Bokomo-brekfisbrief; 06/08/08: Stellenbosch wynfees – uncut!

  • 0

Saterdagmiddag, hier kort voor die eerste afskop, skimp ek vir ʼn glasie wyn.

Fout nommer een. Moes eerder maar my alie self gelig het.

“Eks nou net mooi moeg vir jou flippen nineteen-rênd-ninety-nine specials! Ons gaan Stellenbosch Wynfees toe!”

Haar lyftaal oorreed my dat duck ʼn dive niks gaan help nie en ek reik brommend na my karsleutels.

Daar gekom, oorreed ons die Spar-eienaar in sy parkeerarea dat ons net gou ’n Coke wil koop. Toe hy omdraai na die volgende ‘chancer’, sluip ons by hom verby die Paul Roos-gronde in.

Ek maak seker dat ek kapitaliseer op die geproeëry. Bottels goedkoper as vyftig rand word summier geïgnoreer.

Toe ek voel dat ek min of meer my kwota bereik het (het per slot van rekening meer as honderd Rand ingang betaal!), toe besluit ek dis nou genoeg.

Ek posisioneer myself so half agter ’n rangskikking (’n aaklige blaarlose affêre wat uit ’n vierkantige pot peul), spits my ore en luister.

En dit is van die goeters wat ek gehoor het op die 2008 Stellenbosch Wynfees:

Meisie-student aan meisiestudent: “Here, daai bliksem het sowaar aspris sy %&**# hier teen my geskuur. Hy het ’n m....rse horing gehad, vertel ek jou nou.”
Antwoord (half-verlangend dalk?): “E ... e ... wie? ... waar? Kom, kom’s konfronteer hom!”

Anner meisiestudent aan anner een: “Maar gaan jy haar vertel of nie? Sy sal tog eendag uitvind!”
Die reaksie: “Ag, vergeet dit nou. Dis worries vir later. Kom ons probeer die ... Zevenwacht. En dan die Durbanville Hills ... en ...”

Kort koketterige meisie (student) aan haar vriendin: “Hierie f...kn foon van my is bef..k. Hy het heeldag nog niks gelui nie.”
Reaksie: “Issiiitt? Is hy aangeskakel?”
Kort pouse: “O fok, ja-nee.”

Ouerige knaap met yl hare wat lyk of dit dalk een of ander tyd ’n peroxide-dosis ingehad het: “Ek dink ek het nou genoeg van hierie k..k gehad. Kôs ga-huistoe.”
Skril antwoord: “Seblief, my ou man, die partie begin nou eers. Ons ... ons is hier om onsself te geniet ... Kalmeer.”
Stilte.
Dan: “Geniet se gat, man. Kyk net al die bliksemse studente. Hulle neem oor. Nes die ... blerrie Zimbabwiërs!”
Antwoord: ”F... jou. As jy wil, ga-huistoe ... ga-f...n huistoe jouself.” (gedeeltelik gesensor)

Vrou aan haar dogter (dink ek, want hulle het albei dieselfde trek ommie mond): “Haai Doria,” (of dalk Gloria) “hoe kan jy so van hom praat? Hy gee jou dan ’n huis ... e ... e ... ’n dak oor jou kop?”

Verbitterde antwoord: “Dak? Dak se gat, Ma. Al wat hy aan dink is sy f…kn werk. Ek sê Ma nou; na hierdie einde se dag gaat ek hom los. Dak en als. Dan kan hy maar in ......” Ek spits my ore tot dit pyn, maar kon nie hoor wat die arme drommel se lot sou wees nie.

Nog ’n meisiestudent aan haar vriendin: “.... en toe verwag hy dat ek die gemors moet skoonmaak. Verbeel jou!”
Reaksie: “En? Het jy toe?”

Antwoord ... (kon nie hoor nie; hulle was buite my gehoor-radius.)

Later besoek ek die toilet. Daar was slegs drie ouens in die mans-queue teenoor die sowat dertig aan die vrouekant.

My kommentaar aan die outjie voor my in die ry: “Is jy nie bly in tye soos nou dat jy ’n man is nie?”
Sy antwoord: “Ja-nee fok, Oom” terwyl hy vermakerig rondkyk. “Mens sou eerder langs hulle wou queue as tussen hulle:
’Arme doos,’ dink ek, maar laat dit maar daar.

Toe ek eers binne is en saam met die ander vir die porseleinbak mik, pla my gewete so dat ek besluit om iets aan hierdie ‘unfairness to mankind’ te doen.

By ons kant was twee urinals en een sitterasie. Ek wag tot die sitterasie leeg is, beset dit deur vierkantig voor die deur te gaan staan en lewer my uitspraak.
“Manne,” sê ek in my grofste stem, “roep twee dames op ʼn keer wat ernstig innie nood is … en julle bliksems moenie ... e … e … vertoon nie.”

Een of twee van die ouens het my eers vraend aangekyk tot die moontlikheid van opportunity tot hul deurdring. Toe swerm dit soos hulle die ry af bemark.

Nodeloos om te noem dat daar heelwat dankbare dames was wat die aanbod aanvaar het. Moet sê, vir half-dronk orige studente het die manlike geslag hulle nogal gedra!

Hier volg ʼn paar opmerkings wat geslinger is tussen die ge-swingelary/gesittery:

“Hallo, Mamma, come look at Dadda!”
“Do you need some help in there?”
“Onthou om te skud voor julle wegpak, hoor!”
“Hier mag jy nie sit en pie nie.”

Later veg ek my pad tussen die massas terug na my uitkyk en … die Jackpot!

Vrou aan vreemde man (so dertig-plus sou ek sê) wat ʼn ent weg alleen staan: “Kan ek help? Jy lyk so ... verdwaald? Wag jy vir iemand?”

Man (half ontwykend met ’n ietwat bekommerde pitch in sy stem): “Nee, ek is OK. Ek … ek wag net … vir my vrou!”
“Jou vrou?” antwoord sy bietjie harder as wat nodig is en pluk ongemerk aan haar vriendin se mou.
“Jy wag verniet, my ou. Is dit so ʼn langerige girlie met ʼn wit toppie en swart romp?”
Sonder om te wag op ’n antwoord gaan sy voort: “Jy gaan nog fokken lank wag, my tjom. Sy is daarbinne besig om … om ʼn ander ou se voël te vryf!”

Ek het omgedraai en uitgestap.

Stellenbosch se 2008 Wynfees wil ek nie lank onthou nie.

Hannes Steyn
Stellenbosch

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top