as normaal, en reageer daarop met 'n passie. Die norm sien dan hierdie gedrag as "mal". Jy sien, dis net omdat hul alles so INTENS ervaar. Hulle doen absoluut alles met 'n passie wat permanent soos 'n vuur in hul wese onblusbaar brand.

Dit kos ook 'n BAIE spesiale tipe persoon om saam met die bipolêre lyer in 'n verhouding te staan. Om die verhouding suksesvol te maak, moet die lyer en sy wederhelf die siekte en die simptome verstaan ... oi, dis moeilik. Dit laat hierdie lyers TELKENS weereens alleen.

Laastens keer ek terug na egoïsme met 'n vinnige voorbeeld.

Ek ken 'n onderwyser. Sy het vir twee jaar MBChB geswot. Daarna 'n graad in Drama in Toneel gedoen, ge-cum laude, 'n graad in onderwys gedoen, ge-cum laude en is vandag 'n hoog suksesvolle onderwyser wat al drie keer pryse vir top onderwyser in die distrik ontvang het. Sy het twee eenbedrywe geskryf waarvoor sy afsonderlik pryse ontvang het vir beste nuwe Suid-Afrikaanse teks. Sy het haarself verder gekwalifiseer in WISKUNDE, BIOLOGIE en NATUUR EN SKEIKUNDE en is vandag die enigste onderwyser wat sover 'n 100% slaagsyfer vir wiskunde in die nuwe kurrikulum in die distrik kon handhaaf. Sy het twee nuwe eisteddfods in Johannesburg gestig. Sy het gehelp om 'n privaatskool te stig. Sy doen tans dwelm-bewusmakingsveldtogte onder die jeug - tussendeur die afrigting van skaak, drama en klasgee in wiskunde en biologie. (Hierdie dinge is nie al nie).

Sy was al drie keer in 'n psigiatriese hospitaal, het vier psigiaters gehad en ses psigoterapeute.

Sy is bipolêr. Sy verkondig dit nie. Sy spandeer 80% van haar lewe aan diens aan ANDER mense ... omdat sy met 'n indringende passie glo in wat sy doen.

Sy verkondig nie haar toestand nie, sy leef dit.

Ek weet. Ek is daardie persoon. Dis 'n lang pad met jouself. Luister na Amanda Strydom se "Ek loop die pad":

Insanity is just you and me ... Amplified - dis bipolêr.

Groetnis

Yerma

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top