Bokomo-brekfisbrief; 06/07/09: 'n Eienaardige versoek

  • 0

Toe ek verlede week 'n paar goedjies by ons naaste "Gryp & Betaal" moes gaan kry, kom 'n vrou in die parkeerarea na my aangestap. In haar hand hou sy 'n klein blou kartondosie vas. Toe vertel sy dat sy nie geld soek nie, maar sy sal die inhoud van die dosie vir my gee as ek vir haar 'n buisie tandepasta koop.

Liewe hemel, dink ek, dis waaragtig die eerste keer dat "een van hulle" tandepasta vra! Die vrou maak die boksie versigtig oop en binne-in is twee klein stukkies spieëls aanmekaar vasgegom, met 'n regopstaande glasblommetjie, sodat jy die weerkaatsing daarvan in die spieëltjie kan sien.

Wat maak 'n mens nou daarmee in 'n huis reeds oorvol ornamente en opgegaarde goeters wat jy nie wil weggooi nie?

"Nee dankie," sê ek vir haar, "jammer, maar ons het dit regtig nie nodig nie."

"Asseblief, mevrou, ek probeer my tande in 'n goeie toestand hou, dis ál wat ek oor het," sê sy verleë.

Ek ignoreer dit en doen die inkopies met 'n gewete wat al meer begin knaag. Wat is 'n ou buisie tandepasta nou tussen vreemdelinge?

Terug in die parkeerterrein staan sy steeds daar. Ek oorhandig die tandepasta en sy gee my die blou boksie. Sy is so bly oor haar deel van die onderhandeling, dat sy my sommer vasdruk ... en die versekering gee dat sy net arm is, maar darem nie "deal" nie.

Vanoggend kom ons char met haar sesjarige dogtertjie hier aan. Dié bou legkaarte terwyl haar mamma die werk doen.

Ek gee vir klein Lorna die blou dosie. Die verwondering en blydskap oor hierdie geskenk straal uit haar gevreetjie.

En skielik kry ek skaam en ek wens dat die vrou van die parkeerterrein kon sien hoe haar goedkoop glasblommetjie tóg vir iemand iets beteken het.

Ellen B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top