Bokomo-brekfisbrief; 06/07/2010: Liefdes, Karin

  • 0

Eish, jy maak lat 'n mens nou weer terugverlang. Ver terug.

Elsabe. Tot vandag naas my dogter die mooiste, mooiste mens wat ooit hierdie aarde bewandel het. Wel, ek raak dikwels deurmekaar met die mooigeit maar haar mooi was iets besonders. Ons was op pad Nelspruit toe hoeka om te gaan kamp. Ons vervoer was agter op die manne van Duiwelskloof se lorrie. Toegemaak met 'n seil.

Nou moet jy jouself voorstel: Voor die inklimslag eye jy mos die dametjies en jy weeg hulle so met die oog. En dan maak jy seker dat jy langs haar gaan wees, want dis 'n hele paar ure Nelspruit toe. En dis boonop donker ... Tuismaak was 'n vreemde besigheid, want jy kry jou sit op die slaapsak al teen die bak om. Later, as die slaapsakke oopgerol word dan lê die ouens teenoor jou mos soort van voete na mekaar toe.

Sy het bly wegkyk as ek haar oge wou probeer vasmaak. Maar later deur Pretoria se strate het ons tog soort van begin gesels. Jy weet mos: Oor Twisted Sister en A-Ha (weird hoe vrouens so erg oor daai twee mannetjies was) en Boy George en Modern Talking (!!!!!) (Jip, meeste dames vandag wonder oor daai ene). Sy kon nie insien hoe enigiemand dink Ozzie is cool nie of dat Meatloaf werklik 'n persoon is nie. Glo te veel geraas. En so is met jongmens argumente tog 'n aanknopingspunt bereik.

Later toe die lekkergoed opgeëet was en die Coke begin lou word (Die dumpies het mos destyds met sulke dun polistireen om uitgekom-sulke vet bottels) is die slaapsakke oopgerol en die oorfone opgesit. Dit is die dae toe jy nog jou songs oor en weer oorge"tape" het. Die meeste het mos maar David Gresham se top 20 afge"tape" het. Og, die songs! “Buffalo Soldier” was hoeka een van my gunstelinge: "... Stolen from Africa ... brought to the mainland ..." Of so iets. Eish, eish eish ...

Ek onthou ek het myself tuisgemaak maar sy en haar sussie was diep in gesprek. En dis toe dat ek maar hand uitsteek en saggies aan haar enkels gevat het. Sy het nie hand weggeklap nie maar hand gevat ...

Daai ses dae kamp se oomblikke is elke liewe een in my kop ingebrand. Dit is mos die tyd van lang fluistergesprekke en soos jy beduie stil wegglip om die veld te verken. Mooi beloftes belowe en diep in die oë kyk en daai ontdek-soene. Vreemd hoe mens nou soveel meer ken en weet en steeds nie die magic van daardie eerste innigheid kan laat herleef nie?

Wat het geword van daai brief wat jy elke liewe dag self gaan pos het(Sy was in Brits en ekke ver daarvandaan) en die moedeloosheid as jy nie 'n brief kry nie? Altyd in 'n pienk koevert. Die brief geskryf met baie soene tussen die passiereëls en hartjies en goed bespuit met haar blikkies "spray".

En die gedigte! Soos hierdie:

Excalibur
Vir E

So sterk soos yster gesmee
deur Meestersmede
Gloeiend gepluk uit growwit Kole
en gebuig, gevorm, gebou met
Rollend spier op aambeeld het
ontvou die eindproduk

Dan sal my swaard ook tog
Nie sterflik wees
Nie tweesnydend wonkel nie
Maar flitsend vlym ook
Jou hart deurboor om te
Wreek my reeds gevalle siel

Wanneer twee lemme kruis eendag
Mag die vonk wat afspat, groei
tot iets wat miskien tog
nog 'n Groter swaard sal smee.

Ja, waar is die dae van vry onder die waterval? Die kaalgatswem in die ghwarrie doer by Wagpos? Die vonkelwyn skelm gekoop en die glase wat nou nog diep in die donker water le as getuienis van diepe passie?

Eerste liefde. Dis die een wat op jou oudag die verste en diepste laat verlang.

Dankie. En groete uit Oesterland,

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top